SPS en Grey-kollege behou goeie rekord op Page-park in Brandfort

Written by Hannes Nienaber

Brandfort School of Rugby | SPS en Grey-kollege behou goeie rekord op Page-park in Brandfort - School of RugbyDie Hoërskool Staatspresident Swart het op sy goeie vertoningslys op sy jaarlikse Pieter Swanepoel Sportdag Saterdag op Page-park in Brandfort voortgebou. Die span van Brandfort het die Hoërskool Parys tydens die hoofwedstryd van die 20ste Pieter Swanepoel Sportdag met 19-7 die loef afgesteek. 

Die kragmeting is agt minute vroeg gestop weens swaar donderweer. Die wedstryd is in moeilike weersomstandighede beslis met die reën wat albei spanne se hantering bemoeilik het. Vir die gasheer het sy slot Louis Peens en skrumskakel, Scott Olivier, blink vertonings gelewer. Peens is vir sy goeie spel met twee drieë beloon. 

Grey-kollege het gewys waarom Page-park sy gunsteling veld is buiten sy tuisveld. Die span van Bloemfontein het Welkom Gimnasium met 29-0 die loef afgesteek. 

Grey se linkervleuel, Franco Knoetze, het 'n driekuns aan drieë in die oorwinning behaal. Grey het in sy drie wedstryde tot dusver op Page-park nog nie 'n enkele punt afgestaan nie. Hy het in sy vorige twee wedstryde op die jaarlikse sportdag vir Fichardtpark (106-0) en Goudveld-Hoërskool (111-0) behoorlik afgeslag. 

Grey se naasbestes, die Cherries, het ook 'n goeie dag op kantoor beleef deur Hentie Cilliers van Virginia se naasbestes met 56-7 af te stof. Die span se heelagter, Joubert Schoeman, het dubbelle driedruk-plesier ervaar. 

Bothaville het in die tweede helfte van sy wedstryd 'n insinking beleef om uiteindelik met 17-31 die knie teen Aliwal-Noord te buig. Die twee spanne het met die telling op 12-elk gaan rus. 

Bultfontein se binnesenter, Stephan van Jaarsveld, het geskitter in sy span se oortuigende oorwinning van 57-7 oor President Steyn. Van Jaarsveld het nie net 'n driekuns aan drieë behaal nie, maar ook sewe van sy span se drieë verdoel en ook 'n strafdoel oorgeklits. Hy het dus 32 punte tot sy span se totaal bygedra. 

Hoewel die span van Bultfontein die potensiaal van 2015 span van die skool toon lê daar nog baie skaafwerk oor voor hulle in dieselfde asem genoem kan word. 

Sand du Plessis het verlore eer herwin na hy sy rieme behoorlik teen Riebeeckstad styf geloop het tydens die Fichardtpark Sportdag. Sannies het oor te veel skietgoed vir Theunissen beskik en met 31-7 as oorwinnaars van die veld gestap. 

Die skrumskakel, Shane Nienaber, was sy span se groot staatmaker in die sege oor Theunissen. 

Puntemakers: 

Staatspresident Swart 19 - Drieë: Louis Peens (2), Frans Lessing. Doelskoppe: Scott Olivier (2). Hoërskool Parys 7

Grey-kollege 29 - Drieë: Franco Knoetze (3), Lesley Botha, Sonwabo Sokoyi. Doelskoppe: Juan-Dee Olivier (2). Welkom Gimnasium 0

Louis Botha 33 - Drieë: Francois Boonzaaier (2), Tsepo Ketsise, Nhlanhla Senoamadi, Olesego Madliwa. Doelskoppe: Jose Stewart (4). Hangklip 7

Bothaville 17 (12) - Drieë: FC Krugell, Tumi Vena, SD van Heerden. Doelskop: Vena. Aliwal-Noord 31 (12).

Bultfontein 57 - Drieë: Stephan van Jaarsveld (3), Marnus Vorster, Henco Opperman, Lebu Marotholi, Janco Pienaar, Reghard van der Merwe. Doelskoppe: Van Jaarsveld (7). Strafdoel: Van Jaarsveld. President Steyn 7

Sand du Plessis 31 - Drieë: Kobus Dorfling (2), Shane Nienaber, Nathan Labushagne, Henré Nel. Doelskoppe: Tommie Bloem (3). Theunissen 7

Cherries 56 - Drieë: Joubert Schoeman (2), Connie Campher, Katleho Chabanyane, Marcell Muller, Amandio Cavalerio, Joseph Kemp, Pascal Ekeji. Doelskoppe: FC du Plessis (7), Tiaan Fourie. Hentie Cilliers 7

Ander tellings: 

Hoërskool Bloemfontein 12, Marquard 7.

[powr-comments id="096443e8_1552232958745"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.