Share

WildeklawerDaar sal in 2018 ‘n paar Donkies op die tiende Wildeklawer-toernooi in Kimberley losgelaat word.

HTS Drostdy van Worcester is die enigste nuweling vir volgende jaar se toernooi. Die deelnemende spanne vir die tiende uitgawe van die toernooi deur Wildeklawer se eienaar, Louis de Kock, op Toks-en-Tjops bekend gemaak.

Drie spanne, HTS Middelburg, Welkom Gimnasium en Garsfontein, is hulle plekke kwyt. Buiten HTS Drostdy sal Menlopark en ‘n Saru Uitnodiging-span ook na die toernooi van 2018 genooi word. Welkom Gimnasium het voorheen al as die Saru Uitnodigingspan aan die toernooi deelgeneem en kan dalk só weer by die agterdeur inglip.

HTS Drostdy het vanjaar goeie seges oor onder andere Oakdale Landbou (24-13), Bishops (32-26), Diamantveld (37-28) en Dale College (26-25) behaal.

Feitlik al die land se voorste eerste rugbyspanne sal weer volgende jaar op die Hoërskool Diamantveld se velde in die Diamantstad in aksie wees. Die toernooi het hom in nege jaar as die voorste skolerugby-toernooi in Suid-Afrika gevestig. Dié toernooi het selfs belangriker as die Cravenweek vir agente en werwers van die onderskeie unies geword.

Die Hoër Jongenskool Paarl vier volgende jaar sy 150ste bestaansjaar. Paarl Boishaai is die afgelope drie jaar Suid-Afrika se voorste skolespan en spog met 50 agtereenvolgende seges in Suid-Afrika.

Skole soos SACS, King Edward VII, St Andrew’s College van Grahamstad en Grey High School is glo ook genooi, maar het ongelukkig reeds hulle deelname aan ander toernooie in dieselfde tydvleug bevestig.

Die spanne wat volgende jaar aan die toernooi sal deelneem is:

Affies, Boland Landbou, Grey-kollege, Paarl Gimnasium, Hoër Jongenskool Paarl, Outeniqua, Paul Roos Gimnasium, Monument, EG Jansen, Oakdale Landbou, Selborne College, Glenwood, Menlopark, Waterkloof, Helpmekaar, Diamantveld, Noord-Kaap, Stellenberg, HTS Drostdy, Saru Uitnodigingspan.

You have no rights to post comments