Saturday, August 13, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Lichies kampioen van Pukke Prestige-reeks

By Hannes Nienaber , in News , at 28 April 2016 Tags: , , ,

Lichtenburg is gister op die Fanie du Toit-veld in Potchefstroom vir die eerste keer as kampioen van die NWU-Pukke se Prestige-reeks gekroon. Die Lichies het Noordheuwel in die eindstryd met 37-3 oorrompel om ook die grootste sege nog in ‘n eindstryd van die reeks te behaal. 

Die NWU-Pukke Prestige-reeks het in 2003 ontstaan. Die kampioen het van meet af dit duidelik gemaak dat hy alles in die stryd gaan werp om as kampioen gekroon te word. Lichies het die vaart van sy twee vleuels, Bertru Jones en Henk Venter, uitstekend gebruik. Die twee het ‘n hele paar keer met hope spasie tot hul beskikking die bal ontvang.

Die span se skrumskakel, Janco Schickerling, het ook sy skopskoene aanggehad en die telbord aan die rol gehou. Lichies het teen die omdraaislag reeds ‘n voorsprong van 16-3 geniet. Noordheuwel het glad nie ‘n goeie dag op kantoor beleef nie en is gewis ‘n beter span as wat die telbord aandui. Die span se losskakel, JC Fensham, het sy skopskoene weer by die huis vergeet. Hy behoort egter nie die skuld van die loesing op sy skouers te dra nie.

Lichies se losskakel, Evardi Boshoff, het sy agterlyn seepglad weggestuur. Hy het ook ‘n hele paar keer Noordheuwel se verdediging met skerp breekslae op die proef gestel. Die agtsteman, Lian Rothmann, het ook ‘n hele paar kragtige lopies ingekry. 

Die twee spanne het vroeer vanjaar in hulle groepwedstyd in die reeks met 22-elk gelykop gespeel. 

In die uitspeelwedstryd om die derde plek het Zwartkop van Pretoria vir Potchefstroom Volkskool met 24-10 verslaan. Die span van die Jakarandastad was reeds voor die afskop van die derde plek verseker, maar daar was steeds trots op die spel. Volkies het gedurende die reeks van spelers gebruik wat tuisonderrig ondervang wat nie deur die reels van die reeks toegelaat word nie. Die gebruik van die onregmatige spelers het eers na die kwarteindstryd teen Potchefstroom Gimnasium aan die lig gekom. 

Die wedstryd om die vyfde en sesde posisie tussen die Hoerskool Middelburg en Wonderboom van Pretoria was dalk die opwindendste wedstryd van die dag. Wonderboom het teen rustyd ‘n stewige voorsprong van 19-7 opgebou, maar kon nie in die tweede helfte al die gate toestop wat Middelburg se opwindende agterkwarte met hulle aanvallende spel oopgemaak het nie.

Middelburg het uiteindelik met 29-26 koning gekraai na sy vleuel Ryna Phiri in die hoek oorgeduik het om aan sy span die sege te besorg.

Puntemakers:

Lichtenburg 37 (16) – Drieë: Henk Venter, Henco Nel, Donovan Serfontein, Evardi Boshoff. Doelskoppe: Janco Schickerling (4). Strafdoele: Schickerling (3). Noordheuwel 3 (3) – Strafdoel: JC Fensham. 

Zwartkop 24 (12) – Drieë: Phineas Zitha, Handro Horn, Quinton Botha, Rudan de Lange. Doelskoppe: Miche Groenewald (2). Potchefstroom Volkskool 10 (10)

Hoërskool Middelburg 29 (7) – Drieë: Telvin Mhlongo, Zama Mhlongo, Thys Potgieter, Ryan Phiri. Doelskoppe: Morné Sonnekus (3). Strafdoel: Sonnekus. Wonderboom 26 (19) – Drieë: CJ Murphy, Ruan Nortjé. Doelskoppe: Henry Nell (2). Strafdoele: Nell (4). 

HTS Witbank 24 (10) – Drieë: Christiaan Glaeser (2), Johan Badenhorst. Doelskoppe: Andrew McDermaid (2), Adriaan Botes. Strafdoel: McDermaid. Potchefstroom Gimnasium 17 (17) – Drieë: Eddie Schoeman, Edrich Cronjé. Doelskoppe: Cronjé (2). Strafdoel: Cronjé. 

Driehoek 50 (12) – Drieë: Shaun Schoen (3), Wardy Engelbrecht (2), Niel Erasmus, Heinrich Korf, Morné Beukes. Doelskoppe: Schoen (5). Die Anker 28 (14) – Drieë: JJ Keyser, Carl Strydom, Zane Bruwer, Wian Goosen. Doelskoppe: Carl Strydom (2). 

Ander spanne:

o.16: Middelburg 13, Noordheuwel 13 (eindstryd); Potch Volkies 15, Zwartkop 13; Montana 26, Randburg 14; Die Anker 41, Hugenote 0; Potch Gimmies 42, Jeugland 5; Lichtenburg 19, HTS Witbank 10; Wonderboom 14, Wesvalia 7; Driehoek 21, Oosterlig 12. 

o.15: Randburg 24, Potch Volkies 17 (eindstryd); Zwartkop 20, Jeugland 5; Wesvalia 17, Montana 7; Hugenote 20, Potch Gimmies 0; Lichtenburg 25, Oosterlig 15; Middelburg 45, Driehoek 5; Noordheuwel 31, Die Anker 24; Wonderboom 17, HTS Witbank 5. 

o.14: Noordheuwel 11, Montana 10 (eindstryd); Jeugland 22, Potch Gimmies 8; Wesvalia 25, Hugenote 16; Zwartkop 69, Oosterlig 0; Middelburg 30, Lichtenburg 17; HTS Witbank 24, Die Anker 19; Randburg 34, Wonderboom 12; Potch Volkies 17, Driehoek 0.

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!