Le Roux aan stuur vir Oakdale se sege oor Garsfontein op sopnat veld

Written by Hannes Nienaber

NewsGOakGars School of Rugby | Le Roux aan stuur vir Oakdale se sege oor Garsfontein op sopnat veld - School of RugbyOnthou maar die naam van Neil le Roux

Die skitterende skrumskakel van Oakdale Landbou gaan nog diep spore in Suid-Afrikaanse rugby trap as hy op sy spel voortbou. Sy spel herhinner baie aan die van die gewese Springbok Fourie du Preez.

Le Roux het ook reeds besluit om sy loopbaan volgende jaar in die Jakarandastad by die Blou Bulle voort te sit. Hy skop van albei voete af van agter die losgemale met die akkuraatheid van 'n skerpskutter. 

Le Roux was Vrydagaand tydens die derde dag van die Barloworld Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi weer een van sy span se voorste spelers in sy sege van 41-12 oor die Hoërskool Garsfontein op 'n papnat hoofveld van Affies was.

Sy aangeewerk op die sopnatveld was boonop ook van hoogstaande gehalte. 'n Geel bal wat amper so seepglad soos die leerballe van destyds was wanneer hulle nat geword het, het hy steeds meters ver met akkuraatheid aangegee.  

Garsfontein het na sy vernederende nederlaag van 84-0 teen Paarl Gimnasium so ietwat van sy verlore aansien met sy durf in die eerste helfte herwin. Op die ou einde was die oormag van die kragtige Oakdale se Bulle net te veel.

Die wenspan se agtsteman, Phillip Kleynhans, het in sy span se twee wedstryde op Affies se veld dalk die beste spel deur 'n agtsteman gelewer sedert CJ Stander (ook 'n voormalige leerder van Oakdale) tydens die hoofwedstryd van die Cravenweek van 2008 op dieselfde veld met 'n uitmuntende vertoning die Vrystaat getroef het. Stander het destyds die Suidwestelike Distrikte tot 'n sege van 31-25 oor die Vrystaat aangevoer.

Kleynhans het met een van sy kenmerkende stormramlopies verby en bo-oor minstens vyf verdedigers van Garsies genael vir sy drie. Die kaptein en flank van Oakdale, Paul de Villiers, het met sy inklimspel in die vastelos asook by die afbreekpunte in die wedstryd beïndruk. 

Die slot Erhard "Ertjies" Lambrecht verdien ook vermelding. Hy het deurgans hard gewerk en is vir sy goeie spel met twee drieë in minder as vyf minute beloon. 

Vir Garsfontein het sy losskakel, Deacon Pretorius, vleuel Kyle Thompson, voorryman Thansville Mayman en agtsteman Josh van Houghten moedig probeer.

Puntemakers: 

Oakdale Landbou 41 (17) - Drieë: Erhard Lambrecht (2), Phillip Kleynhans (2), Johan Durr, Neil le Roux, Enrique Arendse. Doelskoppe: Le Roux (3). Garsfontein 12 (5) - Drieë: Steven Nel, Kyle Thompson. Doelskop: Deacon Pretorius.

[powr-comments id="0ff529ef_1619810484656"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.