Saturday, August 13, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Griffons en Pumas wys naels op tweede dag van die Cravenweek

By Hannes Nienaber , in News , at 5 July 2022

NuusG Griffons5KAAPSTAD. – Die Griffons het die gunstige Kaapse weer voluit benut deur hardlooprugby in hul sege van 38-15 oor die Luiperds op te dis. Die Perses was teen lemoentyd met die telling op 31-3 stewig in die saal.

Die Griffons se kaptein en flank, Wian Fourie, asook die agtsteman, Fanu Linde, het op sekere tye aansluiting by die agterlyn gevind sonder dat hul uit plek gelyk het.

Die twee se aansluiting saam met die gevaarlike agterhoede met Michiel Heyns (senter), Julian Samuels (skrumskakel), Jayleigh Arends (vleuel) en Curt Smith (losskakel) aan die pits het die span amper rugby soos die All Blacks gespeel.

Voorlangs het die voorryman, Kaleb Kriek, het ook ‘n woelige wedstryd beleef en ook die bal soos ‘n agterspeler hanteer.

Die Luiperds het in die tweede helfte met meer ywer gespeel met veral die agtsteman, Zandro Coetzee, wat goed vertoon het. Die buitesenter, Jaden Fredericks, het ook sy bes probeer.

Die Pumas was duidelik meer voorbereid vir hul herontmoeting met die Limpopo Blou Bulle tydens die tweede dag van die Cravenweek op Rondebosch Boys’ High se Tinkie Heyns-veld hier.

Die Pumas het redelik gemaklik met 41-14 as oorwinnaars van die veld gestap.

Die twee spanne het mekaar vroeër vanjaar tydens ‘n opwarmingswedstryd vir die toernooi ontmoet en toe het hulle met 36-elk gelykop gespeel. Die Pumas was egter heelwat meer klinies in die Moederstad en het teen rustyd reeds ‘n voorsprong van 31-7 opgebou.

Dit was veral die wenspan se skrumskakel, Danny van Staden, asook die buitesenter, Grant de Jager, wat met hul spel vir die Limpopo Blou Bulle hoofbrekens besorg het. Die heelagter, Philasande Ntshapela, het ook ‘n uitstekende dag op die aanval beleef en vir sy vertoning as die Speler van die Wedstryd aangewys.

Voorlangs het die Pumas se slot, Tjaart Joubert, inklimspel in die vastelos opgedis. Hy het ‘n paar manne ook hard gelak.

Die Limpopo Blou Bulle het in die eerste helfte glad nie as ‘n span saamgespeel nie, met te veel spelers wat te veel op hul eie probeer uitrig het. Die span se binnesenter, Tristan Brits, asook die slot Driekus du Plessis kan wel tevrede met hul vertonings voel.

Puntemakers: 

Griffons 38 (31) – Drieë: Wian Fourie, Julian Samuels, Fanu Linde, Curt Smith, Jayleigh Arends, Tiaan Malan. Doelskoppe: Smith (3), Nalie Kiewiet. Luiperds 15 (3) – Drieë: Jaden Fredericks, Andries Scheepers. Doelskop: Grant Coetzee. Strafdoel: Coetzee.

Pumas 41 (31) – Drieë: Ben Jansen van Vuuren, Philasande Ntshapela, Danny van Staden, Christiaan Botha, Drikus Greeff, Grant de Jager. Doelskoppe: Hardus Visser (4). Strafdoel: Visser. Limpopo Blue Bulls 14 (7) – Drieë: HJ Janse van Rensburg, Philip Ludick. Doelskoppe: Tristan Brits (2).

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!