Sunday, July 3, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Voortrekker trash Diamantveld

By Hannes Nienaber , in News , at 10 March 2008 Tags: , , , , , , , , ,

DIE Diamante van Kimberley lyk nie of hulle vanjaar so gaan blink soos verlede seisoen nie.
Die Hoërskool Diamantveld se eerste rugbyspan is ’n hewige drag slae van 5-40 deur die Hoërskool Voortrekker van Bethlehem toegedien.
Diamantveld het verlede jaar tot die eindstryd van die Kovsie-streekliga deurgedring.
Die manne van die Oos-Vrystaat het die verloorspan in die eerste helfte reeds oorwin. Die span het met ’n voorsprong van 33-0 gaan rus.
Diamantveld het net geen antwoorde gehad vir die uitmuntende agterspel wat die span van Bethlehem in die kragmeting opgedis het nie. Die agterlyn van Voortrekker is vuurwarm en gaan baie spanne vanjaar nog raadop hê. Heelagter Hoffman Maritz, die vleuels Gert van der Westhuizen, en Eben de Bruyn, asook die senters Nardu Odendaal en JP Oosthuizen, se vaart en balhantering was net te goed vir die verloorspan. Die manier hoe die wenspan die bal hanteer het, was ongelooflik. Voorspelers en agterspelers het heeltyd verhoed dat spel doodloop.
Voorlangs het die wenspan se kaptein en agtsteman, RJ Liebenberg, soos gewoonlik goed gespeel. Dit is egter moeilik om spelers in ’n span uit te sonder wat sulke uitmuntende spel gelewer het en elke speler in die Oos-Vrystaters se span kan tevrede met die vertoning voel.
Die enigste diamant wat vir die span van Kimberley geblink het, was hul vleuel, Roderick Routledge. Hy het nooit moed opgegee nie en heeltyd werk gaan soek. Hy het ook ’n paar keer goed met die bal gehardloop. 
Heelagter Gideon Hodgson verdien ook ’n klop op die skouer vir sy spel. Hy was rotsvas onder die hoë balle waarmee hy gepeper is en was nooit uit posisie betrap nie. Piet Joubert, flank van Diamantveld, is vir sy harde werk voorlangs beloon toe hy sy span se enigste drie van die wedstryd gaan druk het.
Diamantveld moet na dié vertoning egter nie afgeskryf word nie. Die span se afrigter, Bok Markram, sal die span dié week hard dril om hulle vir hul wedstryd teen Wellington gereed te kry. 
Scorers:
Voortrekker 40 (33) – Drieë: Hoffman Maritz (2), Nardu Odendaal (2), Eben de Bruyn, Gert van der Westhuizen. Doelskoppe: Arend Corbett 5. Diamantveld 5 (0) – Drie: Piet Joubert.

 

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!