Wednesday, August 10, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Grey klop Paarl Gim net-net

By Hannes Nienaber , in News , at 2 May 2014

KIMBERLEY. – Goeie ou verdediging en skrumwerk was gister op die tweede dag van die Wildeklawer-toernooi hier vir Grey-kollege deurslaggewend in sy naelskraapse oorwinning van 15-14 oor Paarl Gimnasium.

Grey se loskopstut, Callie van Vuuren het in die skrums vir Adriaan Geldenhuys opgekeil. Van Vuuren wat vir die wedstryd van vaskop in die plek van die beseerde Ruben Terblanche na die loskopkant geskuif het, het ook die vryheid geniet en ‘n hele paar manne hard met moeder aarde laat kennis maak.
Met enkele minute oor in die wedstryd het dit geblyk of Gimmies se vleuel, Grant Williams die wendrie sou gaan druk. Grey se heelagter, Henry Immelman met die regtervleuel Lowutjie Steenkamp byderhand het hom net betyds by die hoekvlag uitggeduik.

Gimmies het die meeste van die gebiedsvoordeel geniet, maar Grey se verdediging was rotsvas. Grey se Henry Slabbert het verskeie kere balbesit by die afbreekpunte by die span van die Paarl afgeneem. Hy en sy kaptein en agtsteman, Alex Jonker het ook soos tiere verdedig.

Vir Gimmies was sy agtsteman, HJ Luus uitmuntend. Hy was een van die beste voorspelers op die toernooi.

Die vlak van skeidsregterskap het ook gedaal vanaf Maandag se wedstryde wat op regstreeks op televisie uitgesaai is. Veral Khotso Raleting het aan Pro Legoete se hantering van wedstryde in 2007 herhinnner. Legoete het destyds 27 geel en rooikaarte in elf wedstryde aan spelers gewys. Raleting het in sy twee wedstryde op die toernooi ses geelkaarte en twee rooikaarte uitgedeel.

Raleting het Diamantveld se kragmeting Maandag teen HTS Middelburg hanteer en die span van ‘n gelyke stryd beroof. Diamonds was weer aan die ontvangkant gister met die skeidsregter Renier Vermeulen wat twee beslissings verkeerd gekry het en wat toe op drieë vir Maritzburg-kollege uitgeloop het.

Die span van Kimberley het die kragmeting 9-21 verloor. Die span se losskakel Gerco Nortjé en senter JD Swanepoel was lus om te hardloop en dit het vir opwindende rugby gesorg.

Waterkloof het sy spiere behoorlik op die tweede dag van die Wildeklawer-toernooi in Kimberley teen Grey PE gebult deur 39-24 te seëvier. Die span van die Baai het twee keer in die laaste vyf minute gaan druk om meer aansien aan sy vertoning te gee.

Die vertoning van Klofies se kantman, Juandré Michau het ‘n uitmuntende vertoning met drie drieë vir sy span afgerond. Hy was met sy fisieke spel ‘n doring in die span van die Baai se vlees.

Klofies se losskakel, Tinus de Beer het ook in sy tweestryd met sy direkte teenstander Curwin Bosch die botoon gevoer. De Beer het 19 van Klofies se punte aangeteken. Hy het telkens bresse in Grey PE se verdediging geslaan en ook met sy taktiese skopwerk spel dikteer. Bosch het egter gewys hy is ‘n speler van gehalte. Hy het seker een van die voorste aangeë van losskakels op skolevlak in Suid-Afrika vanjaar. Grey PE se senter, Keanu Vers is self ‘n speler wat nog ver kan kom.

Monument het ‘n in spannende wedstryd teen Selborne-kollege 23-elk gelykop gespeel. Monnas se losskakel, Wikus van Biljon het met so vyf minute se spel oor in die kragmeting die telling vir die laaste keer gelyk getrek.

Vir Monnas kan Van Biljon, die agtsteman Juan Lemmer en slot Rhyno Herbst met hulle vertonings tevrede voel.

PAUL ROOS GIMNASIUM van Stellenbosch het met sy sege van 30-10 oor EG Jansen van Boksburg op die tweede dag van die Wildeklawer-toernooi gewys dat hy vanjaar een van die kragte in Suid-Afrikaanse skolerugby gaan wees. 

Die span van die Eikestad het nie veel probleme ondervind om sy teenstanders tot oorgawe te dwing nie.

Die span se losskakel, Reinhard Fortuin sou indien daar ‘n speler van die toernooi aangewys geword het, waarskynlik met die toekenning weggeloop het. Fortuin was weer uitmuntend. Die span se heelagter, Aidynn Cupido kon self op die dag niks verkeerd doen nie. 

Paul Roos se afrigters Hein Kriek en Dawie Snyman sal boonop glimlag na twee van die span se vier drieë van bewegings van eerste fase besit gekom het. EG Jansen speel op 10 Mei in die eindstryd van die Tuks-reeks teen HTS Middelburg.

Noord-Kaap het in die doodsnikke van sy onaanskoulike stryd teen King Edward VII van Johannesburg 13-12 die knie gebuig. KES se heelagter, Rashard Fuller het met ‘n strafdoel met speeltyd reeds verstreke geslaag om aan sy span die oorwinning te besorg. Fuller is die voormalige Protea Herschelle Gibbs se seun.

Die span van die Diamantstad se Gerhard Holtzhausen het weer op agtsteman uitgedraf en het sy goeie spelpeil voortgesit. Vir die wenspan was sy agtsteman en kaptein, Jordan Mills ‘n yster.

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!