Garsies behaal gemaklike sege oor Framesby, terwyl Klofies vir Diamonds in doodsnikke troef

Written by Hannes Nienaber

NewsG_Maynard_Kleynhans_skolerugby School of Rugby | Garsies behaal gemaklike sege oor Framesby, terwyl Klofies vir Diamonds in doodsnikke troef - School of RugbyDie Hoërskool Garsfontein het ondanks die feit dat hy nie eintlik sy ritme kon vind nie, nie veel probleme ondervind om Framesby van Port Elizabeth met 45-13 tydens die Absa Wildeklawer-toernooi in Kimberley af te stof nie.  

Die sege oor die span van die Baai beteken dat die Garsie Bere een van die min onoorwonne spanne op skoolvlak in Suid-Afrika vanjaar is. 

Garsfontein kom Maandag vir die eerste keer in sy geskiedenis teen Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch te staan. Die wedstryd wat om 16:20 op Diamantveld se hoofveld afskop beloof om 'n titaniese kragmeting te wees. 

Garsies het heelwat van sy eerstekeuse spelers teen Framesby ruskans gegee en sodoende vir heelwat van die spelers in sy eerstespan groep broodnodige wedstrydtyd gegee. 

Die span se afrigters, Johan du Plessis en Hendré Marnitz, sal dus tevrede met uitslag wees asook die feit dat hul groep oor genoeg diepte beskik. 

Garsies het teen rustyd 'n voorsprong van 17-6 geniet. Die span se skrumskakel, Steven Nel, het 'n uitmuntende dag agter die oond beleef. Hy het twee keer 'n draai agter die doellyn in die eerste helfte gaan maak. 

Hy is ook na afloop van die wedstryd as Speler van die Wedstryd aangewys. Garsies het die bal heelwat lug gegee en die twee vleuels, Jason Hugo en Boeloe Scott, het 'n hele paar lopies ingekry. 

Create_Infinity2 School of Rugby | Garsies behaal gemaklike sege oor Framesby, terwyl Klofies vir Diamonds in doodsnikke troef - School of Rugby

Voorlangs het die agtsteman, Maynard Kleynhans, sy terugkeer na 'n besering gemaak en goed vertoon ondanks die feit dat hy ook tien minute in die koelkas moes deurbring. Die slot Christopher Sjoblom en haker, Franna Prinsloo, kan ook tevrede met hul vertonings voel.

Die Hoërskool Waterkloof het daarin geslaag om die gasheer, Diamantveld, in die doodsnikke van hul kragmeting met 19-17 te troef.

Diamantveld was egter 'n paar sekondes en een beslissing weg van 'n roemryke sege oor die Klofies. Die wenspan se slot, Dale Arlow, het met speeltyd reeds vertreke gaan druk om sake gelyk te trek. Oor dié drie wat deur die skeidsregter, Darren Colby, toegeken is, sal daar egter nog lank in Kimberley gepraat word.

Op die kykweer was dit duidelik dat Arlow die bal aangeslaan het, maar ongelukkig vir Diamonds en gelukkig vir Waterkloof is daar nie 'n televisieskeidsregter by skolewedstryde nie. Waterkloof se losskakel, Hernus Marais, het dié doelskop oorgeklits om die sege te beklink. 

Klofies se twee slotte, Christoff Luus en Arlow, het deurgans in die los gewoel. Die span se heelagter, Reuvan Ferreira, het ook soos gewoonlik 'n bestendige vertoning opgedis. 

Diamonds het teen rustyd 'n voorsprong van 7-5 geniet nadat die skrumskakel, Morné Mathewson, vir 'n drie deurgeglip het.

Puntemakers: 

Garsfontein 45 (17) - Drieë: Steven Nel (2). Franna Prinsloo, Jason Hugo, Eben Stander, Boela Scott, Kelan Adams. Doelskoppe: Tireque Appolles (3), Nicallen Gabrielsen (2). Framesby 13 (6) - Drie: Jayden Davisson. Doelskop: Logan Muller. Strafdoele: Muller (2).

Waterkloof 19 (5) - Drieë: Robert Breytenbach, Christoff Luus, Dale Arlow. Doelskoppe: Hernus Marais (2). Diamantveld 17 (7) - Drieë: Morné Matthewson, Liam Ferris. Doelskoppe: Wynand Botha (2). Strafdoel: Botha.

[powr-comments id="27d4ab7a_1651321205618"]