Tuesday, July 5, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Paastoernooie skop vandag af

By Hannes Nienaber , in News , at 17 April 2014

IN 1984 het St. Stithian-kollege die eerste Paas-rugbytoernooi aangebied, vandag skop daar vier groot Paas-toernooie in Suid-Afrika af.

Saints bied vanjaar vir die 31ste keer hulle toernooi aan. King Edward VII en St. John-kollege bied ook toernooie in Johannesburg, terwyl Kearsney-kollege se Paas-toernooi net buite Durban die meeste van Suid-Afrika se groot rugbyskole lok.

Vandag op die eerste dag van die toernooi by Kearsney pak Grey-kollege van Bloemfontein en EG Jansen van Boksburg mekaar in die hoofwedstryd. Albei spanne is nog onoorwonne vanjaar en is albei sterk aanspraakmakers om vanjaar as een van die voorste vyf spanne in die land klaar te maak. Saterdag se hoofwedstryd word tussen die Afrikaanse Hoër Seunskool Pretoria en Monument van Krugersdorp beslis. Buiten die vier spanne is HTS Middelburg, Selborne-kollege, Glenwood, Dale-kollege, Nico Malan, Framesby en Westville Boys’ High ook op die toernooi in aksie.

Die Springbok-afrigter, Heynecke Meyer se seun Vic draf vir Affies op flank uit. Gepraat van die Bokke die voormalige Bok-vleuel, Chris Badenhorst se seun Dian maak die oond vir Grey skoon. Monnas se flank, Gavin Delport het reeds vanjaar 13 keer agter die doellyn gaan kuier.

By St. Stithian-kollege se toernooi is Wynberg Boys’ High, Helpmekaar en Maritzburg-kollege die drie groot trekpleisters. Wynberg en Helpmekaar sê mekaar in vandag se hoofwedstryd die stryd aan.

Maandag se hoofstryd tussen Wynberg en Maritzburg-kollege behoort ook vir hope opwinding en spanning te sorg. Die span van Pietermaritzburg se heelagter, Matthew Kriel is die jongste broer van die Kriel-tweeling Jesse en Daniel wat vir die Blou Bulle speel.

Vir Wynberg is die heelagter Karl Martin en Bevan Barnard spelers om dop te hou, terwyl Helpmekaar se lostrio van Dale Hartman, Tiaan Schutte en Constant Beckerling ‘n paar spanne hoofbrekens gaan besorg.

By St. John-kollege se toernooi is die Hoër Jongenskool Paarl, Paul Roos Gimnasium en Waterkloof die spanne om dop te hou. Boishaai vertrek kort na die toernooi na Japan waar hulle Suid-Afrika op die Sanix internasionale-toernooi sal verteenwoordig.

Klofies wat Affies verlede week geklop het, pak op die eerste dag vir Klein Nederburg wat deur die voormalige Bok-senter Wayne Julies gebrei word.

Paul Roos en Waterkloof pak mekaar Saterdag, terwyl Maandag se stryd tussen die manne van die Eikestad en Nelspruit ook goeie rugby behoort te lewer. Paul Roos word deur twee oud-Bokke Dawie Snyman en Brendan Venter gebrei. Hein Kriek is die span se hoofafrigter.

Scots-kollege van Australië wat Wallabies soos Ken Cathpole en John Solomon opgelewer het is ook op dié toernooi in aksie.

Op KES se toernooi is die hoofwedstryd vandag tussen Grey Boys’ High School van Port Elizabeth en Menlopark die hoofdis van die week. Die span van die Baai behoort vanjaar onder die voorste vyf spanne in die land te tel, terwyl Menlopark ook reeds sy spiere gebult het. Ander spanne op die toernooi buiten die gasheer is Queens-kollege, Hentie Cilliers, Marlow Landbou, Eldoraigne, Graeme-kollege, Rondebosch Boys’ High, Trinityhouse en Parktown Boys’ High.

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!