Wednesday, July 6, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


‘Hartpasiënt’ Grey se troefkaart teen Affies

By Hannes Nienaber , in News , at 11 May 2013 Tags: , , , , , , , , ,

GREY-KOLLEGE se eerste rugbyspan sal vandag hope inspirasie nodig hê indien hy as oorwinnaar van die veld in sy kragmeting hier op sy tuisveld teen die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria wil stap. Gelukkig vir die span sal sy inspirerende kaptein en flank, Marius Louw sy terugkeer tot die span in vandag se kragmeting maak.

Daar is geen twyfel dat Louw se troepe tot meer as waartoe hulle instaat is kan vermag met hom in hul midde nie. Hy het in 2010 ‘n opehartoperasie ondergaan en daar was nie sekerheid of hy ooit weer aan enige sport sou kon deelneem nie. “Hy het daardie jaar in so drie wedstryde naar geword en ons het aanvanklik gedink dit is sy slukderm en dat dit nie iets ernstig was nie. Ons het die kardioloog Steven Brown gaan sien en daar was ‘n vergroeisel aan Marius se aorta,” het Marius Louw sr. oor sy seun se terugslag gesê.

Van Louw jr. se hartkleppe is beskadig en indien hulle vervang moes word sou hy nie weer aan enige sport kon deelneem nie. “Marius is nie ‘n emosionele mens nie, maar die aand toe ons die nuus kry was hy baie emosioneel,” het Louw sr. vertel.

Die chirurg Francis Smit het die hegtings aan die hartklep behartig en Louw jr. het in Maart 2011 weer vir die eerste keer op die veld gedraf. “Ons spot gereeld oor ‘n oud-leerling van Sentraal so groot rol in Marius se herstel gespeel het. Hy moet elke jaar vir ‘n hartondersoek gaan en elke jaar is dit beter. Hy sê altyd elke keer as hy opdraf doen hy dit in dankbaarheid want dit kon so anders verloop het,” het Louw sr. gesê.

Die Springbokke Pierre Spies en Flip van der Merwe het Louw jr. in die hospital besoek en hom moed ingepraat na sy operasie.

Louw jr. sal vandag in sy span se interskole teen Affies ‘n belangrike rol op die veld vertolk. Hy was lid van Grey se span wat verlede jaar 29-35 teen Affies die knie gebuig het. Die span van die Jakarandastad is vanjaar nog onoorwonne en sal dié status wil behou. Dié kragmeting tussen dié twee skole het in die verlede al ‘n hele paar keer meer toeskouers as Cheetah-wedstryde op dieselfde dag getrek.

“My doelwit is om elke jaar net beter as die vorige jaar te speel,” het ‘n nederige Louw jr. oor sy doelwitte vir die seisoen vertel. Hy het verlede jaar die Vrystaatse Akademie-span aangevoer waarna hy opgeroep is om Sentraal se Stefan Kruger in die Cravenweek-span te vervang.

Kruger het sy sleutelbeen in die eerste wedstryd van dié toernooi in Port Elizabeth teen KwaZulu-Natal gebreuk. Louw was ongetwyfeld die Vrystaat se beste speler op die Akademie-week en dit was geen verrassing toe hy nader geroep is om Kruger te vervang nie.

Louw was ook onderkaptein van die nasionale o.18-sewespan wat vroeër vanjaar die goue medalje op die Australiese Jeug Olimpiese-fees verower het.

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!