Saturday, August 13, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Kan Velties vanjaar die Swart Golf van Welkom Gimnasium stuit?


NewsGHermanVisserDie vonke gaan Vrydag behoorlik op Tafel Lager-park in Kimberley spat wanneer Welkom Gimnasium en Duineveld van Upington mekaar in die halfeindstryd van die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga (vir mediumskole) pak.

Die kragmeting is ‘n herontmoeting na die twee spanne mekaar verlede jaar ook in die eindstryd van dié liga gepak het. Al die wedstryde van die kompetisie word regstreeks via live streaming op DigiTV.co.za uitgesaai (Volledige TV Gids onderaan berig). 

Gimmies is die verdedigende kampioen na hy die Wittes met 61-7 verlede jaar in die eindstryd behoorlik ore aangesit het. Die Velties spog egter vanjaar met ‘n meer gedugte span as verlede jaar en het ook ‘n beter idee van wat op hulle wag. Verlede jaar was die eerste keer sedert die ontstaan van die reeks dat Duineveld aan die kompetisie deelgeneem het.  

Die span van Welkom beklee die 18de posisie in Suid-Afrika op School of Rugby se nuutste ranglys. Die Velties se beste posisie op die ranglys vanjaar was in die 20ste posisie, maar vanweë die feit dat hulle nie soveel van die land se voorste 20 skolespanne op hul bepalingslys het nie, het hulle intussen tot die 31ste posisie terug gesak. 

Gimmies sal sonder sy kaptein en SA Skole-agtsteman, Keke Morabe, moet klaarkom wat Saterdag vir die nasionale skolespan teen Engeland in Wellington diens sal doen. Gimmies spog egter steeds met ‘n gedugte lostrio in Christo Steyn (kaptein), Mackneil Matthews en Calla Pienaar

Agterlangs is die gif Keith van Aswegen (senter) en Marno April (vleuel) wat probleme vir Duineveld kan inhou indien hulle nie oor ‘n teengif beskik nie. April is ‘n haastige man wat ook oor vinnige voete beskik en die pad doellyn toe so goed soos die palm van sy hand ken. 

Die Velties se kaptein en Cravenweek-losskakel, Steph Boshoff, sal sy span se sleutelspeler wees. Boshoff was met sy skopskoen die groot doring in Diamantveld se vlees toe die Wittes met ‘n sege van 27-23 hul titel as Griekwa-kampioen verower het.

Die Velties se agtsteman, Muller du Plessis, asook slot Herman Visser sal ook fyn deur Gimmies dopgehou moet word. In die ander halfeindstryd van die Shimla-liga sal Goudveld-Hoërskool na Bloemfontein reis om die Vrystaatse kampioen, Sentraal die stryd aan te sê.

Welkom Gimnasium en Goudveld het met 22-elk gelykop in die Griffon-eindstryd gespeel, waarna Gimmies as kampioen gekroon is omdat hulle eerste ‘n drie in die eindstryd aangeteken het. 

Riebies se Mculwani kan Hopetown hoofbrekens besorg

In die halfeindronde van die Irawa-liga (vir kleinskole) sal die Hoërskool Hopetown sy keer moet ken indien hy vir Riebeeckstad wil uitskakel. Riebies het in die Vrystaatse Platteland-eindstryd die Hoërskool Kroonstad met 39-18 verslaan om as kampioen gekroon te word. 

Riebies was laas in 2017 as kampioen van die Irawa-liga gekroon na hy vir die Hoërskool Kalahari van Kuruman met 22-5 in die eindstryd afgestof het. Riebeeckstad se heelagter, Jabu Mculwani, is een van die gevaarlikse spelers op die aanval in Suid-Afrika vanuit die laaste vesting. Mculwani sal regdeur die wedstryd hok geslaan moet word indien Hopetown in die wedstryd wil bly. 

Mculwani is vroeër vanjaar as die Speler van die Toernooi tydens die VKB-week in Reitz aangewys. Hy het ‘n groot invloed in die Sandveld-span se uitstekende vertonings op die week gehad. 

Hopetown het sy plek in die halfeindronde bespreek toe hy as Griekwas se mediumskole-liga kampioen gekroon is. Hopetown het vir De Aar in die eindstryd om die liga met 23-14 verslaan. Hopetown se kaptein en agtsteman, Winston Tuck, asook die losskakel, Wilikus Badenhorst, sal op hul stukke moet wees indien hul span vir ‘n opskudding gaan sorg. 

Riebeeckstad het vanjaar nog net teen Jim Fouché van Bloemfontein (7-41) die knie gebuig. JF het vanjaar tot die eindstryd van die Vrystaatse A-liga gevorder.

Die ander halfeindstryd van die Irawa-liga word Saterdag in Bloemfontein tussen St Andrews en die Hoërskool Kroonstad beslis. 

Wie se landbouspiere is die sterkste tussen Douglas en Hoopstad? 

In die halfeindronde van die Colts-liga kom die Hoërskool Douglas teen Hoopstad te staan. Douglas het sy plek in die uitspeelrondes met ‘n sege van 18-15 oor Hartswater in Griekwas se kleinskole-eindstryd bespreek. Hoopstad het met 22-elk gelykop in die Griffons se Colts-liga eindstryd gespeel.  

