Affies moes hard werk vir eerste sege oor Stellenberg

Written by Hannes Nienaber

NewsGFCPotgieter School of Rugby | Affies moes hard werk vir eerste sege oor Stellenberg - School of RugbyOndersteuners van die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria se Wit Bulle kan uitsien na die seisoen van 2019.

Ja, Affies moes bloedsweet om Stellenberg met 28-21 tydens die hoofwedstryd van die openignsdag van die Barloworld Toyota Menlyn Noord/Suid-toernooi by Garsfontein te bêre, maar die Wit Bulle het getoon dat daar vanjaar heelwat ondernemingsgees in die span is.  

Affies het rustyd 'n skrale voorsprong van 14-13 geniet danksy twee drieë deur sy losskakel, FC Potgieter. Albei drieë sou fynproewers van losskakelspel regop laat sit het. Potgieter het soos 'n wafferse Brent Russell deur Stellenberg se verdedigers gedans om albei kere regonder die pale oor te duik. 

Stellenberg se skitterende losskakel, Nivan Petersen, het laat in die tweede helfte 'n geleentheid gehad om sy span te laat voorloop. Hy het 'n strafdoel skeef gekorrel nadat Affies se buitesenter, Gerrard Botha, na 'n boorvat op sy direkte teenstander, Meyer Retief, koelkas toe gestuur is. 

Stellenberg het ook vroeg in die tweede helfte met Botha nog in die koelkas besluit om 'n maklike strafskop nie pale toe te korrel nie. Indien hierdie twee geleenthede in punte omgeskakel was, sou Stellies met 'n voorsprong van 19-14 moontlik meer druk op die Wit Bulle kon plaas. 

Petersen was op sy stukke vir Stellenberg en het agterlangs spel met sy besluitneming dikteer. Hy het ook van die lugdruk in die Jakarandastad gebruik gemaak om met 'n strafdoel van ongeveer 54 meter te slaag. Hy moes in die tweede helfte weens 'n hou op die bobeen die veld verlaat. 

Daar sal vanmore 'n hele paar seer lywe in Stellenberg se span wees. Weens Affies se fisieke aanslag voorlangs met George Oosthuizen (agtsteman), Adolph Visser (flank) en Jacques-Lois du Toit (kaptein en haker) voorlangs het daar kort-kort 'n speler van Stellies behandeling ontvang.

Affies se vleuel Bjorn van Wyk gaan vanjaar nog 'n hele paar spanne se verdediging toets. Van Wyk beskik oor hope vaar en beskik oor genoeg krag om deur verdedigers te hardloop. 

Dit was die eerste kragmeting tussen hierdie twee skole en Stellenberg het met eer uit die stryd getree. Indien daar nie te veel ernstige beserings in die Stellies-kamp na die wedstryd is nie, behoort die span vanjaar nog 'n hele paar van die tradisionele rugbyskole die skrik op die lyf te jaag. 

Stellenberg se slot Tyrone Rose verdien lof vir sy harde werk voorlangs. Hy het nie 'n tree vir die fisieke uitdaging voorlangs teruggestaan nie. Die skrumskakel, Conwill Conradie, het ook 'n goeie wedstryd beleef. Hy is die seun van die voormalige Springbok-skrumskakel, Bolla Conradie. 

Affies het vir Stellenberg teen die toue in die laaste 15 minute van die wedstryd gehad, maar kon nie die uitklophou plant nie. Die Wit Bulle se afrigters, Jaco Koch en Jan-Hendrik Hattingh, sal egter nie te bekommerd hieroor wees nie, omdat dit nog so vroeg in die seisoen is. 

Puntemakers: 

Affies 28 (14) - Drieë: FC Potgieter (2), Johan Lategan, Jacques-Lois du Toit. Doelskoppe: Dieter Crafford (4). Stellenberg 21 (13) - Drieë: Conwill Conradie, Khyro van der Westhuizen. Doelskop: Nivan Petersen. Strafdoele: Petersen (2), Meyer Retief. 

[powr-comments id="ce15e94b_1552714443898"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.