Share

NewsGFreeStateu17Die gasheer van vanjaar se o.17 interprovinsiale sewes-rugbytoernooi, Griekwaland-Wes, is in die “Groep van die dood” geloot wat more op Tafel Lager-park in Kimberley afskop.

Die Poubloues is saam met die Blou Bulle, Westelike Provinsie en die Pumas in Groep B geloot. WP is al twee keer as kampioen van die toernooi (2014 en 2015) gekroon, terwyl die Blou Bulle in 2011 as eerste kampioen van die toernooi gekroon was.

Die Pumas is gewoontlik ‘n gedugte span met Blitsbokke soos Kwagga Smith (HTS Middelburg) en Werner Kok (Hoërskool Nelspruit) wat hul eerste rugbytreë vanuit die Puma-geledere gegee het.

Gepraat van Kwagga Smith – sy oom die voormalige Suidoos Transvaal losvoorspeler, Torros Pretorius se seun Tiaan sal vir die Streeptruie in die Diamantstad in aksie wees. Tiaan Pretorius is onlangs na afloop van die Marius Schoeman Sewestoernooi in Paarl as die Speler van die Toernooi aangewys.

Hy behoort saam met Sebastian de Klerk (Boland Landbou) en Dawid Kellerman (Paarl Gimnasium) onder hul span se sleutelspelers te tel.

Die Ligbloues het die haastige hekkiesloper Julian Bogner van Waterkloof in sy span ingesluit. Jurich Claassens (Garsfontein) en Shayne Bolton (Eldoraigne) is ook spelers van die Bulle wat dopgehou moet word.

Die Ligbloues word ook deur die voormalige Blitsbok, Fielies Coetzee (Zwartkop), gebrei.

Die verdedigende kampioen, Vrystaat, is saam met die Valke, Grens en Suidwestelike Distrikte in Groep A geloot. Die Vrystaat het verlede jaar die Blou Bulle met 35-12 in die eindstryd oorrompel.

Die Vrystaters se Richard Kriel en Wyclef Vlitoor (albei Grey) kan sleutelspelers wees. Die Valke kan egter ook nie ligtelik opgeneem word nie met Transvalia wat slegs in die eindstryd van die Noordvaal Sewestoernooi teen Monument vasgeval het.

Die Groepe is:

Groep A: Vrystaat, Valke, Grens, Suidwestelike Distrikte.
Groep B: Blou Bulle, Westelike Provinsie, Pumas, Griekwas.
Groep C: Boland, Griffons, Luiperds, Limpopo Blou Bulle.
Groep D: KwaZulu-Natal, Goue Leeus, Oostelike Provinsie, Zimbabwe.

Die bepalings:

Tafel Lager-park – 09:00: Vrystaat vs SWD; 09:30: Valke vs Grens; 10:00: Boland vs Limpopo Blou Bulle; 10:30: Griffons vs Luiperds; 11:00: Blou Bulle vs Pumas; 11:30: Westelike Provinsie vs Griekwas; 12:00: KwaZulu-Natal vs Zimbabwe; 12:30: Goue Leeus vs Oostelike Provinsie; 13:00: Vrystaat vs Valke; 13:30: Blou Bulle vs Westelike Provinsie; 14:00: Boland vs Griffons; 14:30: Goue Leeus vs KwaZulu-Natal.

Tafel Lager B-veld – 08:30: Blou Bulle vs Griekwas; 09:00: Westelike Provinsie vs Pumas; 09:30: KwaZulu-Natal vs Oostelike Provinsie; 10:30: Goue Leeus vs Zimbabwe; 11:00: Vrystaat vs Grens; 11:30: Valke vs SWD; 12:00: Boland vs Luiperds; 12:30: Griffons vs Limpopo Blou Bulle; 13:00: Grens vs SWD; 13:30: Pumas vs Griekwas; 14:00: Luiperds vs Limpopo Blou Bulle; 14:30: Oostelike Provinsie vs Zimbabwe.

You have no rights to post comments