Kwaggas en Rusties aan die wenkant op Monnas se Eeufees-toernooi

Written by Hannes Nienaber

NewsGNoordheuwel School of Rugby | Kwaggas en Rusties aan die wenkant op Monnas se Eeufees-toernooi - School of RugbyDie Hoërskool Outeniqua het net genoeg brandstof in sy tenk gelos om die Hoërskool Noordheuwel met 29-17 tydens die tweede dag van die Monnas Eeufees-toernooi in Krugersdorp te troef.

Daar kan weer na die wedstryd gekyk word op DigiTV.co.za deur die volgende skakel te volg - http://bit.ly/noordout

Dit was 'n kragmeting van twee helftes na die Kwaggas reeds teen rustyd 'n stewige voorsprong van 22-5 opgebou het.

Die Kwaggas was in beheer van sake in die eerste helfte, maar het in die tweede helfte so bietjie fut verloor. Daar moet egter ook genoem word dat buiten die lugdruk en dat dit die eerste wedstryd van die seisoen was daar ook 'n sterk wind tydens die kragmeting gewaai het. 

So dit is nie 'n geval dat die Kwaggas nie fiks is nie, maar liewer 'n sameloop van omstandighede wat veroorsaak het dat die tweede helfte van die kragmeting aan Noordheuwel behoort het. 

Die Kwaggas se binnesenter, Johan Leonard, het 'n goeie dag op kantoor beleef. Hy is natuurlik die seun van die voormalige Springbok-agtsteman, Anton Leonard.

Sy sentermaat, Simeon Oosthuizen, het sommer in die eerste minuut al sy span se rekening met 'n skitterende drie ge-open. Die losvoorspelers Divan Coetzee en Francois Breytenbach het ook stewige vertonings gelewer.

Die Nories het egter nie al sy geleenthede wat na sy kant toe gekom het benut nie. Die verloorspan se agtsteman en kaptein, Hardus Nortjé, het deurgans goeie spel gelewer. 

Die Kwaggas kom Woensdag in sy volgende wedstryde van die seisoen teen Helpmekaar-kollege tydens die Barloworld Noord/Suid-toernooi te staan. Noordheuwel is ook op die toernooi in aksie en het 'n moeilike vraestel wat op hulle wag Woensdag wanneer hulle teen die Hoër Jongenskool Paarl op die veld draf.

Die Hoërskool Rustenburg se buitesenter, Storm van Plaster, het 'n storm op Pretoria Boys' High in die middelveld losgelaat en sy span in staat gestel om met 'n oortuigende sege van 41-15 as oorwinnaars van die veld te stap. Van Plaster het 'n driekuns aan drieë behaal. 

Daar kan weer na die wedstryd gekyk word op DigiTV.co.za deur die volgende skakel te volg - http://bit.ly/ruspretoria

Van Plaster het agterlangs vir Pretoria Boys' High probleme besorg, terwyl die woelige haker, Michael Pieterse, ook 'n doring in die span van die Jakarandastad se vlees was. 

FOTO: Johan Orton

Puntemakers: 

Outeniqua 29 (22) - Drieë: Simeon Oosthuizen, Dylan Lamprecht, Riaan Swart, Francois Breytenbach, Casten Michaels. Doelskoppe: Johan Leonard, Dewanley van Rensburg. Noordheuwel 17 (5) - Drieë: Donovan Britz, Hardus Nortjé, Bertie Venter. Doelskop: Goitse Tsimakwane.

Hoërskool Rustenburg 41 (19) - Drieë: Storm van Plaster (3), J de Fortier, H Bosse, E van Tonder, C de Lange. Doelskoppe R Moabi (3). Pretoria Boys' High 15 (8) - Drieë: Kian Kurz, Jarryd Carelse. Doelskop: Wynand Roeloffze. Strafdoel: Roeloffze.

[powr-comments id="498308a8_1619367650012"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.