Saturday, August 13, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Kapank sink die Vrystaat, terwyl die Pumas onoorwonne status behou

By Hannes Nienaber , in News , at 7 July 2022 Tags:

KAAPSTAD. – Die Goue Leeus het met sy heelagter, JT Kapank, aan die spits terug op die wenpad gekom deur die Vrystaat met 30-22 op die vierde dag van die Cravenweek vir hoërskole hier te troef.

Kapank het 20 punte tot sy span se sege bygedra. Hy het self een van sy span se drie drieë afgerond, al drie die drieë verdoel en ook met drie strafdoele geslaag.

Buiten Kapank het die linkervleuel, Joel Leotlela, asook die binnesenter, Joshua Boulle, agterlangs goeie spel vir die Leeus gelewer. Boulle het veral op die verdediging sy kant gebring.

Voorlangs het die Leeus se flank Thabang Mphafi die bal goed opgedra en ook ‘n paar groot duikslae uitgevoer. Mphafi is vir sy vertoning voorlangs as Speler van die Wedstryd aangewys. Sy tweestryd met Lukas Meyer was een van die hoogtepunte van die wedstryd.

Die Leeus se kaptein en agtsteman, Xander Schoeman, was ook woelig in die vastelos.

Die Vrystaters sal nie gelukkig wees met hul vertoning in hul tweede nederlaag van die toernooi nie. Die regtervleuel, Alfondso Isaacs, het wel gewys dat hy geen span in die steek sal laat nie.

Die Pumas sal die laaste dag van die Cravenweek met ‘n onoorwonne status betree na hulle die Griffons met 48-18 pak slae gegee het. Die wenspan het teen rustyd reeds ‘n gerieflike voorsprong van 19-3 geniet.

Die Griffons wat in hul eerste wedstryd met hul rugby beindruk het, het glad nie na dieselfde span op die veld gelyk nie.

Die Pumas se heelagter, Philasande Ntshapela, sal na nog ‘n stewige vertoning in die laaste vesting ‘n sterk aanspraakmaker op ‘n plek in die SA Skole-span wees. Die buitesenter, Grant de Jager, het ook weer ‘n skitterende vertoning op die aanval sowel as op verdediging gelewer.

Die vleuel, Rinkhals Smit, het self ‘n goeie dag op kantoor beleef en twee keer oor die doellyn geseil. Voorlangs was die flank Francois Odendaal sy span se beste speler.

Die Perses se flank Wian Fourie tel waarskynlik onder die beste toekantflanke wat op die toernooi in aksie is. Hy het weer goeie spel gelewer.

Puntemakers:

Goue Leeus 30 (10) – Drieë: JT Kapank, Deon Groenewald, Ruan Welman. Doelskoppe: Kapank (3). Strafdoele: Kapank (3). Vrystaat 22 (8) – Drieë: Jermairon Ruiters, Ulrich Wahl, Strafdrie. Doelskop: Bradley Giddy. Strafdoel: Giddy.

Pumas 48 (19) – Drieë: Rinkals Smit (2), Fumaani Chauke, Grant de Jager, Danny van Staden, Philasande Ntshapela, Tyron Moolman, Francois Odendaal. Doelskoppe: Hardus Visser (4). Griffons 18 (3) – Drieë: Jayleigh Arends, Ruben Kruger, Kaleb Kriek. Strafdoel: Ronaldo Kiewiet.

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!