Wednesday, August 10, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Nories het vir Helpies ge-Kapank, terwyl Wit Bulle vir Garsies gegaffel het

By Hannes Nienaber , in News , at 15 May 2022 Tags: , , , , , , , , ,

NewsG Sifiso Magwaza skolerugbyIndien daar iemand was wat dalk die gedagte gehad het dat die Hoërskool Monument van Krugersdorp nie vanjaar ‘n krag in die Noordvaal-trofee se Beker-afdeling wees nie, het die Wit Bulle dit Saterdag op die Ras van Rooyen met ‘n skitterende sege van 43-19 oor die Hoërskool Garsfontein begrawe.

Monnas het teen die omdraaislag ‘n voorsprong van 17-12 in die Noordvaal-trofee kragmeting geniet. Dit was egter Garsfontein wat vanaf eerste fase besit eerste bloed getrek het toe die vleuel Boeloe Scott in die hoek oorgeduik het.

Die Wit Bulle se kaptein en slot, HJ de Beer, het kort daarna oorgebeur om sake weer gelyk te maak. Garsies het die voorsprong weer geneem toe sy agtsteman, Maynard Kleynhans, vanaf ‘n skrum naby die doellyn deurgedraf het sonder dat ‘n verdediger ‘n hand op hom kon lê.

Die tafel was hierna gedek vir ‘n tipiese ligawedstryd in die Noordvaal-trofee. Monnas se agttal het met heelwat meer ywer as in sy vorige wedstryde die seisoen gespeel en dit was veral in die lynstane waar die span met rasse skrede verbetering getoon het. 

Van die lof vir die span se verbetering voorlangs moet aan die nuwe hulpafrigter, Francois Robbertse, toegedig word. Die Wit Bulle se loskopstut, Sifiso Magwala, het in die los behoorlik gewoel en elke keer wat hy in besit geplaas is ‘n hele paar verdedigers besig gehou.

Die wenspan se agtsteman, Xander Schoeman, was ook soos gewoonlik woelig en is aan die einde van die wedstryd vir sy skitterende spel met twee drieë beloon. Agterlangs het die buitesenter, Zain Henery, en heelagter, Jody Schambreel, goeie vertonings gelewer.

Vir die Garsies het sy losskopstut, Adriaan van Niekerk, vir Monnas in die skrums laat les opsê. Die flank Zander Lourens het ook deurgans by die afbreekpunte meer as sy deel gedoen. 

Die span van die Jakarandastad se lynstane het hom in die steek gelaat.

Noordheuwel het met ‘n sege van 24-18 op sy tuisveld in Krugersdorp oor Helpmekaar-kollege gewys dat hy nie net aan die liga deelneem om die nommers op te maak nie. Die Nories het teen rustyd ‘n voorsprong van 18-11 geniet. 

Die wenspan se twee flanke, Ludie Schutte en Keagan Grobbelaar, asook die senter Marshall de Vos het op die verdediging uitgeblink. Dit is danksy Nories se rotsvaste verdediging dat hul die sege kon deurtrek. 

Nories se losskakel, JT Kapank, het met twee strafdoele in die tweede helfte die telbord vir sy span aan die rol gehou. Kapank het in totaal 19 van sy span se punte aangeteken. Slegs ‘n drie deur De Vos was nie te danke aan die losskakel nie. 

Helpies se beste speler op die dag was sy losskopstut, Boela de Wet, wat die tuisspan in die skrums laat kreun het. Hy het ook die bal goed gedra en ook ‘n paar manne laat hik wanneer hy hulle gelak het. Agterlangs kan die vleuel Trityne Parsons tevrede met sy vertoning voel.

Menlopark het amper daarin geslaag om vir Waterkloof in hul kragmeting te troef. Die Klofies was naelskraaps met 7-6 baas, maar indien die Parkies se losskakel, Marco Strydom, ‘n strafdoel met speeltyd reeds verstreke oorgeklits het sou sake anders daarna uitgesien het. 

Die verloorspan se vaskopstut, Ruben Barnard, verdien ‘n klop op die skouer vir sy vertoning in die wedstryd. Vir Waterkloof het sy agttal goed gevaar met veral Jaydn Austin (vaskopstut), Zander Thirion (agtsteman) en Ruben Odendaal (loskopstut) wat goeie spel gelewer het. 

Die Klofies het Menlopark se kwartgebied ‘n volle 12 keer besoek maar kon net die gunstige gebiedsvoordeel in meer punte omskep nie. 

Dr. EG Jansen van Boksburg is altyd ‘n span om mee rekening te hou. Die Jansies het Saterdag sy aanslag in die reeks met ‘n oorwinning van 43-15 oor Marais Viljoen van Alberton afgeskop. 

EG se losskakel, Jaydon Bantom, het 18 van sy span se punte in die oorwinning aangeteken. Hy het twee keer agter die doellyn ‘n draai gaan maak en ook vier van sy span se drieë verdoel. 

Marais Viljoen het in die tweede helfte veel beter rekenskap van hulself gegee nadat hulle met die omdraaislag ‘n agterstand van 3-26 gehad het. Vir die span van Alberton het Cephas van Biljon (flank), Ryan Langford (slot), Henrico Germishuizen (agtsteman) en Charl de Kock (skrumskakel) goeie vertonings gelewer. 

FOTO: Marius Nortjé

Puntemakers:

Monument 43 (15) – Drieë: Xander Schoeman (2), HJ de Beer, Zain Henery, Sifiso Magwaza, Jody Schambreel. Doelskoppe: Tyler Sefoor (4).  Garsfontein 19 (12) – Drieë: Boeloe Scott, Maynard Kleynhans, Pieter Coetzer. Doelskoppe: Nicallen Gabrielsen (2).

Waterkloof 7 (7) – Drie: Ruben Odendaal. Doelskop: Johan Stroh. Menlopark 6 (3) – Strafdoele: Marco Strydom (2).

Noordheuwel 24 (18) – Drieë: Marshall de Vos, JT Kapank. Doelskop: Kapank. Strafdoele: Kapank (4). Helpmekaar 18 (11) – Drieë: Ruan Welman, Jordan Jordaan. Doelskop: Jordaan. Strafdoele: Jordaan (2).

EG Jansen 43 (26) – Drieë: Jaydon Bantom (2), Keano van Loggenberg, Corné Venter, Layton Smith, Ryno van Aswegen, Tsepo Ledwaba. Doelskoppe: Bantom (4).  Marais Viljoen 15 (3) – Drieë: Henrico Germishuizen, Charl de Kock. Doelskop: De Kock. Strafdoel: De Kock.

Ander spanne: 

o.16: Monument 38, Garsfontein 23; Helpmekaar 20, Noordheuwel 19; Waterkloof 16, Menlopark 11; EG Jansen 53, Marais Viljoen 0. 

o.15: Monument 24, Garsfontein 0; Noordheuwel 20, Helpmekaar 10; Waterkloof 6, Menlopark 0; EG Jansen 17, Marais Viljoen 13.

o.14: Monument 52, Garsfontein 5; Helpmekaar 26, Noordheuwel 10; Menlopark 10, Waterkloof 10; EG Jansen 22, Marais Viljoen 0.

[powr-comments id=”6434cfac_1652596774775″]

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!