Die voormalige aanvals-afrigter van die Springbokke Swys de Bruin sal sy gewig as konsultant agter die Helpmekaar-kollege in Johannesburg se rugby gooi. De Bruin se paaie het ook aan die einde van verlede jaar met die Leeus geskei waar hy die hoofafrigter was.
Soos met sy rol by die Springbokke sal De Bruin se hooffokus wees om Helpies se aanvalsvermoë te verbeter. Die skool se afrigters het reeds ‘n sessie saam met De Bruin gehad en sien volgens die skool se hoof van rugby, Eugene Marais, uit na sy betrokkenheid by Helpies.
De Bruin het sy proffesionele afrigtingsloopbaan in 1996 begin toe hy die Sharks se o.21-span afgerig het. Hy het in 1998 die Wildebeeste gebrei wat in die Vodacombeker gespeel het, voordat hy homself by Griekwas (1999-2003) as hoofafrigter aangesluit het.
Dit kom na die Hoërskool Noordheuwel daarin geslaag het om die voormalige Springbok-senter Jaque Fourie as ‘n konsultant vir die seisoen te betrek. Fourie is ‘n oud-leerling van Monument in Krugersdorp. Die Nories het ook ‘n nuwe hoof van rugby in Stefan Lourens wat verlede jaar in Menlopark se afrigtingspan was, wat vir die eerste keer in die skool se geskiedenis as kampioen van die Virsekerbeker gekroon is.
Lourens is ook ‘n voormalige leerling van Monnas en het ook al die Wit Bulle saam met Hans Coetzee afgerig. Lourens oftewel Botter soos sy vriende hom noem het ook al St Andrew’s College in Grahamstad, Florida en St John’s College in Johannesburg se eerstespanne afgerig.
Fourie was ‘n belangrike lid van die Springbok-span wat in 2007 die Wêreldbeker verower het. Hy het in sy 72 toetse vir die Springbokke nie minder as 32 keer die doellyn oorgesteek. Dit is die derde meeste toetsdrieë in die geskiedenis van Bok-rugby.
Noordheuwel se gewese hoof van rugby, Rocky Truter, het ‘n pos as bemarker by Helpmekaar aan die einde van verlede jaar opgeneem. Truter sal Helpies se afrigtingskorps verder versterk. Coetzee wat ook verlede jaar by Noordheuwel betrokke was, het hom intussen by Durbanville as direkteur van rugby aangesluit. Coetzee het op sy dag ook soos De Bruin die Leeus in SupeRugby gebrei.
Dit is nie ‘n vreemde verskynsel dat oud-Bokke en senior afrigters by skole betrokke raak nie. Grey-kollege het in sy afrigtingskorps vir Helgard Muller asook Wian du Preez. Die gewese Bok-vleuel, Pieter Rossouw, is Paarl Gimnasium se hoofafrigter, terwyl Marius Joubert hom ook vanjaar by Stellenberg se afrigtingskorps aangesluit het. Joubert was verlede jaar by Durbanville betrokke.
Deon Carstens, wat die Springbokke se skrum in drie toetse geanker het, is al vir ‘n hele paar jaar by Boland Landbou se eerstespan as breier betrokke. Jake White wat Fourie se breier tydens die Wêreldbeker-toernooi van 2007 was, is vanjaar as ‘n konsultant by HTS Drostdy in Worcester aangestel. Dit terwyl die gewese Bok-agtsteman en voorspeler-afrigter van die Blou Bulle, Anton Leonard, as ‘n konsultant by Outeniqua se eerstespan betrokke is.
[powr-comments id=”1edfbc8b_1582459673405″]
