Thursday, August 18, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


WP sit opmars voort om derde agtereenvolgende hoofwedstryd te haal

By Hannes Nienaber , in News , at 7 July 2022 Tags:

KAAPSTAD. – Die Westelike Provinsie het sy opmars na sy derde agtereenvolgende hoofwedstryd op die jaarlikse Cravenweek vir hoërskole met ‘n sege van 29-24 oor die Sharks op die derde dag van die toernooi hier voortgesit.

Die Streeptruie moes egter hard werk om die Sharks uit te oorlê. Dit was die tuisspan se verdediging wat aan hom die sege in die kragmeting besorg het. Sy laaste nederlaag in ‘n wedstryd op die Cravenweek was in 2017 teen die Vrystaat (33-54) in Johannesburg.

WP se buitesenter, Shah-Jehaan de Jongh, het met ‘n skitterende vertoning seker gemaak dat daar ‘n hele paar regmerkies langs sy naam na die kragmeting deur die SA Skole-keurders gemaak is. De Jongh het twee puik drieë afgerond. Sy broer, Jameel de Jongh, het ook ‘n draai agter die doellyn gemaak.

Die Streeptruie het hul eie Bomb-squad in die kragmeting ingespan met die plaasvervanger-stut en gereelde kaptein, Zachary Porthen, plaasvervanger-haker Luca Bakkes en plaasvervanger-loskopstut, Wilbur Loubser, wat in die tweede helfte nuwe vuur voorlangs in die vertoning ingeblaas het.

Boonop het die flank Gareth Blackmore ook die tempo gelig toe hy sy verskyning vanaf die plaasvervangersbank gemaak het.

Thurlon Williams, losskakel van die Westelike Provinsie, het met nog ‘n stewige vertoning sy kanse op ‘n plek in die nasionale skole-span ook versterk.

Die Sharks het sonder twyfel die geleentheid gehad om die WP te klop, maar die skrumskakel, AJ Knoetze, het twee stelskoppe verbrou. Knoetze het ‘n goeie dag op kantoor beleef en selfs met moeiliker stelskoppe as die twee verbroudes geslaag.

Die Sharks se beste speler op die dag was sonder twyfel die slot Jack Waterhouse wat in die los gewoel het asook telkemale by die inskoppe asook in die lynstane die tuisspan hoofbrekens gegee het. Sy agtsteman, Thomas Dyer, kan ook tevrede met sy vertoning voel.

Buiten Knoetze het die binnesenter, Dwight Pietersen, en die heelagter, Spha Ngcobo, ook blink vertonings gelewer.

Die rooikop flank van Grens, Tiaan Jacobs, het met nog ‘n uitstekende vertoning in sy span se oorwinning van 34-31 oor die Westelike Provinsie XV-tal seker gemaak dat hy dalk ‘n merkwaardige prestasie kan behaal.

Jacobs was op die eerste dag van die toernooi in sy span se nederlaag teen WP se uitsoekspan ook as Speler van die Wedstryd aangewys. Die enigste speler wat tot dusver in al drie wedstryde as Speler van die Wedstryd op ‘n Cravenweek aangewys is, was Herman van Niekerk (flank) wat vir Griekwas dit in 2010 in Welkom behaal het.

Jacobs en die agtsteman, Sibabalwe Mahashe, was uitstaande in die sege oor die WP XV-tal. Mahashe het die veld vol gespeel en met sy lopies die tuisspan probleme besorg. Jacobs het ook ‘n leeue-aandeel in albei Mahashe se drieë gehad.

Grens se losskakel, Kyle van Wyk, het boonop sy skopskoene aangehad en al vier sy span se drieë verdoel en ook twee belangrike strafdoele tussen deur die pale gejaag.

Vir die WP XV-tal het die heelagter, Jandre Genis, asook die skrumskakel, Haashim Pead, goeie spel opgedis. Die flank, Dean Crouse, kan voorlangs tevrede met sy vertoning voel.

Puntemakers: 

Grens 34 (28) – Drieë: Sibabalwe Mahashe (2), Sesethu Mpaka, Michael Maseti. Doelskoppe: Kyle van Wyk (4). Strafdoele: Van Wyk (2). Westelike Provinsie XV-tal 31 (14) – Drieë: Haashim Pead (2), Isaiah Louw, Gino Cupido, Dean Crouse. Doelskoppe: Jandre Genis (3).

Westelike Provinsie 29 (19) – Drieë: Shah-Jehaan de Jongh (2), Ben Heydenrych, Jameel de Jongh, JC Mars. Doelskoppe: Thurlon Williams (2). Sharks 24 (14) – Drieë: Lihle Bester, AJ Knoetze, Kungawo Mbanga. Doelskoppe: AJ Knoetze (3). Strafdoel: Knoetze.

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!