Gimmies slag Garsfontein af tydens Noord/Suid-toernooi

Written by Hannes Nienaber

NewsGPaarlGim School of Rugby | Gimmies slag Garsfontein af tydens Noord/Suid-toernooi  - School of RugbyPaarl Gimnasium se eerste rugbyspan sal nie maklik vanjaar op die rugbyveld gestuit word nie. Die Gimmies het vir Garsfontein met 84-0 tydens die eerste dag van die Barloworld Toyota Menlyn Noord-Suid-toernooi verneder.

Dié nederlaag is Garsies se grootste sedert hy in 2010  met 'n honderdtal teen die Hoërskool Waterkloof (102-0) in die stof gebyt het. Daardie nederlaag het destyds tot die oplewing van Garsies se rugby gelei, maar die nederlaag teen Gimmies sou sonder twyfel net so seer gemaak het.  

Gimmies het oor heeltemal te veel skietgoed vir Garsfontein beskik. Die span van die Paarl het teen rustyd 'n gemaklike voorsprong van 21-0 opgebou, maar het daarna in die tweede helfte na 'n hoër rat oorgeskakel.

Die span se hotklou losskakel, Liam Koen, het 27 punte in die oorwinning aangeteken. Koen het een van sy span se 12 drieë in die wegholsege gedruk en met al elf sy pogings pale toe geslaag.

Die laaste doelskop is deur die binnesenter, PA van Niekerk, waargeneem. Hy en sy sentermaat, CP Kleynhans, het baljaar in die middelveld. Albei die spelers het dubelle driedruk-plesier ervaar. 

Gimmies se flank Corné Beets het die veld vol gespeel en met 'n paar kragtige lopies die verdedigers laat bontstaan. Sy flankmaat van Saterdag se sege oor Grey-kollege (18-16), Luca Bakkes, het die keer op haker gesak en weer 'n beduidende impak gehad. 

Hoewel Gimmies was 'n eenheid 'n uitstekende wedstryd beleef het verdien Koen se skakelmaat, Michael Koch, ook 'n klop op die skouer. Hy het die spel goed gelees en sy losskakel van goeie diens verskaf.

Gimmies kom Saterdag teen Helpmekaar-kollege in sy volgende wedstryd van die toernooi te staan. Hoewel Helpies se aandag eers op Woensdag se kragmeting teen Outeniqua sal wees, sal die span van Johannesburg se afrigters sonder twyfel ietwat bekommerd wees oor wat Saterdag op hul span wag.

Puntemakers: 

Paarl Gimnasium 84 (21) - Drieë: PA van Niekerk (2), CP Kleynhans (2), Janeil Losper, Corné Beets, Frankie dos Reis, Luca Bakkes, Liam Koen, Luan Botha, Logan Opperman, Dean Crouse. Doelskoppe: Koen (11), Van Niekerk. Garsfontein 0.

[powr-comments id="619a685a_1619547094593"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.