Trekkers beindruk, terwyl Fichies geskiedenis in Wesgrow-reeks maak

Written by Hannes Nienaber

NewsGVoortrekker School of Rugby | Trekkers beindruk, terwyl Fichies geskiedenis in Wesgrow-reeks maak - School of RugbyDie span wat vanjaar as kampioen van die Wesgrow-reeks gekroon wil word, sal eers vir Voortrekker van Bethlehem moet omdop. 

Die Trekkers het Saterdag 'n duidelik waarskuwing aan die ander spanne in die reeks gestuur deur Jim Fouché van Bloemfontein met 58-24 om te dop. Die wenspan het teen rustyd op sy tuisveld 'n voorsprong van 27-14 opgebou. JF het nie vir die eerste 20 minute van die wedstryd opgedaag nie en kon nooit daarna slaag om op te vang nie. 

Die Trekkers het vroeg 'n voorsprong van 24-0 opgebou. Die skrif was toe feitlik teen die muur vir JF se kanse om 'n sege in Bethlehem te behaal. Goudveld van Welkom het reeds verlede week die appelkar geskud deur die verdedigende kampioen, Diamantveld, met 21-12 uit te oorlê. 

Twee van die tuisspan se spelers Bjorn Steinhobel (haker) en Xavier Adams (vleuel) het elk drie keer 'n draai agter JF se doellyn gaan maak. Die Trekkers het tien drieë in die sege gedruk, maar kon slegs vier hiervan verdoel. 

Die Hoërskool Fichardtpark het tydens Goudveld-Hoërskool se jaarlikse sportdag 'n geskiedkundige sege oor die Hoërskool Noord-Kaap behaal. Fichies het met sy oorwinning van 15-10 vir die eerste keer ooit daarin geslaag om Northerns op die rugbyveld om te dop. 

Die wedstryd is ook deel van die Wesgrow-reeks se ligabepalings gewees. Northerns het 'n voorsprong van 10-0 opgebou en Fichies se afrigters, Dirkie Groenewald en Apiwe Dinga, sou verskoon indien hulle bekommerd op hierdie stadium van die wedstryd geraak het. 

Die span van Bloemfontein het egter hope durf getoon en teruggeveg om uiteindelik as oorwinnaars van die veld te stap. Dit was veral Fichies se verdediging wat aan die span die geskiedkundige sege besorg het. Veral agterlangs moes die wenspan bontstaan om Northerns se haastige agterspelers hok te slaan. 

Vir Fichies het sy senterpaar, Reno Kok en Reagan Maartens, asook die vleuel Christiaan Jonker blink vertonings gelewer. Voorlangs het die vaskopstut, Janco van Zyl, op sy goeie vertoning van die vorige week teen Rooiskool voortgebou. 

Voorlangs het die kaptein en flank, Nicolas du Buisson, goed vertoon. Hy is later na haker geskuif, Die vleuel Pieter Barnard wat weens 'n ligte verkoue teen die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad gerus is, het warm gelyk voordat hy die veld weens harsingskudding moes verlaat. 

Fichies kom volgende week teen Hentie Cilliers op sy tuisveld tydens die Twizza-week te staan. Hy sal die daaropvolgende Maandag ook teen Hans Moore van Benoni sake uitspook. 

Puntemakers: 

Voortrekker 58 (27) - Drieë: Bjorn Steinhobel (3), Xavier Adams (3), Steyl Barnard, Robin Fredericks, Sakkie Pretorius, Janco Volschenk. Doelskoppe: Jan du Toit (4). Jim Fouché 24 (14) - Drieë: Revaldo Maurice (2), KB Mashale, Mamello Moshoaliba. Doelskoppe: Michael Erasmus (2). 

Fichardtpark 15 (5) - Drieë: JJ Coetzer, JT van der Walt, Reagan Maartens. Noord-Kaap 10 (10) - Drieë: Johan Oberholster, Devanito Vergottini. 

Ander spanne: 

o.16: Voortrekker 61, Jim Fouché 0; Noord-Kaap 22, Fichardtpark 10.

o.15: Jim Fouché 31, Voortrekker 22; Fichardtpark 30, Noord-Kaap 12. 

o.14: Voortrekker 29, Jim Fouché 5; Noord-Kaap 19, Fichardtpark 14.

FOTO: Willie Kruger Fotografie

Daar kan weer na die volgende wedstryde op DigiTV.co.za gekyk word:  

o.15 Voortrekker vs Jim Fouché https://digitv.co.za/#/video/7844/Vod 
o.14 Voortrekker vs Jim Fouché https://digitv.co.za/#/video/7843/Vod

[powr-comments id="0c3b6e85_1552237375183"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.