Stellenberg bo teen die Rooi Bulle na twee rondes in die kryt

Written by Hannes Nienaber

NewsGDamianMarkus School of Rugby | Stellenberg bo teen die Rooi Bulle na twee rondes in die kryt - School of RugbyAs mens die terme van 'n boksgeveg kan gebruik was die eerste helfte tussen die Hoërskool Stellenberg en HTS Middelburg 'n kaalvuisgeveg agter in 'n stegie, terwyl die tweede helfte 'n stoeigeveg in 'n modderbad was.

Die "skeidsregters" het die geveg met 19 punte teenoor 10 aan Stellenberg toegeken, maar daar sou 'n hele paar bokskenners na die tyd gereken het dat die geveg 'n strawwer tweestryd is, as wat die telling aandui. 

Die Jade Brigade het teen die omdraaislag daarin geslaag om 'n voorsprong van 12-5 op te bou. Toe die twee spanne na rustyd egter die kryt uh askuus veld wou betree het die weerligsirene by Affies geloei. 

'n Hewige bui reën het ook daarna uitgesak en toe die twee spanne na amper 33 minute se onderbreking weer die veld kon betree was dit 'n pappery. 

Die tweede helfte van die wedstryd tydens die derde dag van die Barloworld Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi is tot slegs 30 minute ingekort weens die onderbreking.

Stellenberg sal bly wees dat hy die toernooi onoorwonne met die sege kon afsluit, maar sal ook erken dat hy homself in 'n veel strawwer kragmeting vasgeloop het as wat hy vooraf verwag het. Die Rooi Bulle van HTS Middelburg was duidelik goed opgewerk vir die kragmeting. 

Een speler, Damian Markus, het sonder twyfel in die kragmeting bewys dat hy vanjaar nog 'n hele paar spanne probleme gaan besorg. Die binnesenter van die Jade Brigade was ondanks die gierige weer steeds op sy stukke. Hy het 'n hele paar keer deur gapings geglip en selfs op die dekverdediging HTS Middelburg se slot Wilco Geldenhuys ingehardloop en gelak.

Dit nadat dit gelyk het of Geldenhuys 'n lopie van diep uit sy span se eie helfte sou afrond. Markus se sentermaat, Jacquin Jacobus, het ook weer 'n goeie vertoning gelewer, terwyl die haker, Joshua Eras, ook goud in die sege vir sy span werd was. Markus en Jacobus was verlede jaar nog albei leerlinge van HTS Middelburg.

Vir HTS Middelburg verdien elkeen van die Rooi Bulle 'n klop op die skouer. Na hulle nederlaag teen Duineveld (21-39) tydens die tweede dag van die toernooi sou min hulle kans gegee het om vir Stellenberg weerstand te bied. Veral na Stellenberg op die eerste dag geslaag het om die Hoërskool Monument (34-33) vir die eerste keer ooit af te stof.

Puntemakers: 

Hoërskool Stellenberg 19 (12) - Drieë: Franco Roux, Jayson January, Gideon Anderson. Doelskoppe: Tommie Smook (2). HTS Middelburg 10 (5) - Drieë: Donovan Joubert, Roniel Putter.

[powr-comments id="a8891275_1619805916988"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.