Le Maitre beëindig Liggies onoorwonne rekord in laaste 20 PUK-Prestige wedstryde

Written by Hannes Nienaber

NewsGMiddelburg School of Rugby | Le Maitre beëindig Liggies onoorwonne rekord in laaste 20 PUK-Prestige wedstryde - School of RugbyRehan le Maitre, losskakel van Marais Viljoen, het danksy 'n verdoelde drie die Hoërskool Lichtenburg sy eerste nederlaag sedert 2015 in die NWU-Pukke Prestige-reeks toegedien. 

Marais Viljoen het op sy tuisveld naelskraaps met 14-13 oor die Liggies geseëvier na Le Maitre in die doodsnikke die doellyn oorgesteek asook sy eie drie verdoel het om aan sy span die sege te besorg. 

Die verdedigende kampioen, Lichtenburg, se afrigter Michael Bondesio sal nie te gemaklik slaap voor sy span se laaste groepwedstryd teen die nuwelinge in die reeks, Heidelberg Volkskool nie. 

Liggies sal na Heidelberg vir die kragmeting op 6 April moet reis. Heidelberg Volkskool is nou wel die nuweling in die reeks, maar het sover sy gewig behoorlik rondgegooi.

Die Volkies het Marais Viljoen (37-19) en Hugenote van Springs (48-19) in sy twee groepwedstryde tot dusver verslaan. Die span van Heidelberg kan reeds in April met 'n oorwinning Lichtenburg se hoop om vir die vierde agtereenvolgende jaar as kampioen gekroon te word in die wiele ry. 

Volkies se losskakel, Ethan Baird, en binnesenter, Frederick Malgas, het blink vertonings in hul span se oorwinning Saterdag oor Hugenote opgedis. Voorlangs het die agtsteman, Evan Jordaan, op sy goeie vertonings tot dusver vanjaar voortgebou. 

Verlede jaar se naaswenner, die Hoërskool Middelburg, se aanslag op vanjaar se titel is nog op koers. Hy het Randburg met 45-35 in 'n opwindende wedstryd verslaan. 

Middies se woelige loskopstut, Sipho Nzotho, het Randburg in die skrums opgekeil en ook in die los gewoel. Hy is vir sy uithalerspel met twee drieë beloon. 

Noordheuwel se slot Sergio Moreira was aan die spits van sy sege van 38-12 oor Oosterlig. Die Nories is ook 'n sterk aanspraakmaker om vir hulself 'n plek in die eindstryd van die reeks oop te speel. 

Wesvalia se Bruin Bere het oor te veel skietgoed vir die besoekende Zwartkop van Pretoria beskik. Die span se buitesenter, Ruan Els, het drie keer 'n draai agter die doellyn gegooi. Die tuisspan se beste speler was egter sy skrumskakel, Rheeder Martins

Martins het Zwartkop se verdedigers om die losskrums en losgemale met sy skerp breekslae besig gehou. Hy het ook takties goed van agter die oond geskop. Hy is vir sy skitterende breekslae met twee drieë beloon. Hy het ook 'n hele paar keer op die kruisverdediging sy span van 'n paar punte gered. 

Jeugland van Kempton Park spog ook steeds met onoorwonne status in die reeks na 'n merkwaardige sege van 31-24 oor Montana. Die wenspan se slot Joshua Bornman en flank Darren van Wyk het albei uitmuntend vertoon. 

Montana se nederlaag van 10-15 teen HTS Drostdy Dinsdag tydens die Afgri Prestige Rugbydag het waarskynlik meer uit die span geneem as wat hy vooraf verwag het. 

Puntemakers: 

Marais Viljoen 14 (7) - Drieë: Renaldo Turner, Rehan le Maitre. Doelskoppe: Le Maitre (2). Lichtenburg 13 (8) - Drieë: Wimpie Venter (2). Strafdoel: Francois Swanepoel. 

Hoërskool Middelburg 45 - Drieë: Sipho Nzotho (2), Lance Mayisela (2), Rowane Skosana, Jan Joubert, Frik Lange. Doelskoppe: Ricardo Schonfeldt (5). Hoërskool Randburg 35

Noordheuwel 38 (19) - Drieë: Sergio Moerat (2), Boela Vermaak, Bradley Engelbrecht, Maurice Marks, Levandre Horne. Doelskoppe: Horne (6). Oosterlig 12 (3) - Strafdoele: Sheldon Coetzee (3), Juan Zevenster.

Potchefstroom Volkskool 27 - Drieë: Andriaan Taute, Wikus Marais, Dion Bezuidenhout, Brian Bennet, Janco Joubert. Doelskop: Muller Steenkamp. HTS Witbank 17 - Drieë: Inus Truter, Sipho Nkosi, Zander Marx. Doelskop: Franco Horn.  

Heidelberg Volkskool 48 - Drieë: Henco Storm (2), Frederick Malgas, Fredrich Barnard, Gideon Lubbe, Wessel de Wet, Ulrich Viljoen. Doelskoppe: Jeandré Muller (5). Strafdoel: Muller. Hugenote (Springs) 19 - Drieë: Eddie Evans, Adriaan Bezuidenhout, JP van Vuuren. Doelskoppe: Jared Viljoen (2), Xander Vorster.

Wesvalia 43 - Drieë: Ruan Els (3), Rheeder Martins (2), Matthew Nebe, Jason Nel. Doelskoppe: Brendon de Bruyn (4). Zwartkop 17 - Drieë: Keanu Coetzee, Dieter Groenewald, Driek Grobler. Doelskop: Damian Rabie. 

Jeugland 31 - Drieë: Heinie Flooks, Darren van Wyk, Christo van Staden, Donovan van Staden, GP Bezuidenhout. Doelskoppe: Chris du Plessis (3). Montana 24 - Drieë: Joe Adlem, Jacques le Roux, Niekie Pretorius, Jooste Nel. Doelskoppe: Rust Niemann, Nel.

Die Anker 34 - Drieë: Brandon O'Neill (2), Christian Janse van Rensburg, Brandon Smith. Doelskoppe: Jacques Blignaut (4). Strafdoele: Corné Mulder, Blignaut. Potchefstroom Gimnasium 38.

Ander spanne: 

o.16: Marais Viljoen 47, Lichtenburg 35; Zwartkop 49, Wesvalia 0; Middelburg 46, Randburg 0; Noordheuwel 53, Oosterlig 0; Potch Volkies 27, HTS Witbank 5; Heidelberg Volkies 59, Hugenote 7; Montana 39, Jeugland 0; Die Anker 7, Potch Gimmies 5. 

o.15: Marais Viljoen 31, Lichtenburg 5; Zwartkop 10, Wesvalia 0; Middelburg 35, Randburg 0; Noordheuwel 33, Oosterlig 3; Potch Volkies 12, HTS Witbank 0; Heidelberg Volkies 34, Hugenote 10; Montana 52, Jeugland 0; Potch Gimmies 5, Die Anker 5.

o.14: Marais Viljoen 34, Lichtenburg 0; Wesvalia 15, Zwartkop 0, Middelburg 50, Randburg 5; Noordheuwel 54, Oosterlig 7; Potch Volkies 19, HTS Witbank 12; Heidelberg Volkies 21, Hugenote 14; Montana 39, Jeugland 0; Die Anker 19, Potch Gimmies 5.

[powr-comments id="172f3a39_1552206717663"]

X

Function disabled

Right click disabled - please refresh page to continue.