Friday, August 19, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


WP sit sy oorheersing die afgelope dekade op die Cravenweek in Kaapstad voort

By Hannes Nienaber , in News , at 9 July 2022

KAAPSTAD. – Die Westelike Provinsie het sy oorheersing die afgelope dekade op die Cravenweek vir hoërskole Saterdag op die hoofveld van Rondebosch Boys’ High voortgesit.

Die Streeptruie het die Blou Bulle met 29-21 in die hoofwedstryd op die Tinkie Heyns-veld verslaan. Dit was die WP se sesde verskyning uit die afgelope dekade se agt hoofwedstryd en hy was elke keer aan die wenkant.

Die tuisspan het rustyd ‘n voorsprong van 14-7 geniet en vir die grootste deel in beheer van sake gelyk. Die Ligbloues het gesukkel om voorlangs genoeg gehalte balbesit te verseker asook die WP onder druk hier te plaas.

Die Suid-Afrikaanse Skole-haker, Luca Bakkes, het twee van die Streeptruie se drieë vanaf rolmaalbewegings gedruk. Bakkes se pa, Luther Bakkes, het ook in 1989 die SA Skole-span vanuit Diamantveld en Griekwas gehaal. Bakkes senior het natuurlik ook in sy loopbaan die Poubloues en Blou Bulle op seniorvlak verteenwoordig.

Toe die Streeptruie se regtervleuel, Luke Graham, ‘n aangee onderskep het om te gaan druk was die skrif aan die muur. Die twee spanne het sedert 1964 nog net vier keer in die hoofstryd ontmoet met albei spanne wat nou elk twee keer aan die wenkant was.

Die Bulle se SA Skole-skakelpaar, Steven Nel en Stehan Heymans, kon nie soos in hul vorige wedstryde spel met soveel gemak dikteer nie. Heymans het ook sy enigte stelskop van die toernooi in die wedstryd verbrou. Albei sal egter baie tevrede met hul vertonings tydens die week voel.

Hul direkte teenstanders, Emrique Liedeman en Thurlon Williams, het op hul beurt weer sake uitstekend gedikteer wat hul span deurentyd op die voorvoet gehou het.

Die Ligbloues se beste speler op die dag was sy kantman Abrie van der Westhuizen wat WP deurgans fisiek aangevat het en ook ‘n paar goeie lopies met die bal onder die arm ingekry het. Hy is boonop vir sy vertoning as Speler van die Wedstryd aangewys.

Die Vrystaat het ondanks die feit dat hy vanjaar die meeste spelers in die SA Skole-span het, sy derde nederlaag van die toernooi teen die Westelike Provinsie XV-tal op die lyf geloop.

Die WP se naasbestes was met 40-36 in die kragmeting baas. Dit is die eerste keer sedert 2005 se Cravenweek in Bloemfontein wat die Vrystaters nie daarin kon slaag om in ‘n enkele wedstryd aan die wenkant te wees nie.

Die Vrystaat se aanslag vir sy eerste sege is vroeg in die wedstryd ‘n knou toegedien toe die flank Jean-Henri Smit na slegs 34 sekondes se spel met ‘n rooikaart van die veld gejaag is. Die span se binnesenter, Alec McIntyre, het ook met ongeveer minuut se spel oor ‘n rooikaart ontvang na ‘n onderonsie.

Die Vrystaatse losskakel, Bradley Giddy, het nie net sy skopskoene aangehad nie, maar waarskynlik sy beste vertoning vanjaar op ‘n rugbyveld opgedis. Hy het die Vrystaters in die kragmeting gehou.

Al vyf die Vrystaatse SA Skole-spelers is leerders van Grey-kollege wat beteken dat die skool ook vanjaar die meeste spelers in die uitsoekspan het.

Dié rede hoekom die twee nasionale skolespanne vanjaar so vroeg bekend gemaak het, is omdat die spelers in die Moederstad sal agterbly om op Saterdag, 16 Julie teen mekaar kragte te meet.

Die twee nasionale skolespanne sal ook in Augustus  op die 19de, 23ste en 27ste in ‘n internasionale reeks sake teen onderskeidelik Engeland en Frankryk uitspook.

Volgens die SA Skole-keurders moet Hilton College ook vanjaar onder die voorste drie skolespanne in Suid-Afrika tel. Hilton het met drie spelers saam met die Hoër Jongenskool Paarl die tweede grootse verteenwoordiging in die SA Skole-span.

