EG beleef déjà vu toe Wit Bulle sege in doodsnikke beklink

Written by Hannes Nienaber

NewsG_Monnas School of Rugby | EG beleef déjà vu toe Wit Bulle sege in doodsnikke beklink - School of RugbyDit was 'n geval van déjà vu vir die Hoërskool Dr. EG Jansen se eerstespan in sy kragmeting teen Monument van Krugersdorp. Die span van Boksburg moes weer in die doodsnikke van 'n kragmeting toekyk hoe sy teenstanders vanaf 'n afskop wat nie bemeester word nie, die wendrie gaan druk. 

Monnas het dié sege van 38-34 met slegs drie minute oor in Boksburg danksy 'n drie deur sy flank Evan Retief beklink. Retief was soos die vorige week teen Noordheuwel weer een van die Wit Bulle se staatmakers voorlangs.

Daar kan weer na die wedstryd op DigiTV gekyk word deur op die volgende skakel te kliek - https://bit.ly/JansenMonnas

Die Jansies het in sy vorige wedstryd teen die Hoërskool Garsfontein in die laaste beweging van die wedstryd nie die bal skoon vanaf 'n afskop gevang nie en 'n drie afgestaan om uiteindelik met 24-26 die knie gebuig.

Toe EG Jansen se flank Xander Marais vir sy tweede drie van die kragmeting teen Monnas oorval om sake gelyk te trek op 31-elk was die momentum in die tuisspan se guns. 

Die losskakel, Kyle Benade, het die doelskop wel skeef getrek, maar het met slegs vyf minute oor in die kragmeting 'n strafdoel oorgeklits om aan sy span 'n voorsprong van 34-31 te gee. Benade het 'n goeie dag met die skopskoen in winderige omstandighede beleef. 

Dit was 'n ware wipplankstryd wat enige kant toe kon gaan. Kort voor Marais se tweede drie het Monnas se buitesenter, Waldo van den Berg, die bal onderskep om aan die Wit Bulle 'n voorsprong van 31-26 te gee.  

Teen rustyd het die tuisspan 'n skrale voorsprong van 21-19 geniet danksy Benade se akkurate stelskopwerk. Monnas het ook drie drieë in die eerste helfte gedruk twee daarvan deur die slot, Jan-Hendrik Bessinger. Hy het in die los gewoel en was in die fisieke aspekte van die spel ook vir die Wit Bulle goud werd. 

Monnas se twee voorrymanne, S'fiso Magwaza en Cassie Botes, was ook op hulle stukke in die los. Veral Botes het 'n hele paar keer etlike meters veld met sy lopies gewen. Magwaza is nogal vlugvoetig vir 'n voorryman. Hy het wel 'n geelkaart ontvang, waarna EG Jansen 'n skrum in die middel van die veld voor die pale vir die strafskop verkies het. 

EG Jansen se skrumskakel, Louis de Bruyn, het daarna van die skrum gaan afrond om eerste bloed in die wedstryd te trek. Soos vooraf verwag was dit 'n uiters fisieke wedstryd. Die tuisspan se binnesenter, Eben Hyman en slot Ryno van Aswegen het ook goeie vertonings gelewer.

Die Hoërskool Linden het vir Riebeeckrand in 'n o.18-kragmeting met 32-19 die loef afgesteek. 

Puntemakers: 

Monument 38 (19) - Drieë: Jan-Hendrik Bessinger (2), S'fiso Magwaza, Brian Bianchini, Waldo van den Berg, Evan Retief. Doelskoppe: Alec Vermaak (4) EG Jansen 34 (21) - Drieë: Xander Marais (2), Louis de Bruyn, Ryno van Aswegen, Eben Hyman. Doelskoppe: Kyle Benade (3). Strafdoel: Benade.

Hoërskool Pietersburg 30 (11) - Drieë: Ruben Potgieter, Morne du Plessis, Tiaan van den Heever, Michael de Beer. Doelskoppe: Van den Heever (2). Strafdoele: Van den Heever (2). Ellisras 25 (8).

Ander spanne: 

Eerstespanne: Hoërskool Linden 32, Riebeeckrand 19.

o.17: Die Anker 38, Hoërskool Alberton 3; Helpmekaar 36, Noordheuwel 21; Klerksdorp 5, Potchefstroom Gimnasium 0; Dinamika 19, Florida 14.

o.16: Monument 19, EG Jansen 15; Pietersburg13, Ellisras 5; Florida 15, Dinamika 7.

o.15: EG Jansen 15, Monument 14; Die Anker 38, Alberton 10; Helpmekaar 12, Noordheuwel 3; Riebeeckrand 28, Linden 12; Waterkloof 43, Ermelo 0; Potch Gimmies 17, Klerksdorp 12; Pietersburg 8, Ellisras 5; Dinamika 24, Florida 0.

o.14: Monument 17, EG Jansen 10; Die Anker 33, Alberton 10; Helpmekaar 7, Noordheuwel 3; Linden 28, Riebeeckrand 10; Klerksdorp 67, Potch Gimmies 0; Pietersburg 46, Ellisras 0; Dinamika 29, Florida 5.

[powr-comments id="49ece34f_1631428006191"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.