Thursday, August 18, 2022
All the latest schoolboy rugby news, results and stats


Eldo se Groen Drake mik na tweede Virsekerbeker-titel

By Hannes Nienaber , in News , at 16 August 2019 Tags: , , , , , , , , ,

NewsGEldoraigneDie Hoërskool Eldoraigne sal Saterdag die enigste eerstespan in al die afdelings van die Virsekerbeker wees wat sal probeer om sy titel as kampioen van die gesogte reeks te verdedig.

Die Eldo Drake kom Saterdag om 10:30 teen Ben Vorster van Tzaneen in die eindstryd van die Plaat-afdeling op Marais Viljoen se hoofveld in Alberton te staan. Eldoraigne het verlede jaar vir Noordheuwel van Krugersdorp met 40-29 in die eindstryd verslaan om as die eerste kampioen van die Plaat-afdeling gekroon te word. 

Slegs twee van Eldoraigne se spelers wat verlede jaar in die beginspan teen Nories was – hul kaptein en voorryman, Barend Bezuidenhout, asook die losskakel, Marvin Petersen. Die twee sal ‘n belangrike rol in die eindstryd speel om hul spanmaats kalm onder druk te hou. 

Ben Vorster het verlede jaar nog in die Skild-afdeling meegeding, maar vanjaar met ‘n paar skitterende vertonings gewys dat hy sonder twyfel in die Plaat-afdeling hoort. Die Eldo Drake het hul plek in die eindstryd met ‘n sege van 29-23 oor Montana bespreek. 

Die Vossies se Buffels het op ‘n sopnat Tzaneen vir die Hoërskool Rustenburg met 12-8 uitoorlê. Die span van Tzaneen sal soos verlede week sonder sy SA Skole A-span flank Renzo du Plessis moet klaarkom. Sy leemte sal gewis weer ‘n impak op Ben Vorster se vertoning hê. 

Ben Vorster het vroeër vanjaar met 30-25 koning gekraai in die ligawedstryd tussen die twee spanne. Die eindstryd beloof dus om ‘n riller te wees. Die Bloktruie van Tzaneen het steeds in die agtsteman, Doran Kleynhans, ‘n speler wat die bal sterk kan dra. 

Agterlangs wag daar ‘n hewige tweestryd tussen Waldo Noeth (Eldos) en Christiaan Smit (Vossies) in die middelveld. Noeth is sonder twyfel ‘n invloedryke speler aan Eldoraigne se kant, terwyl Smit vroeër vanjaar verkies is om die SA Skole Sewesspan se verteenwoordig. Hy moes hom egter weens ‘n besering aan die span onttrek. 

Die Vossies het verlede jaar teen Oos-Moot in die eindstryd van die Skild-afdeling met 20-29 vasgeval. Ben Vorster het in 2008 en 2010 die kroon as kampioen van die Beeldtrofee vir Grootskole, soos die reeks voorheen bekend gestaan het, gedra. 

FOTO: Craig Gissing

Die spanne is: 

Hoërskool Eldoraigne: 15 Rohann Rossouw, 14 Adriaan Botha, 13 Zandré du Toit, 12 Waldo Noeth, 11 Kenneth de Klerk, 10 Marvin Petersen, 9 FJ Griesel, 8 Francois Bezuidenhout, 7 Riwan Ramaan, 6 Bradley Buys, 5 Dian Reynecke, 4 Ruben Lubbe, 3 Barend Bezuidenhout, 2 Luhan Oosthuizen, 1 Ewan Nel.  

Ben Vorster: 15 Meyer Vorster, 14 Kabelo Kaghoalane, 13 Nathan van den Heever, 12 Christiaan Smit, 11 Sean Roulston, 10 Lehann Marais, 9 Tiaan Meintjies, 8 Doran Kleynhans, 7 Louis Koen, 6 Dean Ballenyne, 5 Lennard Joubert, 4 Rickus Nel, 3 Gavin Rautenbach, 2 Tumisho Montyane, 1 Matome Manyama.

Vir ‘n volledige program van die eindstryde volg asseblief die volgende skakel – Alberton skud sy vere reg op die Virsekerbeker se eindstryde aan te bied

Lees Meer: 

Eldoraigne sal Virseker-titel teen nuwelinge Ben Vorster verdedig

[powr-comments id=”8b56c42b_1565959960405″]

Comments


Leave a Reply


error: Content is protected !!