Saturday, August 13, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Ligbloues bespreek plek in hoofwedstryd met eerste sege sedert 2004 oor SWD

By Hannes Nienaber , in News , at 7 July 2022 Tags:

Keletso Viljoen of the Blue Bulls during the match between Blue Bulls U18 and SWD U18 on day 4 of the SA Rugby U18 Craven Week at Rondebosch Boys’ High School on July 07, 2022 in Cape Town, South Africa. (Photo by Grant Pitcher/Gallo Images)

KAAPSTAD. – Die Blou Bulle het met sy eerste sege sedert 2004 op die Cravenweek oor die Suidwestelike Distrikte sy plek in die hoofwedstryd van die toernooi bespreek. Die Ligbloues het die kragmeting teen die Volstruisboere met 34-15 gewen.

Die Blou Bulle was klinies in die eerste helfte en het teen rustyd ‘n gemaklike voorsprong van 24-3 geniet. Die wenspan se skakelpaar, Steven Nel en Stehan Heymans, is pure klas. Heymans, wat ook die Ligbloues aanvoer, het nog nie ‘n stelskop pale toe op vanjaar se toernooi verbrou nie.

Nel se besluitneming agter die oond is ook van hoogstaande gehalte en hy kan boonop van albei sy voete verligting bring. Hy is vir sy vertoning as Speler van die Wedstryd aangewys.

Die Bulle het drie drieë in die eerste helfte gedruk. Die haker, De Wet Lottering, het vanaf ‘n rolmaal oorgeval, terwyl die agtsteman, Abrie van der Westhuizen die bal agter die skrum opgetel het en deurgenael het.

Demitre Erasmus, die buitesenter, het die bal onderskep en ongeveer 50 meter ver genael om die derde drie te druk. Lottering het sy span se vierde drie in die tweede helfte ook vanaf ‘n rolmaalbeweing afgerond.

Die Blou Bulle se flank Ewan van Heerden, was ook meer uitstaande. Hy was op die verdediging asook by die afbreekpunte vir sy span goud werd.

SWD het gesukkel om dieselfde aanvallende rugby op te dis as wat hul in die eerste wedstryd teen Vrystaat gedoen het. Die motreëntjie wat gedurende die wedstryd geval het, het dalk ‘n rol hierin gespeel.

Vir die Volstruisboere kan sy flank Ramon Uys asook die haker, Armand Combrinck, hul koppe omhoog hou. Die groot slot Patrick Kitete het in die tweede helfte met meer ywer begin speel, maar het maar ‘n stil eerste helfte beleef.

Die Limpopo Blou Bulle was strate beter in hul tweede kragmeting van die Cravenweek na hulle op die eerste dag na ‘n verlore span gelyk het. Die span van Limpopo het die Luiperds met 24-17 verslaan.

Die span se buitesenter, Orediretse Rathokolo, was op sy stukke in die middelveld. Hy het ook twee keer ‘n draai agter die doellyn gaan maak. Die span se agtsteman, HJ Janse van Rensburg, het ook ‘n blink vertoning gelewer.

Janse van Rensburg is die jonger broer van Benhard Janse van Rensburg wat tans vir London Irish speel. Benhard het self in 2014 vir Limpopo op die Cravenweek verteenwoordig. Hul pa, Gerhard Janse van Rensburg, het die ou Wes-Transvaal (deesdae) op die Cravenweek van 1986 verteenwoordig.

Die wenspan se skrumskakel, Carl Dohse, het ook ‘n veel beter dag op kantoor beleef. Sy diens was flink en hy het ook ‘n hele paar keer vrae aan die Luiperds se verdediging gevra.

Vir die Luiperds het sy agtsteman, Zandro Coetzee, en die haker, Kraynu Kruger, moedig probeer.

Puntemakers: 

Blou Bulle 34 (24) – Drieë: De Wet Lottering (2), Abrie van der Westhuizen, Demitre Erasmus. Doelskoppe: Stehan Heymans (4). Strafdoele: Heymans (2). Suidwestelike Distrikte 15 (3) – Drieë: Michael Lamont, Ramon Uys. Doelskop: JT Strydom. Strafdoel: Strydom.

Limpopo Blou Bulle 24 (12) – Drieë: Orediretse Rathokolo (2), Carl Dohse, Joy Ngobeni. Doelskoppe: Tristan Brits (2). Luiperds 17 (5) – Drieë: Teboho Sekonyela, Zandro Coetzee, Erich Snyman. Doelskop: Erich Snyman.

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!