Grey en Affies skop Wildeklawer met skitter-seges af

Written by Hannes Nienaber

NewsGZanderduPlessis School of Rugby | Grey en Affies skop Wildeklawer met skitter-seges af - School of RugbyGrey-kollege het sonder te veel rukke en stote daarin geslaag om HTS Drostdy met 47-5 in die openingswedstryd van die tiende Wildeklawer-toernooi in Kimberley af te stof.

Grey se loskopstut, Jan-Hendrik Wessels, het twee keer in die eerste helfte oor die doellyn gebars om aan sy span ‘n voorsprong van 21-5 teen lemoentyd te gee.

Die Donkies het hulle rekening kort na Wessels se eerste drie geopen toe sy buitesenter, Christie Grobbelaar, deur ‘n gaping geglip het en sy heelagter, Cohen Jasper, oorgestuur het.

Grey se twee losvoorspelers Werner Gouws en De Wet Marais het daarna al hoe meer in die wedstryd gekom. Die twee het behoorlik in die los gewoel en elke keer ‘n hele paar spelers van Drostdy besig gehou.

Dit was ‘n aanskoulike wedstryd met die Donkies wat ook voetbal wou speel. Vir die Donkies het Jasper deurgans goed op die aanval gevaar.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria het met sy beste vertoning tot dusver vanjaar vorendag gekom om Boland Landbou met 38-14 die loef af te steek.

Affies het lus gelyk om te speel en dit was veral sy buitesenter, Stephin Alberts, en heelagter, Dieter Crafford, wat agterlangs op die aanval deurgans gevaarlik gelyk het.

Die Wit Bulle se losskakel, Regardt Roets, het ook met sy taktiese skopwerk ‘n sleutelrol in sy span se oorwinning gespeel. Voorlangs het die haker, Janco Uys, en losvoorspeler George Oosthuizen ook uitgeblink.

Boland Landbou se heelagter, Darren Hendricks, het elke keer wat hy die bal in die hand gekry het gevaarlik gelyk. Hy het ‘n hele paar verdedigers met sy vinnige voete na lug laat gryp.

Puntemakers:

Grey-kollege 47 (21) – Drie: Jan-Hendrik Wessels (2), Werner Gouws (2), Lesley Botha, De Wet Marais, Zander du Plessis. Doelskoppe: Zander du Plessis (6). HTS Drostdy 5 (5) – Drie: Cohen Jasper.

Affies 38 (19) – Drieë: Dieter Crafford, Dewald Donald, Janco Uys, George Oosthuizen, Stephin Alberts, Jason Scheepers. Doelskoppe: Regardt Roets (4). Boland Landbou 14 (14) – Drieë: Bertus Baard, Sebastian de Klerk. Doelskoppe: Gavin Mills (2).

X

Right Click

No right click