Thursday, June 30, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Sannies, Grey en Trekkers wen oortuigend

By Hannes Nienaber , in News , at 1 April 2013 Tags: , , , , , , , , ,

GREY-KOLLEGE se linkervleuel, Charl Pretorius, het ’n driekuns aan drieë in sy span se oorwinning van 52-13 oor Duineveld op Upington behaal. Die tuisspan se voorspelers het met ’n reuse-aanslag gekom en Grey met tye probleme besorg. Velties se kaptein en agtsteman, Junior Burger, het sy troepe nie net voorlangs aangevuur nie, maar ook die vonk verskaf. Hy is goed deur die flank Theunis Visser bygestaan.

Pretorius was agterlangs Grey se beste speler. Voorlangs was die stryd kliphard en dit verbaas ook glad nie dat Grey se kaptein en kantman, Marius Louw, voorlangs beïndruk het nie. Louw is ’n speler wat nie bang is vir die fisieke aspekte van die spel nie.

Grey se naasbestes, die Cherries, het die Hoërskool Upington met 62-14 verniel. Grey het duidelik vanjaar weer genoeg diepte om ’n uitstaande seisoen te beleef. ) Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria was te sterk vir Diamantveld in die hoofwedstryd van laasgenoemde se sportdag in Kimberley. Affies was met 32-7 baas. Affies se senters, Phillip Orfer en Jurie Linde, het in die middelveld die stryd teen Ruan Maritz en Jacques Nel gewen. Orfer het twee keer gaan druk, terwyl Linde self ’n draai agter die doellyn gemaak het. Diamonds is egter vroeg in die wedstryd ontwrig toe sy losskakel en sleutelspeler, Deon van Zyl, die veld weens ’n besering moes verlaat. Die span het nie ’n erkende losskakel op die bank gehad nie en Maritz moes dié rol vertolk. Vir Affies het RG Snyman die lynstane oorheers, terwyl die haker, Francois Steyn, in die los gewoel het.

Landboudal het op dié sportdag Affies se tweede span 24-22 geklop. Die vleuel Kat Mabaleng het agterlangs meer as sy deel gedoen, terwyl die pak voorspelers voorlangs die oorhand gehad het. ) Douglas het teen Affies se derde span met 12-19 die knie gebuig.

Sand du Plessis het sy interskole-kragmeting teen Hennenman oortuigend met 47-0 gewen. Die span se senter Rabone Tsie was aan die voorpunt van sy span se oorwinning. Hy is goed deur die heelagter, Quinton Kleynhans, bygestaan. Sannies speel vanjaar in die A1-liga en het met sy voorseisoense wedstryde gewys hy kan nie gering geskat word nie.

Bothaville het op sy tuisveld te veel skietgoed vir die Hoërskool Bloemfontein gehad en met 38-7 as oorwinnaar uit die stryd getree. Bothaville se senter, Wessel Hefer, het met sy skerp breekslae Bloemies op die agtervoet gehad. Hefer is vir sy goeie spel met twee drieë beloon. Voorlangs het die agtsteman, Sakkie Bester en die tweeling-voorrymanne, Donovan en Armand van Wyk, blink spel opgedis. Vir die besoekers was Armandt le Roux die beste speler.

Voortrekker van Bethlehem het in die Rosestad vir Jim Fouché met 45-17 gekarnuffel. Die Trekkers was rustyd 12-3 voor. Die haker, Toffie van Zyl, flank Smurf Janse van Rensburg en agtsteman Robert de Jongh het voorlangs vir JF probleme besorg. Agterlangs het Tokkie van Zyl op losskakel en die vleuel Tiisetso Madonsela met hul spel beïndruk.

Saints het in Bloemfontein vir Ficksburg 38-7 verslaan, terwyl Hartswater ’n oorwinning van 26-5 oor Daniëlskuil behaal het.

Die Hoërskool Reitz het reeds twee wedstryde vanjaar gespeel. Die span het teen Parys met 12-14 die knie gebuig en 12 elk gelykop teen HTS Sasolburg gespeel.

Puntemakers: 

Grey-kollege 52 (24) – Drieë: Charl Pretorius (3), Marius Louw, Mike Andrade, Carel Durow, De Wet Bezuidenhout, Julian Delicado. Doelskoppe: EW Viljoen (6). Duineveld 13 (3) – Drieë: Junior Burger, Attie Brits. Strafdoel: Brits.

Cherries 62. Hoërskool Upington 14 – Drieë: Rosché Naudé, Jonathan Steenkamp. Doelskoppe: DJ van den Heever, Jasper Wiese.

Affies 32 (15) – Drieë: Phillip Orfer (2), Jurie Linde, RG Snyman, Eduan Keyter, Francois Steyn. Doelskop: Dale Hendricks. Diamantveld 7 (0) – Drie: Ruan Maritz. Doelskop: Ronaldo Abrahams.

Landboudal 24 (10) – Drieë: JD Mans, Morris Rossouw, Kat Mabaleng. Doelskoppe: Louwtjie Steenkamp, Rossouw (2). Strafdoel: Steenkamp. Affies II 22 (5).

Douglas 12 – Drieë: Jaco van Heerden, Rikus Nel. Doelskop: Morné Morolong. Affies III 19.

Bothaville 38 (14) – Drieë: Wessel Hefer (2), Derek Beeslaar, Francois Jonker, Jeandré Kleynhans, Sakkie Bester. Doelskoppe: Kleynhans (4). Hoërskool Bloemfontein 7 (0) – Drie: Tiaan van Heerden. Doelskop: Tinus Victor.

Wilgerivier 33 (12) – Drieë: Gerrie Muller (2), Jan-Hendrik Muller, Phillip du Pisanie, Jacques van Rensburg. Doelskoppe: SF Meyer (4). Leeuwenhof Akademie 0.

St. Andrew 38 – Drieë: Boby Bophelo (2), Ross Middlecote, Tsepang Bereng, Krisjan Diedericks, Khosi Molapo. Doelskoppe: Dean Tucker (4). Ficksburg 7.

Hartswater 26 – Drieë: BJ Muller (2), Schalk Visser (2). Doelskoppe: DP Spangenberg (3). Daniëlskuil 5.

Sand du Plessis 47 (28) – Drieë: Quinton Kleynhans (2), Dandré Meyer, Jeandré Venter, Wayne van Heerden, Jade Martyn, Strafdrie. Doelskoppe: JB la Cock (6). Hennenman 0

Voortrekker 45 (12) – Drieë: Boeta Vermaak (2), Christo van Zyl, André Janse van Rensburg, Tiisetso Madonsela, Sechaba Matsoele, Niel Janse van Rensburg. Doelskoppe: Tokkie van Zyl (4), AJ van Wyk. Jim Fouché 17 (3) – Drieë: Franco Spies, Carel-Jan Coetzee. Doelskoppe: Spies (2). Strafdoel: Spies

 

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!