Grey-kollege draf Menlopark kaf om terug op die wenpad te kom

Written by Hannes Nienaber

NewsGGreyCollege School of Rugby | Grey-kollege draf Menlopark kaf om terug op die wenpad te kom - School of Rugby'n Span van Grey-kollege wat sy wonde lek, is altyd 'n gevaarlike span om te pak.

Die span van Bloemfotnein het Woensdag in die hoofwedstryd van die tweede dag van die jaarlikse Barloworld Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi vir die Hoërskool Menlopark met 51-19 kaf gedraf. 

Grey het teen rustyd reeds 'n stewige voorsprong van 27-9 opgebou. Dit was veral op die punte waar Menlopark te veel spasie vir Grey gegun het. Die span van Bloemfontein beskik oor hope vaart op die punte in sy twee vleuels, Diego Lottering en Alfondso Isaacs.

Lottering het twee keer agter die doellyn gaan kuier, terwyl Isaacs ook een keer hakskene vir Menlopark se verdedigers gewys het om te gaan afrond. 

Dit was reeds vroeg in die wedstryd duidelik dat Grey heelwat meer tyd op die aanval het as in sy nederlaag van 16-18 teen Paarl Gimnasium tydens die Monnas Eeufees-toernooi in Krugersdorp.

Grey se losskakel, Jean Smith, het met sy reuse skopvoet gehelp om die druk telkens te verlig. Die beste speler vir die wenspan was egter sy loskopstut, Jaunn Else, wat elke keer wat hy die bal onder die arm vasgeknyp het 'n hele paar meters veld vir sy span gewen het. Else nael en pypkan soos 'n wafferse senter. 

Die agtsteman en kaptein, Nelius Volschenk, en die slot JF van Heerden kan ook tevrede met hul vertonings vir die wenspan voel.

Menlopark het nooit handdoek ingegooi nie en verdien daarvoor 'n kompliment. Die span se losskakel, Shaun Calitz, het 'n geleerde skopskoen en het met twee lang strafdoele in die eerste helfte geslaag om sy span se telling aan die rol te hou. Toe die binnesenter, Wian Faber, die veld weens 'n besering moes verlaat het die span se vermoë op die aanval 'n beduidende knou gekry. 

Na afloop van die tweede dag het die spanne van die suide teen 'n gemiddelde telling van 51-17 oor hulle teenstanders van die noorde koning gekraai.

Puntemakers: 

Grey-kollege 51 (27) - Drieë: Juanré Breitenbach (2), Diego Lottering (2), Juann Else, Alfondso Isaacs, Ferdi Vergottini, Caleb Abrahams. Doelskoppe: Jean Smith (4). Strafdoel: Smith. Menlopark 19 (9) - Drieë: Nathan Mong, Gilarmo Links. Strafdoele: Shaun Calitz.

[powr-comments id="3e4d921a_1619635259236"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.