Sunday, June 26, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Verrassings op die kaarte vir vanjaar se Cravenweek in Kaapstad

By Hannes Nienaber , in News , at 20 June 2022

Indien die opwarmings-wedstryde vir vanjaar se Cravenweek in Kaapstad ‘n aanduiding is, kan daar soos met die interskole-kragmetings ‘n hele paar verrassings op die kaarte wees.

Die Vrystaat se o.18-span het sy eweknie van die Griffons met 45-26 Saterdag in die HT Pelatona-stadion in Welkom verslaan. Dit was egter nie so maklik as wat die telling aandui nie.

Na ongeveer so 50 minute se speeltyd spel het die Blikore slegs ‘n voorsprong van 24-18 geniet. Die rustyd-telling was 19-15 in die jong Vrystaters se guns.

Vrystaat kon daarin slaag om ‘n hoër rat in die laaste 20 minute te vind. Die wenspan se buitesenter, Ulrich Wahl, het ‘n goeie dag op kantoor beleef. Hy is goed ondersteun deur sy sentermaar, Alec McIntyre.

Die Perses se afrigters, Roean Bezuidenhout en Taro Maarman, sal ondanks die nederlaag tevrede met hul span se poging voel.

Die Griffons se Fanu Linde (agtsteman), Wian Fourie (kaptein en flank) en Machiel Heyns (binnesenter) kan tevrede met hul vertonings voel.

Die Perses het ook Donderdag na Durban gereis en met 7-21 teen die Sharks die knie gebuig. Die span van die Noord-Vrystaat het ook twee ander opwarmingswedstryde gespeel, teen onderskeidelik die Oostelike Provinsie se Cravenweek- en Akademie-span in Graaff-Reinet.

Daar was geen stelskopper in die wedstryde nie, maar die Perses het die wedstryd teen sy eweknie van OP met 6 drieë teenoor 4 gewen.

Die Vrystaat se enigste ander wedstryd was teen Griekwas die vorige week wat hy gemaklik met 43-7 gewen het. Die twee spanne sal nie soos gebruiklik volgende week op die Noordvaal Bondedag in aksie wees nie.

Die Noordaal Bondedag vind volgende Saterdag op Ellispark van die Hoërskool Bekker net buite Magaliesburg plaas. Die Goue Leeus sal in die hoofwedstryd teen die Valke te staan kom.

Uit die voorafgaande wedstryde blyk dit of die Blou Bulle die sterkste unie noord van die Vaalrivier is. Die Ligbloues het tot dusver vir die Goue Leeus (38-21) en Valke (63-17) die loef afgesteek.

Die Bulle kom tydens die Bondedag teen die Pumas te staan. Die Pumas het ook tot Donderdag na ‘n gedugte span gelyk totdat die Limpopo Blou Bulle hul tot ‘n gelykop-uitslag van 36-elk gedwing het.

Die Pumas het voor dit vir die Valke met 63-17 afgeslag. Die Leeus het ook vanjaar die Luiperds met 55-10 geklop.

Suidwestelike Distrikte lyk of hulle vanjaar die regte kombinasie gevind het. Die Volstruisboere het in George vir die Oostelike Provinsie (42-24) en Boland (29-19) geklop.

Die Westelike Provinsie slyp ook gewoonlik die naweek hul tande in George, maar het besluit om liewers ‘n oefenkamp by Boland Landbou in die Agter-Paarl die naweek te hou.

In die Noordvaal-trofee was daar nog ‘n hele paar kragmetings wat voor die vakansie afgehandel moes word.

Monument het op die Ras van Rooyen-veld in Krugersdorp vir Waterkloof met 64-17 die loef afgesteek. Die Wit Bulle is nou sonder twyfel die span om te klop in vanjaar se Beker-kompetisie van dié reeks.

Monnas het teen rustyd ‘n voorsprong van 26-10 opgebou. Dit was egter ‘n drie vanaf die afskop vir die tweede helfte deur die Wit Bulle se heelagter, Jody Schambreel, wat die wind uit Klofies se seile geneem het.

Schambreel het die bal vanaf die afskop gevang en regdeur Waterkloof se verdediging gekloof om ‘n skitterende drie af te rond.

In die Valke se Afdeling 3 sal HTS Sasolburg teen Overvaal sake in die eindstryd uitspook. Die Spanners het Donderdag in die halfeindronde die Kapoeners (Hoërskool Sasolburg) met 31-22 afgestof.

Overvaal het sy plek in die eindstryd met ‘n oorwinning van 27-17 oor Delmas bespreek.
Potchefstroom Gimnasium het in Afdeling 2 van die Luiperds vir Bergsig met 24-15 geklop.

FOTO: Marnus Prinsloo 

Die artikel is ook gepubliseer in Rapport op Sondag, 19 Junie 2022.

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!