Gimmies sluit besoek aan Gauteng met nog 'n vyftigtal af

Written by Hannes Nienaber

NewsGPaarlGimnasium School of Rugby | Gimmies sluit besoek aan Gauteng met nog 'n vyftigtal af - School of RugbyPaarl Gimnasium se breiers, Pieter Rossouw en Helmut Lehmann, sal tevrede wees met hul span se vertonings tydens die vakansie in Gauteng. Die span van die Paarl het Saterdag sy derde wedstryd van die vakansie teen Helpmekaar-kollege van Johannesburg met 52-5 as oorwinnaars van die veld gestap.

Die Gimmies het daarmee die jaarlikse Barloworld Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi onoorwonne afgesluit na hy in sy eerste wedstryd ook vir Garsfontein (84-0) met 'n vyftigtal gelooi het. 

Die span van die Paarl het ook tydens die Monnas Eeufees-toernooi vir die eerste keer sedert 2012 daarin geslaag om Grey-kollege (18-16) die loef af te steek. Gimmies kom volgende Saterdag teen Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch in die Paarl te staan.  

Saterdag teen Helpmekaar het Gimmies weer 'n afgeronde vertoning gelewer. Die skakelpaar van Michael Koch en Liam Koen het weer rigting agterlangs verskaf. Koen, die seun van die gewese Bok-losskakel Louis Koen, het met sy balverspreiding asook skopwerk beÏndruk.

Die vleuel Logan Opperman het ook al die kanse wat na sy kant toe gekom het ten volle benut. Hy het twee keer agter Helpies se doellyn gaan kuier. Die heelagter, Juniel Losper, het ook elke keer gevaarlik gelyk wanneer hy in besit geplaas is. Kort na hy vir sy drie deurgedraf het, moes hy die veld vir tien minute verlaat weens 'n ongeoorloofde duikslag.

Voorlangs het die Gimmies 'n paar ysters in Luca Bakkes (haker), Corné Beets, Joe du Toit (albei flanke) en Corné Lavagna (loskopstut). Helpies se uitstaande speler in die nederlaag was sy slot Ruan Slabbert wat ook welverdiend sy span se enigste drie gedruk het. Toe jy nog al Helpies se spelers se nommers op hul trui kon uitmaak, was dit slegs Slabbert sin wat al weens die modder nie meer sigbaar was nie. 

Puntemakers: 

Paarl Gimnasium 52 (26) - Drieë: Logan Opperman (2), Eddie Visser, Michael Koch, CP Kleynhans, Kyle Valentine, Janiel Losper, Luca Bakkes. Doelskoppe: Liam Koen (6). Helpmekaar-kollege 5 (5) - Drie: Ruan Slabbert.

[powr-comments id="a8d0b297_1619867929611"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.