Horn ryg die drieë in vir Durbies, terwyl hulle Marais Viljoen afslag

Written by Hannes Nienaber

NewsGDurbanville School of Rugby | Horn ryg die drieë in vir Durbies, terwyl hulle Marais Viljoen afslag  - School of RugbyDie Hoërskool Durbanville se eerste rugbyspan het die suide se oorheersing voortgesit tydens die jaarlikse Barloworld Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria.

Die Durbies se linkervleuel, Levandré Horn, was in 'n vernietigende bui en het ses drieë in sy span se wegholsege van 85-8 oor Marais Viljoen van Alberton gedruk. 

Horn het binne die eerste 23 minute van die wedstryd reeds vier keer agter Marais Viljoen se doellyn gaan kuier. Dy vier drieë in die eerste helfte het ook dan gehelp dat sy span teen rustyd 'n voorsprong van 24-8 geniet het. 

Durbanville het in die tweede helfte na nog 'n hoër rat oorgeskakel. Horn het ook die eerste twee drieë in die helfte gedruk. 'n Bekende gesig in die noorde Herschelle Goodman het ook goeie spel vir Durbies gelewer. 

Goodman was in 2020 nog 'n lid van Monument in Krugersdorp se eerstespan. Durbanville se heelagter, Khirwan Erasmus, was ook 'n groot doring in die verloorspan se vlees. Erasmus het self twee keer 'n draai agter Marais Viljoen se doellyn gegooi. 

Nog 'n speler wat dubbelle driedruk-plesier ervaar het was die buitesenter, Iwan Bloys. Sy sentermaat, Duncan Steenkamp, het agt van Durbies se 13 drieë verdoel. Die kragmeting is boonop ses minute vroeg gestop so die telling kon heelwat groter gewees het.

Duineveld van Upington het vir opwindende spel in hul sege van 39-21 oor HTS Middelburg se Rooi Bulle gesorg. Die Velties het teen die omdraaislag 'n voorsprong van 24-7 opgebou. 

Die wenspan se vaskopstut, Juan Aggenbag, het 'n goeie dag op kantoor beleef. Hy het nie net sy stempel in die skrums afgedruk nie, maar ook twee keer oor die doellyn gestorm. 

HTS Middelburg sou vanjaar waarskynlik 'n bulspan in die veld gestoot het, maar weens die Coronavirus-pandemie het die skool besluit om sy beurse te staak. Nie minder as 11 spelers wat verlede jaar vir die Rooi Bulle op Loftus Versfeld in hul sege oor Boland Landbou in aksie was, speel nou hulle skolerugby elders. 

Die betrokke spelers is Tiaan Wessels, Alec Vermaak, Cassie Botes (almal Monument), Erick Jooste (Affies), Pieta Voges (Garsfontein), Christiaan Botha, Ricardo Correia (albei Nelspruit), Khirwan Erasmus, Jarrod Williams (albei Durbanville), Damian Markus, Jacquin Jacobus (albei Stellenberg) 

Puntemakers: 

Duineveld 39 (24) - Drieë: Juan Aggenbag (2), Schalk Opperman, Jannes van den Heever, Franco du Plessis, Gelermo Julie. Doelskoppe: Alwyn Kotze (2). HTS Middelburg 21 (7) - Drieë: Frandré Pieterse, Rinkhals Smit, Jandré Vlok. Doelskoppe: Hardus Visser (3).

Hoërskool Durbanville 85 (24) - Drieë: Levandré Horn (6), Khirwan Erasmus (2), Iwan Bloys (2), Darren Brown, Herschelle Goodman, Guhan du Bois. Doelskoppe: Duncan Steenkamp (8), Goodman (2). Marais Viljoen 8 (8) - Drie: Kian Coetzer. Strafdoel: Henré van Zyl.

[powr-comments id="ef357b47_1619625234687"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.