Opwindende seisoen wag op Boishaai
Die Hoër Jongenskool Paarl se eerste rugbyspan het ‘n opwindende seisoen wat op hom wag. Die span sal sy seisoen afskop met ‘n toer deur Nieu-Seeland. Die toer word deur Travel and Sport gereël. Boishaai sal van 23 Maart tot 9 April in Nieu-Seeland wees.
Die toergroep sal uit drie o.19-spanne en twee o.16-spanne bestaan. Elk van die spanne sal vier wedstryde teen van Nieu-Seeland se voorste skolespanne speel.
Boishaai het in 2014 in die eindstryd van die jaarlikse Sanix-toernooi in Japan teen Hamilton Boys’ High (11-15) vasgeval. Hoewel die bepalings vir die toer nog nie vasgemaak is nie, sal die span van die Paarl sy lippe vir ‘n herontmoeting met die Nieu-Seelanders aflek.
Boishaai spog met ‘n onoorwonne rekord die afgelope twee seisoene wat oor ‘n segetog van 38 wedstryde strek. Dit sluit die twee wedstryde uit wat hulle op die Nuweland Rugbydag in 2015 en 2016 gespeel het. Die skool se tweede rugbyspan spog boonop ook met ‘n onoorwonne rekord in sy vorige twee seisoene.
Hoewel Boishaai slegs twee spelers die flank Franke Horn en vleuel Thakier Abrahams oorgehou het, kan die feit dat daar 12 spelers vanuit sy tweede span ook nog vanjaar beskikbaar is, nie oorgesien word nie. Die span van die Paarl het boonop ‘n aanwins uit die noorde van die land met die SA Skole-heelagter, Abner van Reenen, wat vanjaar ‘n Galpil sal wees.
Van Reenen is ewe tuis op heelagter as senter en was in 2015 en 2016 ‘n lid van die Hoërskool Garsfontein se eerstespan wat as kampioen van die Beeldtrofee vir Makroskole gekroon is.
Paarl Boys’ High – 2017 | |
TBC | vs. New Zealand School |
TBC | vs. New Zealand School |
TBC | vs. New Zealand School |
TBC | vs. New Zealand School |
13 April | vs. Eye of Tiger |
15 April | vs. NSW Combined Schools |
17 April | vs. Affies |
22 April | vs. Outeniqua |
29 April | vs. Selborne College (WK) |
1 Mei | vs. Glenwood |
6 Mei | vs. Wynberg Boys’ High |
13 Mei | vs. Grey-kollege |
20 Mei | vs. Rondebosch Boys’ High |
27 Mei | vs. Paul Roos Gimnasium |
3 Junie | vs. Oakdale Landbou |
10 Junie | vs. Bishops |
24 Junie | vs. Boland Landbou |
29 Julie | vs. SACS |
5 Augustus | vs. Paarl Gimnasium |
Na Boishaai se Nieu-Seelandse uitstappie sal hy na slegs twee dae tuis wees voor hy teen Eye of the Tiger op St. John’s College se Paastoernooi in aksie sal wees. Die span se tweede wedstryd is teen ‘n gekombineerde skolespan van Nieu-Suid Wallis wees.
Die feit dat Boishaai se spelers ook die effek van vlugflouheid sal moet trotseer sal die span tydens die Paastoernooi behoorlik beproef.
Die hoogtepunt van die toernooi in die Goudstad sal egter Boishaai en Affies se herontmoeting na verlede jaar se titaniese stryd tydens die Wildeklawer-toernooi wees. Boishaai het verlede jaar met 29-25 in die wedstryd geseëvier met sy heelagter, Gianni Lombard, wat al sy span se punte aangeteken het.
Boishaai se twee grootste struikelblokke wat op hom die seisoen wag sal waarskynlik in die Paarl en in Bloemfontein wees. Die wedstryd teen Grey-kollege in Bloemfontein sal een van die span se grootste uitdagings die seisoen wees. Die eerstespan van Boishaai het in 2015 vir die eerste keer daarin geslaag om Grey in Bloemfontein te verslaan.
Die jaarlikse derby teen Paarl Gimnasium sal ook onder die span se taaiste uitdagings gedurende die seisoen tel.
Boishaai sal tydens die Wildeklawer-toernooi in Kimberley teen Selborne College en Glenwood te staan kom.
Die span sal deur Sean Erasmus en Elmo Wolfaardt gebrei word. Erasmus het verlede jaar die SA Skole-span afgerig, terwyl Wolfaardt die Westelike Provinsie se Cravenweek-span afgerig het.
Comments