Wednesday, August 10, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Niks te kies tussen WP en Goue Leeus op Cravenweek

By Hannes Nienaber , in News , at 19 July 2017

NewsGAngeloDavidsNa 70 minute van klipharde rugby was daar niks tussen die Westelike Provinsie en die Goue Leeus in die hoofwedstryd van die derde dag van die Coca-Cola Cravenweek vir hoërskole op St Stithians College se Baytopp-veld in Johannesburg te kies nie. Die wedstryd het met die telling op 13-elk geëindig. 

Die bepalingskomitee sit met ‘n tameletjie oor wie Saterdag in die hoofwedstryd van vandag se spanne sal speel. Die Streeptruie is die verdedigende nie-amptelike kampioen, terwyl die Goue Leeus die gasheer van vanjaar se toernooi is. Albei die feite sal onder debat kom wanneer die bepalingskomitee na afloop van more se spel bymekaarkom. 

Die Vrystaat is boonop een van slegs twee spanne wat vandag in aksie was wat met ‘n vlekkelose rekord op vanjaar se toernooi spog. Hy is ook met 21 drieë die span wat vanjaar die meeste kere die doellyn oorkruis het. In die vervloë dae van die Cravenweek was die spanne wat die mees opwindende rugby gespeel het, met ‘n plek in die hoofwedstryd beloon. 

Maar terug by die WP en Leeus se kragmeting. Die Streeptruie se twee vleuels, Angelo Davids en Thaakir Abrahams, het hul span se twee drieë in onderskeidelik die eerste minute van die wedstryd en die tweede helfte gedruk. Davids het in die hoek oorgeduik in die eerste minuut van die wedstryd. Dit was ook die verskil tussen die twee spanne in die eerste helfte. Die rustydtelling was 5-0 in die Streeptruie se guns.

Abrahams het na minder as 30 sekondes na die afskop vir die tweede helfte sy span se voorsprong verdubbel. Die Leeus se vleuel David Cary het sy span se rekening in dieselfde hoek as Davids geopen. Die Leeus het sake gelyk getrek na die haker, Morne Brandon, met ‘n duikslag omgekeerde besit bewerkstellig het. Die flank Franco Schutte het die losbal deurgeskop en opgepik om Tino Swanepoel weg te sit.

Toe die Leeus se heelagter, Kennedy Mpeku, in die 60ste minuut na goeie skrumwerk deur die voorryman Nkosikhona Masuku ‘n strafdoel oorklits het dit geblyk dat die tuisspan die wedstryd kan deurhak. Mpeku het deurgans goeie spel gelewer, maar sy stelskopwerk het gelol.

WP se kaptein en heelagter, Muller du Plessis, het sy span se twee doelskoppe skeef gekorrel. Die span se losskakel, Quan Eymann, het in die 64ste minuut ‘n strafdoel reg voor die pale oorgeklits om sake gelyk te trek.

Die stryd op die losbal tussen Vian Fourie (WP) en Mark Snyman (Leeus) was fel. Fourie het sonder twyfel die sake by die afbreekpunte in die eerste helfte beheer. Snyman het egter in die tweede helfte sterker by die aspek tot vore getree.   

Puntemakers: 

Westelike Provinsie 13 (5) – Drieë: Angelo Davids, Thaakir Abrahams. Strafdoel: Quan Eymann Goue Leeus 13 (0) – Drieë: David Cary, Tino Swanepoel. Strafdoel: Mpeku.

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!