Hoopstad het weens die feit dat hy meer drieë as Hennenman in die wedstryd gedruk het as die Griffon-kampioen tot die halfeindronde deurgedring. 

Die ander halfeindtryd van die Colts-liga moes Zastron aan die wedstryd onttrek omdat ‘n groot aantal van sy spelers die naweek in Johannesburg vir die VKB-week se uitnodigingspan in aksie sal wees. Hennenman sal nou teen die Hoërskool Staatspresident Swart van Brandfort te staan kom. 

Die spanne is: 

Duineveld vs Welkom Gimnasium op Tafel Lager-park om 16:30: 

Duineveld: 15 Johan van Zyl, 14 Valdo Pieters, 13 Pieter Boltman, 12 Herman Jacobs, 11 Nolan Diergaardt, 10 Steph Boshoff, 9 Ernst Carstens, 8 Muller du Plessis, 7 Quintin Immelman, 6 André van Zyl, 5 Michael Fox, 4 Herman Visser, 3 Adriaan Agenbag, 2 Janco Oberholzer, 1 Nicky Ras. 

Welkom Gimnasium: 15 Marchall Andrews, 14 Morné Maastriet, 13 Jaime Heynes, 12 Keith van Aswegen, 11 Marno April, 10 Bennie Human, 9 Shaquille van Heerden, 8 Mackneil Matthews, 7 Calla Pienaar, 6 Christo Steyn, 5 Husain Banzi, 4 Tandikaya James, 3 Franco-Lee Ceaser, 2 Martley Bayman, 1 Johan Pretorius.

Hoërskool Hopetown vs Riebeeckstad op Tafel Lager-park om 15:00: 

Hoërskool Hopetown: 15 AJ Goliath, 14 Marchel Cedras, 13 Sivenathi Mpamba, 12 Ernst Beerwinkel, 11 Roe Wiid, 10 Wilikus Badenhorst, 9 Phillip Janse van Rensburg, 8 Winston Tuck (kaptein), 7 Tertius de Wet, 6 Neill Tuck, 5 Jano de Wet, 4 Jaco Visagie, 3 Theo Zwiegers, 2 Dirk Gunter, 1 Patrick George. 

Riebeeckstad: 15 Jabu Mculwani, 14 Tshepo Masooa, 13 Siyabonga Pali, 12 Teboho Makwayi, 11 Luki Rakotsoane, 10 Keagan Human, 9 Gumi Leshoro, 8 Mabote Pandosi, 7 Lemohang Moopela, 6 Jeremia Mofekeng, 5 Jessi Rampai, 4 Victor Ndai, 3 Mloketsi Mohlabane, 2 Mpho Moki, 1 Thabo Mthimkulu. 

Hoërskool Douglas vs Hoërskool Hoopstad op Tafel Lager-park om 13:35: 

Hoërskool Douglas: 15 Daandré van der Schyff, 14 Verile Coetzee, 13 Jandré Wiid, 12 Franco le Roux, 11 Natanieel Moolman, 10 Ian van Niekerk, 9 Collacious Lock, 8 Lourens Ludwig, 7 Xander van Vuuren, 6 Joshua Lochner, 5 Kyle Baaitjies, 4 Ronnie Mooketsi, 3 Rivaldo Morolong, 2 Heinrich Mzambo, 1 Jaco Fourie.

Hoërskool Hoopstad: 15 Jandré Lambrechts, 14 Dean Botes, 13 Cois de Wet, 12 Dewald Roux, 11 Edrich de Lange, 10 Jan Brink, 9 Eric Payne, 8 Dolf Naudé, 7 Joubert van Zyl, 6 Tiaan Faber, 5 Willem Groenewald, 4 Tjaart Coetzee, 3 Daniël Botha, 2 Abo Nkebetwana, 1 Dirkie Coetzee.

Volledige TV-skedule via live streaming op DigiTV.co.za

HALFEINDSTRYDE VAN DIE KOVSIESTREEK-KOMPETISIE REGSTREEKS VANAF TAFEL LAGER-PARK Live Streaming Link
Digi TV Logo PNG 16:30 Shimla-liga o.19 Duineveld vs Welkom Gimnasium https://digitv.co.za/#/video/13570/13570/live
15:00 Irawa-liga o.19 Hopetown vs Riebeeckstad https://digitv.co.za/#/video/13570/13570/live
13:35 Colts-liga o.19 Douglas vs Hoopstad https://digitv.co.za/#/video/13570/13570/live
12:40 Volksblad-liga o.15 Diamantveld vs Voortrekker https://digitv.co.za/#/video/13570/13570/live
11:40 Redakteurs-liga o.15 Hartswater vs Bothaville https://digitv.co.za/#/video/13570/13570/live
10:30 Ritsem-liga o.15 Wildeklawer Rugbyakademie vs Retief (Kestell) https://digitv.co.za/#/video/13570/13570/live

[powr-comments id=”785ca840_1565938458164″]

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!