Fisieke stryd tussen Monnas en Boland Landbou wag

Written by Hannes Nienaber

NoordSuid School of Rugby | Fisieke stryd tussen Monnas en Boland Landbou wag - School of RugbyDaar is nie veel skolestryde wat meer fisiek is as ‘n kragmeting tussen Monument van Krugersdorp en Boland Landbou nie.

Die twee spanne sê mekaar vandag die stryd aan op die eerste dag van Barloworld se Noord/Suid-toernooi op Menlopark in Pretoria se hoofveld. Dié wedstryd beloof om die hoogtepunt van die eerste dag van die rugbyfees te wees.

Monnnas was reeds in twee wedstryd in aksie. Die Wit Bulle van Krugersdorp het gelykop teen Transvalia (31-elk) gespeel en die Hoërskool Pietersburg (73-3) behoorlik afgestof.

Boland Landbou was vanjaar nog net een keer in aksie teen die Hoërskool Garsfontein en moes toe die knie 20-24 buig. Die span van die Agter-Paarl het wel tydens die Blou Bulle se Prestige-dag vir Menlopark met 45-10 slae gegee.

Monnas se kaptein en haker, Morné Brandon, sal fyn deur Boland Landbou dopgehou moet word. Brandon het verlede jaar die SA Skole-span verteenwoordig. Hy is ‘n uitmuntende baldraer, maar sal aandag aan sy ingooiwerk moet gee indien hy vanjaar weer die nasionale skolespan wil haal.

Boland Landbou se binnesenter Erik Lambrecht asook die losskakel, Darren Hendricks, is sy vernaamste aanvalswapens.
Boland Landbou was die laaste keer wat die tween spanne ontmoet het, met 24-22 tydens die Wildeklawer-toernooi van 2017 baas. In 2015 het Monnas met 22-20 as oorwinnaars van die veld gestap.

In die hoofwedstryd van die eerste dag sal die gasheer, Menlopark, vir Stellenberg pak. Menlopark is nog onoorwonne vanjaar, maar moes hard werk om Hoërskool Rustenburg (32-28) en Hoërskool Nelspruit (17-14) die loef af te steek. Die span van die Jakarandastad het wel Saterdag vir Eldoraigne met 74-5 verneder.

Waterkloof kom teen die nuweling, Durbanville, in die eerste wedstryd tussen eerstespanne op die fees te staan. Durbanville het vanjaar teen Paarl Gimnasium met 0-38 in die stof gebyt. Klofies het ook nog nie op alle silinders gevuur nie.

Paarl Gimnasium behoort oor te veel skietgoed vir EG Jansen van Boksburg te beskik, maar moet nie verwag dat die Jansies net die stryd gewonne sal gee nie.

Die Garsie Bere het sy eerste nederlaag van die seisoen verlede week teen Transvalia (31-48) op die lyf geloop. Die Bere sal teen die Kwaggas van Outeniqua uitdraf. Dit sal die Kwaggas se eerste wedstryd van 2018 wees.

Garsfontein se tweedespan, die Grizzlies, spog met ‘n onoorwonne rekord sedert 2016 en kom vanmore teen Outeniqua se naasbestes te staan.

Die bepalings is:

07:40 – Waterkloof II vs Durbanville II; 08:50 – Garsfontein II vs Outeniqua II; 10:00 – EG Jansen II vs Paarl Gimnasium II; 11:10 – Monument II vs Zwartkop II; 12:20 – Menlopark II vs Stellenberg II; 13:30 – Waterkloof vs Durbanville; 15:00 –Garsfontein vs Outeniqua; 16:30 – EG Jansen vs Paarl Gimnasium; 18:00 – Monument vs Boland Landbou; 19: 30 – Menlopark vs Stellenberg.

X

Right Click

No right click