Sunday, July 3, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Kwaggas wys hulle het nog hope skop teen Kloof

By Hannes Nienaber , in News , at 3 May 2013 Tags: , , , , , , , ,

DIE verwagting van ‘n hewige tweestryd in die hoofwedstryd van die eerste dag van Wildeklawer SuperSkole het nie aan verwagtinge voldoen nie.

Die Hoërskool Outeniqua het Waterkloof 39-19 gewys dié Kwaggas het nog hope skop. Die wenspan het rustyd reeds 34-0 voorgeloop en Klofies kon net nie al die gate toestop nie. Veral die Kwaggas se losskakel Dewald Human het met sy flinke systappe verby verdedigers gedans, terwyl die vleuel Duhan van der Merwe met vaart en krag ook vir Klofies probleme op die verdediging besorg het.

Wat die span van Pretoria verder sal kwel is dat hy more teen Paarl Gimnasium te staan kom, wat verlede week vir Outeniqua 37-25 geklop.

Al die spanne van die Wes-Kaap het in hulle tweede helftes insinkings beleef. Dié insinkings kan aan die hitte toegeskryf word. Dit was gister 30 grade in Pietermaritzburg.
Paul Roos is die enigste span van dié Wes-Kaap wat ondanks sy insinking ‘n oorwinning van 30-17 oor Maritzburg-kollege kon behaal. Die span se losskakel Aiyden Cupido se stelskopwerk was op die ou einde die verskil tussen die twee spanne.

Grey-kollege het in die tweede helfte van sy wedstryd teen Oakdale Landbou na ‘n hoër rat versnel om uiteindelik 42-20 koning te kraai. Die span se binnesenter, Carel Durow het die vonk in die tweede helfte verskaf. Sy verstandhouding met die plaasvervanger-losskakel Dwayne Wessels het heelwat gate in Oakdale Landbou se verdediging agterlangs ontbloot.

Dit was glad nie ‘n gelukkige dag vir twee spanne van die Diamantstad nie. Noord-Kaap het sy eerste wedstryd ooit op dié toernooi teen EG Jansen 12-39 in die stof gebyt. Terwyl Grey van Port Elizabeth vir Diamantveld ‘n les 51-10 geleer het. Diamonds se losskakel, Deon van Zyl is vroeg in die wedstryd deur die skeidsregter Renier Vermeulen vir ongeoorloofde spel van die veld gejaag.

Die span van die Baai sou in elk geval koning gekraai het met sy twee losvoorspelers kaptein CJ Velleman en Johan van Niekerk wat woelig was.

Glenwood se vleuel Sphamandla “Sparks” Ngcobo het die vonk vir sy span se oorwinning van 36-13 oor Boland Landbou verskaf. Ngcobo het ‘n driekuns aan drieë behaal. Boland Landbou het rustyd 13-10 voorgeloop, maar soos al die Wes-Kaapse spanne ‘n insinking in die tweede helfte beleef.

 

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!