Dlodlo skitter op Kempies-byeenkoms

Written by Hannes Nienaber

IMG_9061 School of Rugby | Dlodlo skitter op Kempies-byeenkoms - School of RugbyMonument se naelloper Thando Dlodlo (o.19) het Vrydag tydens Hoërskool Kemptonpark se jaarlikse byeenkoms gesorg dat sy naam waarskynlik nog lank in die byeenkoms se rekordboeke sal pryk.

Dlodlo was verlede jaar nog vir Prestige College van Hammanskraal in aksie. Hy het die 100m vir seuns o.19 in ’n blitsige 10.20 sekondes afgeblits. Al die tye op die byeenkoms was handtye, terwyl dit ook in ag geneem moet word dat die byeenkoms op Kempies se grasbaan plaasgevind het.

Hiermee het Dlodlo die rekord (10.60) van Eckhard Rossouw van Kempies verpletter.
Dlodlo het ook in die 200m die rekord tot ‘n skitterende 21.40 sekondes verbeter. Dan het hy boonop ook in die 400m in 48.40 sekondes geseëvier.

Indien Dlodlo op die vertonings kan voortbou gaan daar nog baie vanjaar oor hom geskryf word.

Kyle Blignaut (Monument) was nou wel nie met sy beste poging van 17.60m in die gewigstoot vir seuns o.19 op sy beste nie, maar die belowende atletiekster het wel daarin geslaag om Patrick Duvenage (King Edward VII) se rekord van 17.38m wat hy verlede jaar opgestel het uit die rekordboeke te vee.

Blignaut het einde verlede jaar goud of the Afrika Suidstreek-kampioenskap (o.19) in Angola met ’n poging van 18.93m verower.

Sy skoolmaat Morné Brandon (15.44m) en die Hoërskool Nelspruit se Naas Marais (14.58m) het gesorg dat Suid-Afrika die hele podium in Angola vir die nommer volgestaan het.

IMG_9127_NR School of Rugby | Dlodlo skitter op Kempies-byeenkoms - School of RugbyBlignaut het Vrydag ook in die diskus koning gekraai toe hy die diskus 44.84m ver geslinger het.

Brandon het in Kemptonpark die rekord in die gewigstoot vir seuns o.17 tot 18.62m verbeter. Die byeenkomsrekord vir die diskus het ook in die slag gebly na Brandon met ‘n poging van 56.84m losgetrek het. Dié rekord het sedert 1991 gestaan.

Die SA Skole-kampioen in verlede jaar se 90m-hekkies vir meisies o.15, Antoinette van der Merwe (Eldoraigne), het soos verwag hakskene vir haar teenstanders op die byeenkoms gewys. Sy het die 100m-hekkies vir meisies o.16 in 14.50 sekondes gewen. Kempies se Liané van Jaarsveld (14.80) is kort na haar oor die eindstreep.

Van der Merwe het ook in die 100m (12.40) en 200m (25.40) koning gekraai. Kempies se Christelle Grobler het met ’n poging van 14.06m die gewigstoot vir meisies o.15 gewen. Die afstand sou aan haar die goue medalje op verlede jaar se SA Skole-kampioenskap besorg het.

Sy het ook met ‘n gooi van 38.15m in die diskus geen gelyke gehad nie.

Buiten die gasheer was atlete van Monument, King Edward VII, Eldoraigne, Pretoria Boys’ High, Hoërskool Wesvalia, Lowveld High en Pretoria Girls’ High op die byeenkoms in aksie.

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.