Monday, July 4, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Paarl Gim, Kwaggas, Grey-kollege en Affies onoorwonne op Wildeklawer

By Hannes Nienaber , in News , at 6 May 2013 Tags: , , , , , , , , ,

DIE span wat die skolerugby-seisoen as die land se voorste span wil afsluit sal vir Paarl Gimnasium die loef moet afsteek. Die span van die Paarl het sy onoorwonne status vir die seisoen behou deur Waterkloof van Pretoria 34-6 op die tweede dag van die Wildeklawer-toernooi hier te verslaan. Die telling vlei wel ‘n bietjie die wenspan, maar daar is geen twyfel dat hy wel die beste span op die veld was nie.

Gimmies het rustyd slegs 10-6 voorgeloop. Klofies se Tinus de Beer het sy span met twee strafdoele in die wedstryd gehou, maar die span van Pretoria kon nie die druk in die tweede helfte so goed soos in die eerste verwerk nie.

Gimmies se krag lê voorlangs in sy losvoorspelers Rikus Bothma en Jacques Vermeulen terwyl die slot JD Schickerling gewis ook goud werd vir dié span is. Agterlangs het die heelagter, Grant Hermanus die geleenthede wat na sy kant toe gekom het ten volle benut en twee keer gaan druk. 

Grey-kollege het in ‘n senutergende wedstryd vir Monument 13-8 geklop. Monnas het heelwat geleenthede in die tweede helfte gehad om ‘n oorwinning te behaal. Die span van Krugersdorp het byvoorbeeld twee vaskoppe vyf tree van Grey se doellyn gehaak, maar slegs desperate verdediging en hope durf deur Grey se agttal het die verloorspan van ‘n sege weerhou. Grey se agtsteman Andries Kriek en slot De Wet Bezuidenhout verdien veral ‘n vermelding vir hulle vertonings. 

Affies moes veel harder werk om Paul Roos Gimnasium tot oorgawe te dwing as wat vooraf verwag is. Die span van Stellenbosch se pak voorspelers met sy kaptein en flank Christo van der Merwe aan die spits het nie ‘n enkele tree vir die veel groter agttal van Affies terug gestaan nie. Die span van die Jakarandastad se senter Jurie Linde het in die tweede helfte amper na willekeur gate in Paul Roos se verdediging gevind en sy span gehelp om die bordjies na verlede jaar se nederlaag teen die Stellenboschers te verhang. 

Glenwood het deurgans positiewe en aanskoulike rugby gespeel en Sean Erasmus en sy troepe is daarvoor deur die rugbygode beloon. Die Groen Masjien het die Hoër Jongenskool Paarl 17-15 getroef. 

Die verloorspan het teen die omdraaislag ‘n voorsprong van 10-0 geniet. Glenwood se senter, Nkululeko Mcuma was sy span se beste speler op die veld.

Diamantveld is volgende jaar die beplande gasheer vir die toernooi, maar die skool se eerstespan sal sy sokkies moet optrek indien hy steeds as ‘n sogenaamde SuperSkool wil tel. EG Jansen het die span van Kimberley die grootste loesing ooit in die toernooi toegedien toe hy Diamonds 64-0 afgeransel het. Diamantveld het op die eerste dag teen Grey van die Baai (10-51) sy rieme behoorlik styfgeloop.

Puntemakers: 

Oakdale Landbou 40 (26) – Drieë: Jean Terblanché (2), JT Jackson, Gene Willemse, Lorenzo Gordon, Nemo Roelofse. Doelskoppe: JT Jackson (5). Sharks Invitational 3 (0) – Strafdoel: Merlynne Pieterse.

Paarl Gimnasium 34 (10) – Drieë: Grant Hermanus (2), Brendon Nell, Rikus Bothma, Ryan Oosthuizen. Doelskoppe: Wyatt Murphy (3). Strafdoel: Murphy. Waterkloof 6 (6) – Strafdoele: Tinus de Beer (2).

EG Jansen 64 (21) – Drieë: Christopher Schimper (3), Stiaan van Zyl, Ruan Potgieter, Sampie Hearn, Martin van Wyk, Etian Enslin, Morné Swart, Xander Cronjé. Doelskoppe: Kobus Engelbrecht (7). Diamantveld 0.

Glenwood 17 (0) – Drieë: Kevin de Klerk, Nkululeko Mcuma. Conversions: Corné Vermaak (2). Penalty: Vermaak. Paarl Boys’ High 15 (10) – Drie: Thomas du Toit, Ferlin Vers. Doelskoppe: Damian Stevens. Stafdoele: Stevens.

Boland Landbou 20 (10) – Drieë: Stefan de Klerk, Luan Bantjes. Doelskoppe: Tian Nel (2). Strafdoel: Nel. Skepdoel: Nel. Noord-Kaap 16 (6) – Drie: Hillford Clarke. Doelskop: Clarke. Strafdoele: Tieties (3).

Affies 17 (0) – Drieë: Jurie Linde, DP du Plessis. Doelskoppe: Ivan van Zyl (2). Strafdoel: Van Zyl. Paul Roos Gimnasium 10 (10) – Drie: Andre Yoko. Doelskop: Aiyden Cupido. Strafdoel: Cupido.

Hoërskool Outeniqua 48 – Drieë: Duhan van der Merwe (2), Geor Malan (2), Marné Botha, Leighton Eksteen, Eduard Zandberg, Warrick Gelant. Doelskoppe: Eksteen (4). Grey PE 15.

Grey-kollege 13 (7) – Drie: De Wet Bezuidenhout. Doelskop: Stephen Rautenbach. Strafdoele: Rautenbach (2). Monument 8 (8) – Drie: Rhyno Herbst. Skepdoel: Ruan Conradie.

Maritzburg-kollege 16 (10) – Drieë: Lindo Ncgobo, Banele Ngwenya. Strafdoele: Marcel Coetzee (2). Framesby 16 (7) – Drie: Ernst Stapelberg. Doelskop: Stapelberg. Strafdoele: Stapelberg (3).

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!