Affies maak die sluise oop op die Braam

Written by Ruben Coetzer

NewsGAffiesHelp School of Rugby | Affies maak die sluise oop op die Braam - School of RugbyDie Witbulle het vandag hard gebulk op die Braam toe hulle die gerekende Helpies erg met 52-17 gegaffel het.

Die son het besluit om sy kop uit te steek na ‘n reënige week in Johannesburg en die skare was gepak met ondersteuners van Helpmekaar Kollege en Afrikaans Hoër Seunskool.

Die wedstryd het begin met ‘n wisseling van balbesit waar die losskakels, Tiaan Botes en Terblanche van Lill, die teenstander-agterlyne se vaardigheid getoets het terwyl Tyler Skudder en Willie Potgieter die vuil werk in die losgemale vir hul spanne gedoen het.

Die Helpie-senters het geweldige druk geplaas op die Affies agterlyn wat tot ‘n onderskepdrie deur Sebastine Watney gelei het.

Botes het sy diens gedoen met die twee punte na Watney se drie, en het ‘n strafskop tussen deur die pale kort daarna geplaas om die Helpies ‘n voordeel van 10 punte te gee. Affies het geantwoord met hulle sterk voorspelers en ‘n drie vir hul loskopstut, Ruben Windell.

Affies het daarna weer twee vinnige drieë gedruk deur die spoed van Kyle Liebenberg en die insig van hul afgeronde agtsteman, George Oosthuizen. Helpies het ‘n 10-0 voordeel deur hul vingers laat glip om halftyd 21-10 in die guns van die Witbulle in te gaan.

Helpies het weer eerste bloed getrek in die tweede helfte met hul gevaarlike senters, Melbirt van der Spuy en Divan Esterhuizen, wat amok in die middelveld gemaak het. Esterhuizen het onder die pale afgerond. Affies se voorry het begin domineer in die skrums, terwyl die tuisspan se voorspelers ook die stryd in die lynstane verloor het.

Twee welverdiende drieë deur Potgieter en Kyle Liebenberg, wat vir die tweede keer oor die verf duik, het gekom van die Witbulle se toewyding op verdediging, en Affies wat nou 33-17 voor loop.

Dinge het begin uit mekaar val vir Helpmekaar en dit het gelei tot ‘n mislukking van ‘n skop wat in die hande van die giftige heelagter, Dieter Crafford, geval het.

Die verdediging het vir Crafford oopgemaak soos dié Rooi See en hy het met gemak die laaste verdediger vertrap om die lyn te kruis. Die skrumskakel, Michael van Aswegen, het kort daarna ook ‘n drie gedruk.

Helpmekaar se bankie was leeg nadat die afrigters besluit het om elke speler die geleentheid te gee om te speel. Dit was die duidelike wit vlaggie wat gewys het dat Helpies geen kans meer in die stryd staan nie.

Die Witbulle kon nog ‘n laaste drie deur hul plaasvervanger skrumskakel druk. Crafford het ‘n bydra van 17 van sy span se 52 punte gemaak terwyl die Helpies net 17 punte kon aanteken.

Die Witbulle het die Braam platgetrap en die Helpies met meer vrae as antwoorde gelos.

FOTO: William Brown

Puntemakers: 

Affies 52 (21) - Drieë: Kyle Liebenberg (2), Dieter Crafford, Michael van Aswegen, George Oosthuizen, Willie Potgieter, Ruben Windell, Johan Muller. Doelskoppe: Crafford (6). Helpmekaar 17 (10) - Drieë: Sebastian Watney, Divan Esterhuizen. Doelskop: Tiaan Botes (2). Strafdoel: Botes.

Ander spanne: 

o.16: Affies 28, Helpmekaar 7.
o.15: Helpmekaar 34, Affies 14.
o.14: Helpmekaar 41, Affies 17.

[powr-comments id="dcdff487_1554572171127"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.