Oakdale Landbou wys Affies wie is baas op die plaas

Written by Hannes Nienaber

NewsGOakdaleLandbou School of Rugby | Oakdale Landbou wys Affies wie is baas op die plaas - School of RugbyOakdale Landbou se Bulle het die Wit Bulle van die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria op hul agterplaas in die Jakarandastad met 46-21 van die grond af laat eet. Die wedstryd was die hoofwedstryd van die eerste dag van die Barloworld Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi.

Dit was boonop die span van Riversdal se eerste sege ooit oor Affies. Die twee skole se eerstespanne het mekaar wel nog net twee keer vantevore op die rugbyveld ontmoet.

Die eerste keer was in 1991 (31-3) en daarna het die spanne eers weer in 2014 (21-10) ontmoet. Affies was albei kere baas.  

Oakdale spog vanjaar met 'n bulspan en gaan nog 'n hele paar spanne behoorlik op hul neuse laat kyk. Die agtsteman, Philip Kleynhans, is 'n natuurlike groot seun wat waarskynlik nie sy gelyke op skoolvlak vanjaar in sy posisie het nie. 

Kleynhans het voorlangs ingedons en saam met die kantman, Paul de Villiers, die tuisspan tot oorgawe help dwing. De Villiers is Oakdale se hoofseun en is vir sy goeie spel met 'n drie beloon. 

Oakdale se skrumskakel, Neil le Roux, is ook 'n speler wie se naam nog baie vanjaar sal opduik. Hy is nie net 'n akkurate stelskopper nie, maar sy taktiese skopwerk van agter die loskrums verdien ook lof. Hy het boonop op die verdediging ook reuse werk vir die wenspan verrig. 

Die drie van die heelagter, Matthew Golden, sal nog 'n hele paar keer opduik op hoogtepunte van die wedstryde. Hy het a la Jonah Lomu oor Mike Catt in die Wêreldbeker-halfeindstryd van 1995 oor 'n laaste verdediger van Affies gehardloop om sy drie in die hoek te druk.

Op 'n stadium het dit geblyk of Wit Bulle vir slegs die tweede keer in die geskiedenis 'n vyftigtal sou afstaan. Die enigste ander keer was 'n donker dag in 2016 toe hulle met 29-53 teen Grey-kollege van Bloemfontein die onderspit gedelf het. Danksy rotsvaste verdediging het dit boonop gelyk of Affies dalk nie 'n drie in die wedstryd sou druk nie, maar die Wit Bulle het gelukkig nooit handdoek ingegooi nie. 

Vir Affies het sy agtsteman, Dillon Smith, en skrumskakel, Layton Horn, deurgans moedig probeer. Smith het sy lyf op die spel geplaas asook 'n paar goeie lopies ingekry. Horn het ondanks die rotsvaste verdediging van Oakdale gereeld goeie vrae aan die verdediging gevra. 

Affies kom Saterdag in die hoofwedstryd van die laaste dag teen Welkom Gimnasium te staan, Oakdale Landbou sal Vrydag in die hoofwedstryd teen Garsfontein in aksie wees.

Puntemakers: 

Oakdale Landbou 46 (29) - Drieë: Paul de Villiers, Enrique Arendse, Matthew Golden, Morné Els, Keagan Coerecius, Johan Balt. Doelskoppe: Neil le Roux (5). Strafdoele: Le Roux (2). Affies 21 (9) - Drieë: Layton Horn, Junior Masilela. Doelskop: Riaan Gerber, Strafdoele: Gerber (3).

[powr-comments id="4e9f624d_1619555244878"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.