Share

NewsGHencoMartinsPaarl Gimnasium se skitterende agtsteman, Henco Martins, is gisteraand op 'n spoggeleentheid in die Cape Sun-hotel tydens WP Rugby se jaarlikse prysuitdeling as die Westelike Provinsie se Skolespeler van die Jaar vereer.  

Martins is aanvanklik uit die Streeptruie se Cravenweek-span weggelaat, maar is kort voor die toernooi nadergetrek toe die Hoër Jongenskool Paarl se kaptein en agtsteman, Francke Horn, hom weens siekte aan die toernooi in Johannesburg moes onttrek. Martins het nie net Horn se tokse gevul nie, maar die nasionale keurders so beïndruk dat hy in die Suid-Afrikaanse Skole-span ingesluit is. 

Martins was vuurwarm aan die begin van die seisoen en was 'n lid van die Suid-Afrikaanse Skole-sewesspan wat as kampioen van die Capricorn Group-toernooi in Namibië gekroon is. Die haastige agtsteman het sy derde driekuns van die seisoen vir Gimmies in slegs sy span se vierde wedstryd van die seisoen teen EG Jansen van Boksburg tydens die Noord/Suid-toernooi in Pretoria gedruk. 

Martins het driekuns in sy skoolspan se wedstryde teen Stellenberg, Garsfontein en EG Jansen behaal. Hy het in totaal 17 drieë vir sy skoolspan gedurende 2017 gedruk. 

Nog 'n oud-Bloedwors Ernst van Rhyn is as die Streeptruie se Voorspeler van die Jaar (o.21) aangewys. Tiaan Swanepoel wat aan Stellenberg gematrikuleer het, is as die o.21-span se Agterspeler van die Jaar vereer. 

Twee oud-leerlinge van Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch Ben-Jason Dixon en Lyle Hendricks het onderskeidelik met die toekennings as Voor- en Agterspeler van die Jaar by die o.19's weggestap. 

You have no rights to post comments