Thursday, August 18, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Louis Botha krap sake om in Vrystaatse A-liga

By Hannes Nienaber , in News , at 26 April 2016

NewsG JimFoucheLouis Botha se eerste rugbyspan het Saterdag sake in die Vrystaatse A-liga behoorlik deurmekaar gekrap. Enige van die spanne staan na Louis Botha se sege van 35-25 oor Jim Fouché nog ’n kans om as kampioen gekroon te word.

JF het in die laaste drie minute kamp in Louis Botha se kwartgebied opgeslaan, maar ’n onderskepdrie deur die buitesenter, Mfezeko Moyo, was die finale spyker in die tuisspan se doodskis. Moyo het vroeër in die wedstryd ook JF se doellyn oorgesteek.

Dit was ’n behoorlike wipplankstryd wat se uitslag nog voor Moyo se tweede drie met die telling op 28-25 in Louis Botha se guns nog in die weegskaal was. Die wenspan se skrumskakel, Keaton Swarts, asook die losskakel, Kyle Kermis, het ook goed vertoon. Kermis en sy direkte teenstander, Henco Venter, het albei hul skopskoene by die huis vergeet. Venter en sy skakelmaat, Stefan Coetzer, het ook goeie wedstryde beleef.

JF het voorlangs in die vaste fasette die oorhand gehad met die stut Reino Coetzee en flank Ian Trollip wat goed vertoon het. Louis Botha se twee losvoorspelers Siya Luwaca en Jabulani Mtshatsheni was soos gewoontlik uitstaande.

Grey-kollege se buitesenter, David Kriel, het drie keer ’n draai agter die doellyn in sy span se drafstap-sege van 57-3 oor die Hoërskool Sentraal gemaak. Die wedstryd was slegs 36 minute lank.

Die Cherries moes hard werk om Fichardtpark met 31-19 onder te kry. Grey het wel heelwat spelers met ligte beserings ’n ruskans gegun.

Brandfort het teen President Steyn gewys dat hoewel hy ’n jongspan is dat hy lus is om rugby te speel. Brandfort was met 23-17 oor die Steyners baas.

Die beserings aan die agtsteman, Janco Nel, en die binnesenter, Luandré Nel, teen Sand du Plessis was ook duidelik ’n groot slag vir die Steyners.

Sand du Plessis het ’n broodnodige sege van 57-7 oor Hoërskool Bloemfontein behaal. Sannies se slot Michael Armstrong, flank Timothy Jones, senter Enrico Vermaak en die heelagter, Sheridan van Rooyen, het die vernaamste rolle in die sege vertolk.

Die Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter van Reddersburg se groot agtsteman, Boeta Godbeer, het Sehunelo behoorlik laat bontstaan. Godbeer het twee van sy kraglopies in sy span se oorwinning van 29-12 afgerond.

St. Andrew het in Pietermaritzburg geskiedenis gemaak deur vir die eerste in sy gekiedenis daarin te slaag om St. Charles College te verslaan. Die span van die Rosestad was boonop oortuigend met 41-22 baas. Voorlangs het die slot Dillon de Jager goed vir Saints gespeel, terwyl die senterpaar, Michael Walsh en Peter Mafojane, agterlangs die kitaar geslaan het.

Puntemakers: 

Louis Botha 35 (20): Drieë: Mfezeko Moyo (2), Keaton Swarts (2), Christopher Rolomana, Dewald de Wet. Doelskop: Kyle Kermis. Strafdoel: Kermis. Jim Fouché 25 (10): Drieë: Werner Stofberg, Stefan Coetzer, Ulrich Stander, Francois Maree. Doelskop: Henco Venter. Strafdoel: Venter. 

Grey-kollege 57 (38): Drieë: David Kriel (3), Jandré de Beer, Henk Cilliers, Dian Schoonees, Juan Venter, Marnus Boshoff, Jaco de Beer. Doelskoppe: Christopher Schreuder (6). Sentraal 3 (0) – Strafdoel: Jaden Seekoei. 

Cherries 31: Drieë: Phillip Visser, Lehan Theron, Jaco Wessels, Michael de Winnaar. Doelskoppe: Rian Heyman (4). Strafdoel: Heyman. Fichardtpark 19: Drie: Myburgh van Zyl. Doelskop: Jevan Botes. Strafdoele: Botes (4). 

Sand du Plessis 57: Drieë: Nicky Hattingh (2), Enrico Vermaak (2), Michael Armstrong, Rudy Schroeder, Abonegho Ansah, Katleho Moletsane, Sheridan van Rooyen. Doelskoppe: William Bloem (6).Hoërskool Bloemfontein 7.

Brandfort 24 (14): Drieë: Quinton Fourie (2), Waldi Eksteen, Christiaan Botha. Doelskoppe: Francois Fourie (2). President Steyn 17 (3): Drieë: Phillip Jackson, Jeandré Atkinson. Doelskoppe: Gailin Neels (2). Strafdoel: Neels. 

Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter 29: Drieë: Boeta Godbeer (2), Ruan Cloete, Danie Hattingh, Romario Rouls. Doelskoppe: Juandré Rautenbach (2). Sehunelo 12

St. Andrew 41: Drieë: Melgardt Minnaar (2), Kholeli Sekhibane, Jacques de Bruin, Peter Mafojane, Ryan Smith. Doelskoppe: Michael Maree (4). Strafdoel: Maree. St. Charles College 22.

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!