Von Ludwig en Venter aan spits van Boishaai-sege oor Welkom Gim

Written by Hannes Nienaber

NewsGCompionvonLudwig School of Rugby | Von Ludwig en Venter aan spits van Boishaai-sege oor Welkom Gim - School of RugbyDie Hoër Jongenskool Paarl moes aanvanklik harder werk vir sy oortuigende sege van 59-21 oor Welkom Gimnasium as wat die telling aandui. Boishaai het 'n skamele voorsprong van 'n enkele punt (22-21) geniet toe lemoentyd aangebreek het. 

Die twee spanne het mekaar tydens die tweede dag van die Monnas Eeufees-toernooi in Krugersdorp die stryd aangesê. Daar kan weer na die wedstryd gekyk word op DigiTV.co.za deur die volgende skakel te volg - http://bit.ly/BoishaaiWelkom

Boishaai se losskakel, Compion von Ludwig, het 'n statige vertoning op losskakel gelewer. Hy het 27 van sy span se punte aangeteken. Dit het 'n driekuns aan drieë ook ingesluit. Hy het die driekuns met die laaste beweging van die wedstryd voltooi. 

Von Ludwig beskik oor 'n geleerde skopskoen en hy sit sy agterlyn seepglad weg. Hy is gewis 'n speler wat vanjaar nog baie oor gepraat sal word. Een van sy strafdoele het hy vanaf die halflyn oorgeklits.

Sy direkte teenstander, Bennie Human, hoef egter self nie 'n tree vir Von Ludwig terug te staan nie. Human is 'n opwindende aanvallende losskakel wat die span van die Paarl se verdedigers behoorlik met sy dartellopies getoets het. Gimmies het op die sirene wat rustyd aangedui het gaan druk met die buitesenter, Keno Alexander, wat afgerond het. 

Boishaai se beste speler op die dag was sy slot Ruan Venter. Hy het sy eerste van twee drieë vanaf die afskop van die kragmeting gedruk. Venter se vertoning was waarskynlik die beste van enige speler op die dag. Hy het ook 'n hele paar spelers se ribbes blou met sy lakwerk gelaat. Sy slotmaat, Coetzee le Roux, het self 'n goeie dag op kantoor beleef. 

Gimmies se kanse om 'n opskudding te veroorsaak is deur twee beserings in die wiele gery. Eers moes die flank Tsepiso Witzie die veld weens 'n skouerbesering verlaat. Hy was 'n doring in die vlees van Boishaai by die afbreekpunte. Later moes die stewige en ervare agtsteman, Calla Pienaar, die veld verlaat. 

Pienaar is 'n fisieke spelers en dit was duidelik dat hy na sy vertrek gemis was. Sonder hom en Witzie was die oemf uit Gimmies se aggtal.  

FOTO: Johan Orton

Puntemakers: 

HJS Paarl 59 (22) - Drieë: Compion von Ludwig (3), Ruan Venter (2), Ethan Isaacs, Ruben Swanepoel, Luke van Schoor, AJ van Heerden. Doelskoppe: Von Ludwig (3), Nog Een. Strafdoele: Von Ludwig (2). Welkom Gimnasium 21 (21) - Drieë: Calla Pienaar, Bennie Human, Keno Alexander. Doelskoppe: Human (3). 

[powr-comments id="f0bbbb3e_1619341256529"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.