Thursday, June 30, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Viljoen is volgende jaar ‘n Streeptrui

By Hannes Nienaber , in News , at 11 May 2013 Tags: , , , , , , , , ,

EEN van Grey-kollege se gevaarlikste aanvallende spelers, EW Viljoen sal volgende jaar na die Wes-Kaap verhuis. Viljoen wat vandag een van Grey se sleutelspelers in sy ENB Classic Clash teen die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria op sy tuisveld in Bloemfontein is, het Donderdag met sy 18de verjaarsdag die aankondiging gemaak.

Die Vrystaatse Rugbyunie het ook glo baie moeite ingesit om Viljoen in Bloemfontein na skool te hou. Viljoen is waarskynlik as ‘n moontlike opvolger vir Hennie Daniller in die Vrystaat-Cheetahs se span beskou.

Viljoen was vroeër vanjaar in die Suid-Afrikaanse o.18-sewesspan wat na die Australiese Jeug Olimpiese-fees gegaan het. Hy moes egter weens siekte kort voor die fees onttrek.

Grey sal vandag met nog ‘n inspirerende vertoning soos teen Monument vorendag moet kom indien hy Affies se aanslag wil stuit. Affies is nog onoorwonne vanjaar. Grey word egter deur die terugkeer van sy flank en kaptein, Marius Louw versterk.

Sentraal se span sal vandag in sy Classic Clash teen Jim Fouché op laasgenoemde se tuisveld aan homself die antwoord gee om hy oor die vermoë beskik om vanjaar die kroon as kampioen van die Vrystaatse A1-liga te dra. JF is die verdedigende kampioen en mik vanjaar na sy derde agtereenvolgende titel.

Tralies en JF is vanjaar die gunstelinge om dié kroon te dra en vandag se uitslag kan ‘n groot sielkundige voordeel aan die wenspan besorg. JF is sonder sy opwindende heelagter, Franco Spies. Vir JF sal sy stewige senter, Carel-Jan Coetzee ‘n belangrike rol moet vertolk. Tralies se vleuel, Wian Koekemoer het reeds 13 drieë in 11 wedstryde vanjaar vir sy span gedruk.

Hoërskool Noord-Kaap sal vandag sterk op ‘n getroue bondgenoot se steun staatmaak wanneer hy teen Hoërskool Waterkloof in Kimberley uitdraf. Northerns het laas in Kimberley en op sy tuisveld, Pirates in 2008 teen Landboudal van Jacobsdal in hulle ligawedstryd die knie gebuig. Pirates sal vandag weer ‘n bondgenoot vir die span moet wees. Die tuisspan se slot en kaptein, Lehan Muller sal moontlik vandag se kragmeting weens ‘n besering misloop. Muller is egter in die beginspan aangekondig en sal kans tot voor die kragmeting gegee word om te herstel.

Vandag se skolerugby bepalings is (tuisspanne eerste vermeld):

10:50: Duineveld t. Waterkloof II (Pirates); 11:45: Goudveld t. Hentie Cilliers; 11:50: HTS Welkom t. Witteberg; 12:00: Noord-Kaap t. Waterkloof; 12:00: Douglas t. Postmasburg; 12:30: Kroonstad HS vs. Welkom Gimnasium; 12:30: Hoërskool Upington t. Diamantveld; 12:40: President Steyn t. Brandfort; 13:30: Voortrekker t. AHS Kroonstad; 14:15: Grey-kollege t. Affies; 14:45: Landboudal t. Fichardtpark; 15:15: Jim Fouché t. Sentraal.

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!