Friday, August 19, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Marais Viljoen sorg vir afskeids-geskenk vir hul hoof, Martie Heystek

By Hannes Nienaber , in News , at 1 August 2022

Dit was ‘n spesiale dag in Alberton vir Marais Viljoen in die Noordvaal-trofee.

Die tuisspan se skoolhoof, Martie Heystek, het die eerstespan op die veld gelei in sy laaste tuiswedstryd waar sy aanstuur van die skool se sake sal staan.

Die eerstes het ook seker gemaak dat sy die dag vir altyd sal onthou deur Menlopark met 20-12 die loef af te steek. Die span van Alberton se eerste sege in vanjaar se reeks.

Heystek is sedert 1980 by Marais Viljoen betrokke en tree aan die einde van die jaar af.

Marais Viljoen het die sege danksy uitsonderlike verdediging beklink. Die tuisspan het teen rustyd reeds ‘n voorsprong van 20-3 geniet.

Dit was veral sy flank Cephas van Biljon asook die slot Marcel Morris wat met hul inklimspel die vuur verskaf het. Morris het albei sy span se drieë afgerond.

Menlopark sou nie in Alberton aangekom het en Marais Viljoen onderskat het nie. Die span van Alberton het die vorige week met 34-47 teen die onoorwonne Monument van Krugersdorp vasgeval. Boonop het Marais Viljoen in die kragmeting sewe drieë teenoor Monnas se ses gedruk.

Menlopark het heelwat spelers op die krukkelys gehad met veral die losskakel, Marco Strydom (enkel) en buitesenter Divan Viljoen (skouer) wat groot leemtes gehad het.

Die agtsteman, Hendre du Toit, was weer ‘n staatmaker vir die Parkies na hy die vorige wedstryd op binnesenter moes diens doen.

Die Hoërskool Garsfontein het op sy tuisveld, Bere-park, in vyfde rat weggespring en teen lemoentyd reeds ‘n stewige voorsprong van 34-10 oor Noordheuwel geniet.

Dit sou egter ‘n wedstryd van twee helftes wees met die eindtelling wat op 42-32 in die tuisspan se guns geëindig het. Garsies se buitesenter, Demitri Erasmus, was weer op sy stukke en het die Nories se verdediging hoofbrekens besorg.

Die span se SA Skole-heelagter, Michail Damon, het ook gewys dat hy nie net oor hope vaart beskik nie, maar selfs nie bang is om sy lyf op die spel te plaas nie. Die Bere se afrigters, Johan du Plessis en Hendre Marnitz, behoort ook tevrede met die vertoning van Zian Cilliers op skrumskakel voel.

Cilliers het die wedstryd op skrumskakel begin, terwyl Garsies se SA Skole-skrumskakel, Steven Nel, op die plaasvervangersbank stelling moes inneem. Nel en Damon sal nie tydens die halfeindronde van die reeks vir die Bere in aksie kan wees weens hul SA Skole-verpligtinge nie.

Voorlangs het die agtsteman, Maynard Kleynhans, sy beste vertoning nog in ‘n Bere-trui opgedis. Hy het ‘n hele paar keer bresse in Noordheuwel se verdediging geslaan en ook op ‘n slag ‘n man hard aarde toe met ‘n duikslag gebring.

Nories se terugvegpoging in die tweede helfte is deur sy twee flanke, Ludie Schutte en DP van Zyl, aangevuur. Die vaskopstut, Arne Roux, het ook ‘n hele paar keer soos ‘n wafferse senter gepypkan en deur gapings geglip. Roux het ook ‘n paar groot duikslae uitgevoer.

Agterlangs was die besoekers se skrumskakel, Coen-lee Koekman, en die buitesenter, Marshall de Vos, ook uitmuntend. Die gevaarlike losskakel, JT Kapank, het ‘n stil wedstryd volgens sy standaarde beleef, so Garsies sal nie die span van Krugersdorp onderskat indien hulle paaie weer in die halfeindronde sal kruis nie.

Monument se Wit Bulle stoom steeds voort en het nog ‘n bonuspuntsege in sy oorwinning van 34-12 oor Helpmekaar-kollege behaal. Dit was egter ‘n taai eerste helfte met Monnas wat ‘n skrale voorsprong van 12-5 teen rustyd geniet het.

Monnas se flank Tristan de Costa asook die losskakel, Tyler Sefoor, was hul beste spelers op die dag. Die kaptein en slot, HJ de Beer, verdien egter ook ‘n klop op die skouer vir sy vertoning.

Helpies se haker, Ruan Welman, was soos gewoonlik ‘n staatmaker vir sy span. Die linkervleuel, Luc van Rhyn, het die drie van die dag gedruk toe hy ‘n lopie van ongeveer 60 meter afgerond het.

Dr. EG Jansen van Boksburg het vir HTS Middelburg met 39-10 die loef afgesteek. Die Jansies se slot, Christopher Swart, het twee van sy span se ses drieë afgerond.

Puntemakers: 

Marais Viljoen 20 (20) – Drieë: Marcel Morris (2). Doelskoppe: Charl de Kock (2). Strafdoele: De Kock (2). Menlopark 12 (3) – Drieë: Ivan Kotze, Jayden Horn. Doelskoppe: Guilermo Links.

Garsfontein 42 (34) – Drieë: Michail Damon (2), Demitri Erasmus, Maynard Kleynhans, Liam Dick, Abri van der Westhuizen. Doelskoppe: Nic-Allen Gabrielsen (3). Strafdoele: Tireque Apolles, Gabrielsen. Noordheuwel 32 (10) – Drieë: Juandre Schoeman, DP van Zyl, Coen-lee Koekman, Ludie Schutte, Marshall de Vos. Doelskoppe: JT Kapank (2). Strafdoel: Kapank.

Monument 34 (12) – Drieë: Arrie van der Walt (2), Xander Schoeman, Kelvin van Wyk, Jody Schambreel, Christi Botes. Doelskoppe: Tyler Sefoor (2). Helpmekaar 12 (5) – Drieë: Ruan Welman, Luc van Rhyn. Doelskop: Michael van Rooyen.

EG Jansen 39 (26) – Drieë: Christopher Swart (2), Layton Smith, Cameron van Wyk, Jaydon Bantom, Nathan Matthee. Doelskoppe: HTS Middelburg 10 (3) – Drie: Kutloano Senatla. Doelskop: Hardus Visser. Strafdoel: Visser.

Ander spanne: 

o.16: Menlopark 21, Marais Viljoen 10; Helpmekaar 25, Monument 24; Noordheuwel 23, Garsfontein 7; EG Jansen 42, HTS Middelburg 7.

o.15: Menlopark 21, Marais Viljoen 0; Helpmekaar 22, Monument 13; Noordheuwel 29, Garsfontein 19; EG Jansen 46, HTS Middelburg 10.

o.14: Menlopark 45, Marais Viljoen 5; Monument 14, Helpmekaar 12; Noordheuwel 35, Garsfontein 3; EG Jansen 17, HTS Middelburg 5.

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!