Gimmies beëindig Grey-kollege se onoorwonne status sedert 2017

Written by Hannes Nienaber

NewsGLiamKoen School of Rugby | Gimmies beëindig Grey-kollege se onoorwonne status sedert 2017 - School of RugbyPaarl Gimnasium het sy spiere behoorlik op die eerste dag van sy seisoen gebult deur vir die eerste keer sedert 2012 daarin te slaag om Grey-kollege van Bloemfontein met 18-16 in 'n titaniese stryd te klop.

Die wedstryd was die vernaamste voorwedstryd van Saterdag se program tydens die Monnas Eeufees-toernooi in Krugersdorp. Daar kan weer na die wedstryd gekyk word op DigiTV.co.za deur die volgende skakel te volg - http://bit.ly/GimGrey

Met die laaste sege van 2012 tydens die Kearsney College Paastoernooi het Gimmies 'n sekere losskakel, Handré Pollard gehad wat sake met 22 punte in die sege van 45-29 dikteer het. Pollard het natuurlik ook later daardie jaar die Jong Bokkies (SA o.20) tot die titel as Wêreldkampioen gehelp.

Dié nederlaag Saterdag in Krugersdorp was Grey-kollege se eerste nederlaag sedert hy die knie in 2017 teen Selborne College (19-20) in Oos-London moes buig. Die span van die Rosestad was dus vir 40 wedstryde agtereenvolgens onoorwonne.  

'n Stryd waarna ondersteuners vooraf hul lippe sou aflek was die een tussen die twee losskakels, Liam Koen (Paarl Gimnasium) en Jean Smith (Grey-kollege). Albei se pa's het ook op hulle dag op losskakel vir die Springbokke uitgedraf.

Liam se pa, Louis, het die Bokke in 15 toetse verteenwoordig en is deesdae 'n hoë-prestasie bestuurder by SA Rugby. Franco, vader van Jean, het die Groen-en-Goud nege keer oor die kop getrek en is deesdae die hoofafrigter van Italië se rugbyspan. 

Die Gimmies het Saterdag op die regte tye daarin geslaag om die telbord aan die rol te hou om Grey deurgans onder druk te hou. Die span se heelagter, Janeil Losper, het met slegs tien minute se speeltyd oor in die eerste helfte die eerste drie van die wedstryd afgerond. Dit het Gimmies in staat gestel om 'n voorsprong van 10-3 teen rustyd te geniet. 

Die twee swaargewigte het mekaar aan die begin eers behoorlik uitgekyk, met Koen wat die eerste punte van die wedstryd met 'n strafdoel eers in die 20ste minuut aangeteken het. Smith het drie minute later sake met 'n strafdoel gelyk getrek. 

Die grootste swaaipunt in die kragmeting was met die afskop van die tweede helfte. Koen het die bal hoog laat hang met die afskop en Grey het toegelaat dat die bal die gras eerste proe waarna dit reg gewip het vir Gimmies se vleuel JW Ellis om 'n pragdrie te druk. Gimmies het hiermee hul voorsprong na 15-3 gerek.

Gimmies se kantman Luca Bakkes en die slot Joe du Toit was voorlangs ysters in die sege. Du Toit het Grey probleme in die lynstane besorg. Die span van Bloemfontein het net in die eerste helfte drie keer in die fase van die spel besit afgestaan. Bakkes se pa, Luther, het op sy dag Griekwas se seniorspan aangevoer.

Grey se loskopstut, Jaun Else, het hope rugby in hom, terwyl die slot JF van Heerden en die kaptein en agtsteman, Nelius Volschenk, ook meer as hul kant gebring het. 

Die kragmeting was sonder twyfel 'n vertoonvenster vir skolerugby en 'n mens wonder as skolespelers dié gehalte van spel kan opdis na bykans 400 dae sonder enige skolewedstryde. Dit terwyl rugbyondersteuners in Suid-Afrika langtand moes kou aan wat proffesionele spelers vroeër vanjaar in die Curriebeker opgedis het.

Interresant is dat dit die eerste keer sedert 2005 is wat Grey se eerstespan hul eerste wedstryd van die seisoen verloor. Destyds in 2005 was Grey se fisioterapeut, Jaco Colyn, die kaptein en skrumskakel van die Hoërskool Outeniqua wat Grey tydens Louis Botha se jaarlikse rugbydag in Bloemfontein met 29-19 omgedop het. 

Puntemakers: 

Paarl Gimnasium 18 (10) - Drieë: Janeil Losper, JW Ellis. Doelskop: Liam Koen. Strafdoele: Koen (2). Grey-kollege 16 (3) - Drieë: Juanré Breitenbach, Caleb Abrahams. Strafdoele: Jean Smith (2).

[powr-comments id="7388299b_1619338661734"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.