Boishaai behou indrukwekkende rekord teen Monnas se Wit Bulle

Written by Hannes Nienaber

NewsGBoishaai School of Rugby | Boishaai behou indrukwekkende rekord teen Monnas se Wit Bulle - School of RugbyDie Hoër Jongenskool Paarl sal tevrede na die Wes-Kaap terugkeer na sy drie vertonings tydens die skoolvakansie in Gauteng.

Boishaai het Saterdag tydens die laaste dag van die Barloworld Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi sy taaiste teenstand van die toer. die Hoërskool Monument van Krugersdorp met 34-18 verslaan. 

Die span van die Paarl was deurgans in beheer teen Monnas se Wit Bulle, maar moes nogtans sweet vir die sege. Die vertoning deur die Wit Bulle was egter ook hul beste sover die seisoen. 

Boishaai se twee vleuels, Ethan Isaacs en Luke van Schoor, het in die onderskeie hoeke oorgeduik in die eerste helfte om aan hul span 'n voorsprong van 17-8 teen rustyd te bewerkstellig.

Die geelkaart aan Monnas se slot HJ de Beer kort voor rustyd het ook die wenspan gehelp om beheer van die wedstryd te neem. Boishaai se haker, Ruben Swanepoel, het daarna vir sy span se derde drie van die eerste helfte oorgebars.

Vir Monnas het sy agtsteman, Tiaan Wessels, asook die flank Evan Retief deurgans goeie spel voorlangs gelewer. Die vaskopstut, S'fiso Magwaza, het in die los gewoel. 

Vir die span van die Paarl het sy losskakel, Compion von Ludwig, weer 'n bestendige vertoning gelewer. Von Ludwig het ook reeds aangedui dat hy sy loopbaan volgende jaar in Pretoria by die Blou Bulle sal voortsit. Hy het goeie ondersteuning agterlangs van die senter AJ van Heerden ontvang.

Voorlangs was Ruan Venter (flank), Luca Ribbens (slot) en Swanepoel die uitblinkers vir die wenspan.

Boishaai se afrigters, Peter Engledow en David Sadie, sal hoop dat hul span uit die drie seges in Gauteng die nodige selfvertroue sal put vir eerskomende Saterdag se tweestryd teen Grey-kollege van Bloemfontein. 

Buiten die sege oor Monnas het Boishaai ook vir Welkom Gimnasium (59-21) en Noordheuwel (79-7) oinderskeidelik tydens die Monnas Eeufees- en Noord/Suid-toernooi afgestof. 

FOTO: Marius Nortjé

Puntemakers: 

Hoër Jongenskool Paarl 34 (17) - Drieë: Ethan Isaacs, Luke van Schoor, Ruben Swanepoel, Compion von Ludwig, Abulele Ndabambi. Doelskoppe: Von Ludwig (2), Cobus Louw. Strafdoel: Von Ludwig. Monument 18 (8) - Drieë: Tiaan Wessels, Brian Bianchina. Doelskop: Alec Vermaak. Strafdoele: Vermaak (2).

[powr-comments id="b33126cf_1619938330847"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.