Die Pumas sal met reg wonder van wanneer af hulle die stiefkind van die Cravenweek geword het. Hulle het daarin geslaag om op die laaste dag die toernooi onoorwonne af te sluit deur Griekwas met 47-12 ‘n drag slae toe te dien.

Hulle moes die sege in die eerste wedstryd van die dag op die B-veld behaal. Boonop was nie enige van hul spelers goed genoeg geag vir insluiting vir een van die twee nasionale skolespanne nie. Sy buitesenter, Grant de Jager, het die toernooi as die voorste driedrukker met vier drieë afgesluit.

Die span se heelagter, Philasande Ntshapela, is waarskynlik saam met Grens se flank Tiaan Jacobs die twee spelers wat die ongelukkigste kan voel dat hulle nie ‘n plek in een van die twee spanne verdien het nie.

Die Oostelike Provinsie se losskakel, Logan Muller, het danksy sy 21 punte op die laaste dag in sy span se oorwinning van 66-17 oor die Limpopo Blou Bulle die toernooi as die voorste puntemaker met 43 punte afgesluit.

Puntemakers: 

Westelike Provinsie 29 (14) – Drieë: Luca Bakkes (2), Gareth Blackmore, Luke Graham. Doelskoppe: Thurlon Williams (3). Strafdoel: Williams. Blou Bulle 21 (7) – Drieë: Abrie van der Westhuizen, Liam Dick, Luyolo Doyi. Doelskoppe: Stehan Heymans (2), Tireque Apolles.

KwaZulu-Natal 20 (15) – Drieë: Ethan Bester, Deano Boezak, Dwight Pietersen. Doelskop: AJ Knoete. Strafdoel: Knoetze. Suidwestelike Distrikte 13 (8) – Drieë: Camden-Jay Schoeman, Ramon Uys. Strafdoel: JT Strydom.

Goue Leeus 31 (17) – Drieë: Joel Leotlela (2), Ceano Everson, Sifiso Magwaza. Doelskoppe: Tyler Sefoor (4). Strafdoel: Sefoor. Grens 23 (13) – Drieë: Dewan du Preez (2). Doelskop: Lesego Botha. Strafdoele: Botha (3).

Westelike Provinsie XV 40 (26) – Drieë: Gino Cupido (2), Sampie Joubert (2), Jandre Genis,  Joe Bezuidenhout. Doelskoppe: Genis (3), Christoff de Bruyn (2). Vrystaat 36 (14) – Drieë: Nick Greyling (2), JF van Heerden, Benito Goeda, Casper Badenhorst. Doelskop: Bradley Giddy (4). Strafdoel: Giddy.

Pumas 47 (28) – Drieë: Njabulo Shabangu (2), Grant de Jager (2), Francois Odendaal, Philasande Ntshapela. Doelskoppe: Hardus Visser (4), Danny van Staden (2). Griekwas 12 (5) – Drieë: AJ Wiese, Juan Agenbag. Doelskop: Eldridge Jack.

Oostelike Provinsie 66 (35) – Drieë: Burrie van Heerden (2), Batho Hlekani (2), Max du Pisani, MC Kruger, Logan Muller, Luvuyo Nkomphela, Liselihle Maphekula, Mtika Oliphant. Doelskoppe: Logan Muller (8). Limpopo Blou Bulle 17 (7) – Drieë: Johan van den Heever, Joy Ngobeni, Letlotlo Mohala. Doelskop: Tristan Brits.

Griffons 48 (24) – Drieë: Oupa Appollis, Tiaan Naude, Connie Timmie, Jayleigh Arends, Ayanda Silwanyana, Arnu Muler, Curt Smith. Doelskoppe: Ruben Kruger (2), Nalie Kiewiet (2). Valke 17 (0) – Drieë: Christopher Swart, Morne Johnson, Oregopotse Shilubane. Doelskop: Jaydon Bantom.

Boland 21 (10) – Drieë: Jeandre Overmeyer, Jovawn Visagie. Doelskop: Jayden Fortuin. Strafdoele: Fortuin (3). Luiperds 14 (7) – Drieë: Kraynu Kruger, Grant Coetzee. Doelskoppe: Erich Snyman (2).

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!