Landboudal behaal geskiedkundige sege oor Sentraal

Written by Hannes Nienaber

NewsGLandboudal School of Rugby | Landboudal behaal geskiedkundige sege oor Sentraal - School of RugbyDie Hoër Landbouskool Jacobsdal het Saterdag 'n geskiedkundige sege behaal deur die Hoërskool Sentraal op Landboupark net buite Jacobsdal met 20-10 met die kous oor die kop huis toe te stuur. Dit was die eerste keer in die skool se geskiedenis dat hy daarin kon slaag om die Tralies te klop. 

Landboudal het teen rustyd 'n voorsprong van 8-0 opgebou. Nie eers twee onverdoelde drieë deur Sentraal se Malvin Makgelane kon sy span van 'n nederlaag red nie. 

Die Lanties se flank Juan Viljoen asook die agtsteman, Damian Kuhn, het geskitter in hul span se sege. Agterlangs was die skrumskakel, De Vos Pienaar, 'n groot doring in die Bloktruie se vlees. Die sege sal nog lank in Jacobsdal onthou word. 

Die Tralies sal hard moet werk indien hy nie vanjaar met die houtlepel in die Vrystaatse A-liga wil wegstap nie. 

Jim Fouché het sy aanslag op vanjaar se titel in die Vrystaatse A-liga met 'n oortuigende sege van 40-13 oor die Hoërskool Fichardtpark afgeskop. Die wenspan het ook teen rustyd reeds met die telling op 21-8 in sy guns reeds beheer van die wedstryd geneem.

Die grondslag vir JF se oorwinning is deur sy vaste vyf gelê. Dit was veral die twee slotte, Zander van der Berg en Barend Steyn, wat met hul spel beïndruk het. Die loskopstut, MJ Meyer, het 'n hele paar stormlopies ingekry, terwyl die vaskopstut, Ruan Swart, ook 'n blink vertoning gelewer het. En as die res van jou vaste vyf só goeie dag op kantoor beleef dan kan jou haker, Schalk van der Walt, net baljaar.

JF se senterpaar, Janco Prinsloo en Kevin McIntyre, verdien ook vermelding vir hul goeie vertonings agterlangs. McIntyre het self daarin geslaag om twee keer Fichies se doellyn oor te steek. 

Die Hoërskool Staatspresident Swart van Brandfort het sy seisoen met 'n sege van 43-0 oor die Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter van Reddersburg afgeskop. Die span se kaptein en agtsteman, Raymond Muller, het sy span se aanslag van voor gelei. Hy het twee keer gaan druk.

Die span se buitesenter, Odin Zangenberg, het 18 punte tot sy span se sege bygedra. Hy het ook twee keer agter die doellyn gaan kuier en vier van sy span se sewe drieë verdoel. 

Die ander twee geskeduleerde wedstryde in die Vrystaatse B-liga het nie plaasgevind nie. St Andrews sal eerskomende Saterdag in 'n interskole-kragmeting teen Cornwall Hill College van Centurion te staan kom. Saints se teenstander van Saterdag, Sehunelo, het uit die liga onttrek. 

President Steyn en Zastron se kragmeting is uitgestel tot 'n latere stadium weens 'n paar positiewe Covid-gevalle. 

Puntemakers:

Landboudal 20 (8) - Drieë: De Vos Pienaar, Julian Range, Vuyani Moore. Doelskop: Moore. Strafdoel: Range. Sentraal 10 (0) - Drieë: Malvin Makgelane (2).

Jim Fouché 40 (21) - Drieë: Kevin McIntyre (2), Wian de Kock, Zander van der Berg, Barend Steyn, Albert Smit. Doelskoppe: JP van Heerden (5). Fichardtpark 13 (8) - Drieë: Shaun Schietekat, Morkel Terblanche. Strafdoel: Shaun Visagie.

Staatspresident Swart 43 (19) - Drieë: Raymond Muller (2), Odin Zangenberg (2), Frans Marx, Johnny Lee, Leonard Smit. Doelskoppe: Zangenberg (4). Hendrik Potgieter 0.

[powr-comments id="f9aaf935_1620704744174"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.