Wednesday, August 10, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Northerns en Diamonds hoop om seisoen op hoë noot af te sluit

By Hannes Nienaber , in News , at 21 August 2021 Tags: , , , , , , , , ,

Super August Noord Kaap vs DiamantveldDie jaarlikse FNB Classic Clash tussen die Hoërskool Noord-Kaap en  Diamantveld is altyd ‘n klipharde tweestryd. 

Saterdag sal die eerste keer in twee jaar wees dat die twee spanne mekaar die stryd aansê. Die oorsaak van die skietstilstand natuurlik te danke aan die Coronavirus-pandemie en die grendelperk wat in Suid-Afrika ingestel is.

Die feit dat daar ook nie vanjaar veel skolerugby is nie, maak dit vir ondersteuners van die twee skole nog moeiliker om met sekerheid te voorspel wie op Saterdag as oorwinnaars van die veld sal stap.

Hoewel Northerns nog nie vanjaar ‘n oorwinning kon behaal nie, het hulle in hul twee wedstryde tot dusver strawwer teenstand gehad om mee rekening te hou.

Hulle het tydens die Monnas Eeufeestoernooi in Krugersdorp teen Affies (7-19) en Hoërskool Nelspruit (24-40) die knie gebuig. Diamantveld sou oorspronklik ook op dié toernooi in aksie gewees het, maar het besluit om liewer aan Fichardtpark se jaarlikse toernooi in Bloemfontein deel te neem.

Diamonds het ook nog net twee wedstryde vanjaar gespeel. Albei tydens die toernooi in die Rosestad. In hul eerste wedstryd het hulle teen Maritzburg College met 8-26 die knie gebuig. 

Tydens hul tweede wedstryd het hulle daarin geslaag om ‘n oortuigende sege van 55-3 oor Sentraal van Bloemfontein te behaal.

Geen toeskouers word by die wedstryd toegelaat nie. Vreemde omstandighede in ‘n vreemde tyd – gewoontlik sou daar meer as 8 000 toeskouers deur Pirates se hekke gestroom het. Ondersteuners kan wel al die aksie op www.digitv.co.za volg. Die direkte skakel van die wedstryd kan onderaan die artikel gevind word.

Diamonds was tydens die laaste twee ontmoetings baas in 2019 (32-14) en 2018 (26-19). Die span in hul kenmerkende ligbou trui het vanjaar ‘n nuwe afrigter aan die stuur in Leon Karremaker. Die voormalige provinsiale speler was tydens sy skoolloopbaan in 2003 as die Cravenweek se Speler van die Toernooi aangewys.

Northerns se gevaarmanne is sy senterpaar, Elric Kok en JJ Mothlodi, wat agterlangs sake moeilik vir die besoekers sal maak. Die span se heelagter, Leandro van Rooyen, kan ook met sy vaart vir Diamantveld se verdediging hoofbrekens besorg.

Livestream Link – https://www.channels.digitv.co.za/en/kimberley-tv 

Die spanne: 

Noord-Kaap: 15 Leandro van Rooyen, 14 Breyton Daniels, 13 Elric Kok, 12 JJ Mothlodi (kaptein), 11 McNiel Kiwido, 10 Devanito Vergotine, 9 Ronsley Sauls, 8 Henco Lourens, 7 Lutjindo Munbuale, 6 Adrian-Jae Gordon, 5 Darren van Niekerk, 4 Ethan Karelse, 3 Riaan Vorster, 2 Jason van Vuuren, 1 Aviwe Mpepo.

Diamantveld: 15 Henlo van Niekerk, 14 Theron van der Merwe, 13 GJ Marx, 12 Carlo Louw, 11 Franco Dauth, 10 Frans Williams, 9 Wynand Botha, 8 JP Vorster, 7 Wynand Pool, 6 Dewald Duminy, 5 André Hanekom, 4 Jeandré Nel, 3 Geo Lochner, 2 Tiaan Pretorius, 1 Jeandré le Roux.

Afskop: 14:00

[powr-comments id=”9c07df27_1629524942957″]

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!