Wednesday, August 10, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Welkom Gimnasium skop seisoen met sege oor Glenwood se Dark Greens af

By Hannes Nienaber , in News , at 20 February 2022 Tags: , , , , , , , , ,

Sarel Cilliers TruiDie eerste skote in die 2022-seisoen het Saterdag op Glencoe tydens die Hoërskool Sarel Cilliers se jaarlikse rugbydag geklap. 

Welkom Gimnasium het soos gebruiklik hul seisoen hier in die noorde van KwaZulu-Natal afgeskop. Gimmies het teen Glenwood in die vernaamste voorwedstryd van die dag te staan gekom. Die span van Glenwood het as die Dark Greens op die veld gedraf weens die feit dat die skool van Durban nog besig is om sy eerstespan vir 2022 te finaliseer. 

Die Gimmies is egter ook steeds nie op volsterkte nie, maar die wedstryd sou die span van Welkom ‘n goeie indikasie gegee het van hoeveel werk daar nog voorlê.

Die span van Welkom het Glenwood se Dark Greens met 17-12 verslaan. Die besoeker vanuit die Noord-Vrystaat het teen rustyd ‘n voorsprong van 7-0 geniet nadat hulle meestal op die agtervoet in dié helfte was. 

Gimmies se binnesenter, Julian Samuels, is na afloop van die kragmeting as die Speler van die Wedstryd aangewys. Hy het een van sy span se drie drieë afgerond en gewys dat hy vanjaar nog heelwat spanne se verdedigingslyne op die proef gaan stel. 

Die wenspan se kaptein en kantman, Wian Fourie, het ook ‘n uitmuntende vertoning gelewer. Hy het vir Glenwood by die afbreekpunte hoofbrekens besorg. Hy het minstens ses keer omgekeerde besit hier bewerkstellig, terwyl hy ook ‘n hele paar strafskoppe hier vir sy span afgedwing het. Nog ‘n uitblinker vir Gimmies was sy regtervleuel, JJ Arendse, wat verlede jaar die Griffons op die Cravenweek sou verteenwoordig het indien die toernooi sou plaasvind. 

Welkom Gimnasium se volgende kragmeting is teen Grey-kollege van Bloemfontein. 

In die hoofwedstryd van die dag het Sarel Cilliers se Blue Lions oor te veel skietgoed vir Amanzimtoti beskik en oortuigend met 50-5 as oorwinnaars van die veld gestap.  

Puntemakers:

Welkom Gimnasium 17 (7) – Drieë: Julian Samuels, JJ Arendse, Rayvian Cupido. Doelskop: Connlin Treurnicht. Glenwood (Dark Greens) 12.

Ander eerstespan uitslae: 

Sarel Cilliers 50, Amanzimtoti 5; Ferrum 35, Voortrekker (Pietermaritzburg) 0; Vryheid Landbou 19, Greytown 19; Glenwood (Barely Green) 22, Dundee 14; Glenwood (Light Green) 55, Hoërskool Vryheid 6; Pongola 36, Amajuba 5; Ferrum II 43, Ixopo 5; Sarel Cilliers II 26, Vryheid Landbou II 0. 

[powr-comments id=”c4e5db05_1645356210425″]

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!